‘Speel-speel’ lees en leer

Dr. Seuss het geskryf: “Hoe meer jy lees, hoe meer dinge sal jy weet. Hoe meer jy leer, hoe meer plekke sal jy ontdek.” Lees en leer loop hand aan hand, nes die Vriende van Afrikaans (VVA) en die Doen en Leer-projek wat die bevordering van hierdie twee aspekte ten doel het.
Die VVA het in Februarie vanjaar hul 31ste verjaardag gevier en wat begin het as ’n klein vereniging deur ’n groepie Afrikaanssprekendes het in meer as drie dekades tot pionier vir Afrikaanse lees en leer gegroei.
Doen en Leer is ’n holistiese lees-, wiskunde- en leerondersteuningsprogram wat kinders speel-speel leer op fisieke, emosionele en kognitiewe vlak. Doen en Leer span visuele, ouditiewe en kinestetiese metodes in om van leer en lees pret te maak.
Dokka Swart, een van die medestigters en ontwikkelaars van die Doen en Leer-projek, het dr. Rose Botha, ’n oudonderwyseres wat hierdie program ontwikkel het, meer as 20 jaar gelede ontmoet. Saam met Tina van Eeden het sy en dr. Botha Doen en Leer in ’n bemarkbare produk omgeskep.
Die program fokus daarop om kinders woordjie vir woordjie met prentjies en aksies te leer lees. Dit help kinders om woorde vas te lê en om selfvertroue te bou. Opvoeders doen aktiwiteite en speletjies om seker te maak die leerders verstaan die woord voordat hulle sinne bou.
In die afgelope twee jaar alleen het 40 skole Doen en Leer-opleiding ontvang.
“Die VVA glo dat lees aangeleerde gedrag is en dat kinders die voorbeeld van volwassenes volg. Lees moet deel van ’n roetine word,” sê Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die VVA.
“Deur vir kinders voor te lees, kan jy van hulle lewenslange lesers maak, maar ook sorg dat hulle optimaal sal kan leer. Die VVA wil kinders ook deur boeke bemagtig en goeie waardesisteme aanleer deur hulle aan die regte boeke en stories bloot te stel.
“Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan. Lees verg harde werk en toewyding. Boeke is duur en baie skole en mense kan dit nie bekostig nie – al is dit só noodsaaklik vir kinders se toekoms.
“Boonop word opvoeders oorlaai met administratiewe take en oorvol klasse, wat veroorsaak dat hulle nie individuele aandag aan leerders – veral dié met uitdagings – kan gee nie.
“Daarom bied die VVA deur middel van ons boektrommelprojek die geleentheid vir kinders om so vroeg as moontlik aan die wêreld van woorde en stories blootgestel te word.
“Hierdie boektrommels is vol boeke wat aan verdienstelike skole en goed bestuurde kleuterskole besorg word. Die VVA versprei jaarliks ongeveer 60 boektrommels regoor die land.”
Chareldine en Dokka verduidelik: “Die brein is bedraad om gesproke taal te ontwikkel, maar daar is geen outomatiese bedrading vir lees en spel nie – hierdie vaardighede word onderrig. Kinders is baie meer visueel ingestel en blootstelling aan skerms in ons digitale eeu beteken dat ons minder met mekaar praat.
“Baie van ons verbale kommunikasie bestaan uit opdragte. Fokus eerder daarop om gesprekke aan die gang te kry. Digitale speletjies is darem nie net sleg nie. Vir die linkerbrein is dit wonderlike stimulasie. Hand-oog-koördinasie verbeter daardeur en die visuele geheue word gestimuleer.
“As die linkerbrein so hard werk, wat gebeur in die regterbrein? Niks. En soos die rugbyreël sê: ‘Use it or lose it’.”
Die twee vroue sê fondse vir die aankoop van opvoederspakkette en leerders se lees- en werkboeke is hul grootste uitdaging. Dokka sê dit werk nie wanneer opvoeders pakkette moet deel nie.
“Kwaliteit gaan verlore wanneer leerderwerkboeke gefotostateer word. Opvoeders moet ook voorbereiding kan doen en dit beteken dat hulle toegang tot die pakkette moet hê.”
Hoe meer hande, hoe ligter die taak. Jy kan as ’n vrywillige Doen en Leer-fasiliteerder by ’n skool in jou omgewing optree, wat leerders tydens skoolure of ná skool met leesuitdagings help.
Opleiding en monitering is noodsaaklik en bestuur van hierdie fasiliteerders sal deur die VVA en Doen en Leer gekoördineer word.