Spesiale toekenning vir gesoute beoordelaar
Erika Janse van Rensburg, ’n afgetrede Afrikaansonderwyseres, se toegewyde betrokkenheid by die afrigting en beoordeling van redenaars en debatteerders loop al ’n lang pad. Erika vertel dat sy self in haar skooljare aan Hoërskool Andrew Rabie in Port Elizabeth met debat kennis gemaak het. In 1976, terwyl sy aan Hoërskool President in Johannesburg skoolgehou het, het sy begin met die afrigting daarvan en onmiddellik gesien hoe hierdie aktiwiteite positief tot ’n kind se ontwikkeling kan bydra. Sy het gou besef dat leerders wat afgerig word om aan ’n redenaarskompetisie deel te neem, mettertyd oor die nodige aanbiedingsvaardighede beskik om ’n toespraak met selfvertroue te lewer. Dit het dan die deelname aan debatskompetisies vergemaklik. Sedertdien is sy met oorgawe betrokke by beide redenaars- en debatskompetisies.
Erika was oor die laaste paar dekades verbonde aan die organisering van al drie rondtes van die debatskompetisie. Sy was deurentyd ’n deel van die ontwerpkomitees vir debat en redenaars en het selfs ’n noemenswaardige rol by universiteitsdebat gespeel. Sy het ook haar merk as beoordelaar van beide debats- en redenaarskompetisies gemaak en tree elke jaar as een van die beoordelaars in die finale rondte van beide hierdie kompetisies op.
Op 20 Augustus vanjaar het Erika ’n spesiale toekenning vir die uitbouing van ATKV-Redenaars en ATKV-Debat van die ATKV ontvang. Die geleentheid was die prysuitdelingsfunksie van die ATKV-Debatskompetisie wat vanjaar by die ATKV-Buffelspoort-vakansieoord plaasgevind het. Gerrie Lemmer, ATKV se uitvoerende hoof van kunste, het ’n pragtige trofee aan Erika oorhandig.
“Dit was ’n heerlike verrassing om hierdie besonderse trofee in ontvangs te neem,” sê Erika. “Natuurlik beskou ek dit as ’n groot pluimpie en ek is geweldig dankbaar daarvoor. Dit bevestig bloot net dat die gevoel wat ek soveel jare gelede gekry het oor die waarde van hierdie aktiwiteite, 100 persent in die kol was. Debat veral leer ’n kind om fyn te luister en te reageer op wat hulle hoor. Kinders leer ook om op hulle eie navorsing te doen. Die terugvoer wat ek van studente gekry het, is dat hulle dosente aan die universiteit nie kan glo dat hulle in ’n baie kort tyd soveel navorsing kan doen nie. Uiteindelik beteken die vaardighede wat deelnemers aan hierdie twee kompetisies ontwikkel, soveel in hul latere lewe en loopbaan, om van selfvertroue nie eers te praat nie.”
Erika vertel dat sy betrokke was tydens van die onderhandelings tussen die ATKV en die Rapportryerbeweging oor die debatkompetisie. Die Rapportryerbeweging, wat dit altyd aangebied het, het nie langer kans gesien om dit te doen nie en het die ATKV genader om as organiseerders op te tree.
Vir haar is dit heerlik om oor die ontwikkeling van albei hierdie kompetisies te gesels. Die ATKV-Redenaarskompetisie was ook aanvanklik net vir hoërskoolleerders, maar nadat verskeie afrigters en onderwysers begin het om laerskoolleerders vir die seniors se kompetisie in te skryf, is daar besef dat daar wel ’n behoefte vir ’n kompetisie vir die juniors was. Erika sê dat hulle harte aanvanklik in hulle kele geklop het, maar dat die kleintjies hulle van die staanspoor af oortuig het dat hulle die mas gaan opkom.
“Ons het verstom gestaan om te sien waartoe hulle in staat is. Daar is heelwat ander redenaarskompetisies in ons land, maar die ATKV se kompetisie staan vir my uit. Die feit dat daar altyd drie beoordelaars is, maak dit baie regverdig. Die ATKV speel ’n geweldig belangrike rol vir Afrikaanssprekende kinders, maar ook vir ander kinders wat in Afrikaans wil deelneem. Dankie ATKV vir wat julle vir al hierdie leerlinge doen!”