Spesialis-toneelwerkswinkel by SOF op pad

Die ATKV se toneelaanbod is die pasaangeër en smeltkroes van kreatiwiteit in Suid-Afrika en ’n unieke toneelopleidingsgeleentheid vind weer binnekort by die Suidoosterfees in Kaapstad plaas.
Dié toneelwerkswinkel strek oor drie dae van 2 tot 4 Mei 2025. In hierdie drie dae sal daar, benewens die werkswinkels wat deur Liezl de Kock aangebied word, ook die geleentheid wees om 17 feesproduksies by te woon as deel van die opleidingsmateriaal van die kursus.
JJ van Niekerk, projekorganiseerder van die ATKV se toneelaanbod, is opgewonde oor hierdie fantastiese geleentheid.
“Vir die ATKV is opleiding ontsettend belangrik en die duidelike behoefte aan ’n opleidingsgeleentheid wat spesifiek op teater-maak gemik is, was die inspirasie hieragter. Ons gooi dit wyd oop en Tienertoneelregisseurs, -spelers, en enigiemand wat lief is vir toneel en graag meer wil leer oor die skep van nuwe werk vir die verhoog, is welkom om dit by te woon. Ek weet nie van enige ander opleidingsprogram waarin jy boonop 17 produksies as deel van jou kursusmateriaal kan bywoon nie.
“Dit bly nou maar ’n wonderlike ervaring om in ’n teater te sit en te voel hoe die verhoogligte warm word. Daarna kry jy boonop die geleentheid om die ervaring te ontleed in gesprekke met ander kursusgangers. Voorts bied dit ’n kans om by baanbrekers in die industrie te leer hoe om die wêreld van visuele en nieverbale storievertelling baas te raak. En dit alles in die loop van drie dae. Die bywoning van die feesproduksies as deel van die kursus maak dit ’n heel ander ervaring as om bloot net teoreties in ’n klaskamer of lesingslokaal of aanlyn na opleiding te kyk,” sê hy.
Die aanbieder van die ATKV-Toneelopleidingspakket se werkswinkels is Liezl de Kock. Liezl het in 2024 kursusgangers se kreatiwiteit geprikkel en geïnspireer om nuut na teater te kyk. Hierdie keer verdiep sy kursusgangers se spesialisvaardighede deur te fokus op nieverbale storievertelling, voorverbale fisieke rolvertolking, liggame wat mekaar in die ruimte ontmoet, asook die skep van kreatiewe klankruimtes.
Die koste van die ATKV-Toneelopleidingspakket by vanjaar se Suidoosterfees beloop R1 300 vir die drie dae. Daar is ook ’n opsie wat verblyf insluit. Alle besprekings moet by Franci van den Berg by Franci.VanDenBerg@media24.com gedoen word.
Nie net gaan ’n mens verryk en geïnspireerd wegstap nie, maar jy sal ook na afloop van die opleiding die waagmoed hê om iets nuuts vir 2025 te skep of die werk van 2024 te verfyn. Moenie hierdie unieke geleentheid misloop nie.
Klik hier vir ’n volledige program van die ATKV-Toneelopleidingspakket.