Spandaukop-tak verander drome in doelwitte

As ’n mens klein kinders vra wat hulle eendag wil word, is die antwoord dikwels ’n juffrou, polisieman of brandweerman. Maar soos kinders grootword en aan die wêreld met al sy moontlikhede en uitdagings blootgestel word, is hulle nie meer so seker watter beroepe hulle wil volg nie.
Dit is juis waarom die ATKV-tak Spandaukop op Graaff-Reinet in die Oos-Kaap onlangs ’n beroepsaand gehou het. Hulle wou vir kinders wys dat daar baie moontlikhede bestaan en dat daar vir elkeen ’n plek is waar hy of sy kan inpas.
Die beroepsaand is op 21 Augustus 2025 by die Hoër Volkskool op die dorp gehou. Die tak se eerste beroepsaand is vier jaar gelede aangebied. Dit was so ’n sukses dat dit nou op versoek van die skole ’n jaarlikse instelling geword het, vertel Archie Cronjé, voorsitter van hierdie bedrywige tak.
Archie sê die beroepsaand was vanjaar weereens ’n sukses en dit word jaarliks deur gemiddeld 80 leerders bygewoon. Dit word ook deur ouers en onderwysers bygewoon.
“Leerders van graad 9 tot matriek kan dit bywoon, maar daar word veral gefokus op die graad 9-leerders sodat ons hulle met hul vakkeuses kan help,” gesels hy.
“Ons doen eers ’n opname onder die skool se leerders om te hoor in watter beroepe hulle belangstel, en dan fokus ons op daardie beroepe. Daar word ongeveer 20 beroepe verteenwoordig en mense in daardie beroepe word ook uitgenooi,” verduidelik hy.
Daar was vanjaar instellings soos Akademia, Sol-Tech en CRL Beauty School van Aliwal-Noord en leerders kon só hoor wat toekomstige beroepe behels.
Wat vir Archie besonders van die projek is, is die leerders se reaksie op die aand.
“Ons kry baie positiewe terugvoer van die leerders, die beroepslui en die onderwysers. Die skoolhoof het ons ook gevra om dit ’n jaarlikse instelling te maak en van die instellings wat verteenwoordig is, het reeds inskrywings vir volgende jaar se inname ontvang.”
Archie noem dat die ATKV-tak Spandaukop een van vier takke in Graaff-Reinet is. Hulle is ’n bedrywige tak en bestaan al 23 jaar lank.
“Ons groot projek elke jaar is die beroepsaand, maar ons ondersteun ook Huis van de Graaff, ’n ACVV-tehuis vir bejaardes. Ons hou byvoorbeeld fondsinsamelings vir hulle, skenk boeke en help hulle om ander skenkings te kry.”
Die tak hou op 13 September vanjaar ’n fondsinsamelingsprojek vir Huis van de Graaff waar Ilne Fourie optree. Verder ondersteun hulle ook ’n Hospice-rolbaldag deur ’n ATKV-span in te skryf.
Indien jy meer wil weet oor die wonderlike werk wat ATKV-takke in ons gemeenskappe doen, of dalk by jou naaste tak betrokke wil raak, klik gerus hier.