Slyp jou skryfvernuf op VS Kunstefees

Besoekers aan die Vrystaat Kunstefees kry vanjaar vir die eerste keer die kans om ’n oggendlange slypskool van die ATKV-Skryfskool by te woon. Hierdie slypskool, wat op Donderdag 13 Julie plaasvind, word aangebied deur die skrywer en voormalige hoof van die ATKV-Skryfskool aan die Noordwes Universiteit, Hans du Plessis.
Du Plessis, stigtersdirekteur van die ATKV-Skryfskool, het 21 jaar lank gehelp om verskeie gepubliseerde skrywers – soos Chanette Paul, Irma Joubert, Jaco Jacobs, Annelie Botes en Carina Stander – se skryftalent te ontgin en te ontwikkel.
As jy dus nog altyd wou skryf, en gewonder het hoe om die storie wat in jou kop bly maal op papier te kry, of hoe die skryfproses werk, is hierdie slypskool vir jou. As skrywer van talle gewilde romans, verhoogstukke, digbundels en rubrieke is Du Plessis beslis die regte kenner om te verduidelik watter boustene noodsaaklik is om ’n geslaagde verhaal te skep en jou kanse op publikasie te verbeter.
Die verhaalslypskool vind van 09:00 tot 13:00 op Donderdag 13 Julie plaas in die H. van der Merwe Scholtz-saal op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein. Gebruik gerus dié kans om ’n draai by die kunstefees te maak en terselfdertyd in jou eie skryfdrome te belê. Die inskrywingsfooi beloop slegs R200.
Koop jou kaartjie voor of op 10 Julie 2023 by Webtickets. Vir verdere inligting, kontak Ronel Grundlingh by ronelg@atkv.org.za.