Snaakse teaterproduksie skep positiwiteit en samesyn

Wanneer laas was jy by ’n teaterproduksie? Wanneer laas het jy uit jou buik uit gelag of ’n traan vir ’n roerende toneelstuk wat voor jou oë afspeel gepink?
Die pandemie het die wêreld op sy kop gedraai en die kunste is die hardste getref. Vir maande lank kon ons nie saam met ander teaterliefhebbers in ’n lokaal sit en ’n produksie kyk nie.
Nou dat maatreëls verslap is, begin die lewe weer na normaal terugkeer en die ATKV speel ’n kardinale rol om seker te maak dat die kunste voortleef.
Die Kunstetrust en die ATKV, het besluit om met die skreeusnaakse teaterproduksie, Sjarrap en eet jou kos, na ATKV-takke en dorpe in die Vrystaat, Noord-Kaap en Oos-Kaap te neem.
“Dit gee die geleentheid om ʼn lekker projek te doen en mense se aandag vir ʼn wyle af te trek van al die probleme wat steeds om ons heers.
“Dit gee kunstenaars weer ʼn platform om te kan optree nadat hulle een van die bedrywe was wat die swaarste deur die pandemie getref is.
“Mense is uitgehonger vir die kunste en om weer saam met vriende en familie waardevolle interaksie te kan geniet,” sê Andriette Potgieter, streeksbestuurder.
Sjarrap en eet jou kos is die Vrystaatse skrywer en aktrise, Ilné Fourie, se komiese eenmanproduksie.
In die produksie betree teatergangers die gedagtewêreld van ’n kelnerin, om te hoor wat ’n kelnerin graag restaurantgangers sou wou toesnou as hulle oor nietighede kla of absurde vrae vra.
“Hierdie tipe projekte is juis nodig om positiwiteit, saamkuier, samesyn en normaliteit te begin skep, en die emosionele impak en stresladings 'n bietjie vir ʼn oomblik te verlig.
“Ons het nodig om goed te doen wat die lewe die moeite werd maak om te leef, en hierdie spesifieke produksie bring ʼn bietjie humor wat ons so broodnodig het,” sê Andriette.