SOF Junior: ATKV inspireer jongklomp
Die Suidoosterfees (SOF) se kinderfees, SOF Junior, was van 5 tot 8 Mei vir die tweede maal in Kaapstad aangebied. Meer as 8 000 leerders en onderwysers het hierdie geleentheid bygewoon.
Die ATKV het vanjaar vir die eerste maal by dié kinderfees betrokke geraak, nadat Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur van die ATKV, dit verlede jaar bygewoon het.
Hy vertel: “SOF Junior het ’n groot indruk op my gemaak en ek kon onmiddellik die primêre doelstellings van hierdie program belyn met die ATKV se opleidings- en ontwikkelingsstrategie.”
Jana Hattingh, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees, sê met die sterk mandaat vir ontwikkeling waarmee die fees in die lewe geroep is, fokus hulle kinder- en jeugfees spesifiek op laer- en hoërskoolleerders.
“In 2024, met die Suidoosterfees se mondigwording, was die tyd ryp om ons aanbod uit te brei ten bate van jong feesgangers en onderwysers wat verryking, hulp en ondersteuning nodig het. Die belangstelling en ondersteuning vir die idee was so omvangryk dat ons dit as ’n verlenging van die hooffees aangebied het.”
Hoogtepunte op die vierdag-fees was onder meer “Skouerskuur met ons skrywers” vir opvoeders, ouers, bibliotekarisse en alle boekliefhebbers, waar bekende skrywers soos Antjie Krog, Heléne Booyens, Martin Steyn en Jacolet van den Berg hul gedagtes in boekgesprekke gedeel het.
Daar was ook verskeie toneelstukke vir die jongklomp as deel van die Storierak-afdeling met stukke soos Woordedief vir leerders in die grondslagfase, en Om teen treine te skree vir hoërskoolleerders.
Optreekuns-uitvoerings by die fees het fisieke teater, mimiek, klankontwerp en visuele elemente gekombineer om kommentaar te lewer op die samelewing se fatale afhanklikheid van weggooiplastiek. Dit het die aandag op die dringende noodsaak vir verandering gevestig en die jong feesgangers én volwassenes aangespoor om hul gewoontes met plastiek aan te pas.
Die ATKV was ’n oorhoofse borg en ondersteuner van SOF Junior. Gerrie verduidelik: “Die ATKV heg groot waarde aan vennote wat tot Afrikaans se voordeel dink, belê, werk en droom. Daarom het ons hande geneem met Penguin Random House SA, LAPA, NB-uitgewers, die AON (Afrikaanse Onderwysnetwerk) en die Wes-Kaapse onderwysdepartement.”
Gerrie sê kultuur en die kunste is fundamenteel tot ons bestaan.
“Dit verryk en inspireer ons, dit bevorder kreatiwiteit en verenig gemeenskappe. SOF Junior het beslis die voordele wat musiek, teater, kunswerke en lees inhou, beklemtoon. Die kunste verbeter individuele welsyn en versterk akademiese prestasie onder jongmense. Daarom is dit vir die ATKV kernbelangrik om inisiatiewe soos dié te ondersteun.”
Hy sê die reaksie en terugvoer van onderwysers en leerders is oorweldigend. Belangstelling in kuns- en kultuurprojekte is geprikkel, wat verseker gaan uitloop op deelname aan al die ATKV se taal- en kultuurprojekte.
Jana sê wat die ATKV as kultuurorganisasie in Suid-Afrika regkry, is ongelooflik.
“Die manier waarop hulle deur hul inisiatiewe op grondvlak ’n wesenlike verskil in die lewens van mense maak op onderwys- en kultuurgebied, behoort as bloudruk te dien vir alle inisiatiewe om Afrikaans te bevorder.”
Sy sê by die SOF Junior het die ATKV nogmaals deure vir derduisende jong feesgangers oopgemaak en hulle blootgestel aan die wonderwêreld van lees, boeke, kuns en teater.
“Die rente wat ons as gemeenskap gaan trek op die impak van die organisasie se aktiwiteite – nie net by Suidoosterfees nie, maar regoor die land – gaan ons nog vir geslagte lank ryk maak.”
Gerrie vertel die ATKV se jeugprojekte is tans in volle swang. Dié projekte bied ’n wye verskeidenheid kunsvorme waaraan jongmense kan deelneem. Besoek gerus die ATKV se webblad by www.atkv.org.za vir meer inligting.
Foto's: AB Jantjies, Gys Loubser