Spits die ore! TG-Klankbaan is hier

Taalgenoot, die kwartaallikse glanstydskrif en amptelike mondstuk van die ATKV, slaan ’n opwindende nuwe rigting in met die bekendstelling van dié publikasie se podsending, Taalgenoot-Klankbaan.
Dié nuwe toevoeging tot die Afrikaanse podsendingslandskap dien as ’n ouditiewe uitbreiding van die inhoud wat in Taalgenoot verskyn en het ten doel om stories vanuit ’n ander perspektief onder die loep te neem.
Die podsending word aangebied deur Angie Gallagher, senior subredakteur by die ATKV en die assistentregisseur van Taalgenoot se Ruk en Rym-kompetisie vir alternatiewe musikante, en Jaco van der Merwe, kreatiewe regisseur van Taalgenoot-Ruk en Rym en die hoof van Wêreld, ’n kunsorganisasie wat hom vir die bemagtiging van kunstenaars oor ’n wye spektrum genres beywer.
Taalgenoot-Klankbaan gee luisteraars die geleentheid om agter die gordyn te loer – of eerder te luister – en die podsending is nie bloot ’n herhaling van artikels wat in die tydskrif verskyn het nie, al dien die oorspronklike inhoud as prikkel vir die inhoud van Taalgenoot-Klankbaan.
“Taalgenoot is klaar ’n lekker tydskrif wat ’n wye verskeidenheid onderwerpe dek – alternatiewe onderwerpe wat nie noodwendig in die hoofstroom dekking kry nie. Mense kan ’n oudio-uitbreiding van die artikels wat in Taalgenoot verskyn – in dieselfde gees as die tydskrif – verwag,” sê Jaco.
Die podsending volg nie ’n vaste formaat nie en in die eerste paar episodes kan luisteraars na ’n uiteenlopende luisterervaring uitsien wat boeiende gesprekke, voorlesings en musiekoptredes en selfs die dekking van ’n sportgeleentheid insluit.
“Hoewel podsendings slegs een sintuig betrek, gee dié medium ’n mens tóg groot vryheid om die narratief te rig sodat dit luisteraars vasgenael hou. Dat die formaat van elke episode effens verskil na gelang van die Taalgenoot-storie wat gedek word, maak Taalgenoot-Klankbaan ’n waardevolle aanvulling tot die Afrikaanse inhoud wat tans op stromingsdienste beskikbaar is,” meen Angie.
Jaco gaan akkoord en sê die diepte-inhoud wat die podsending kenmerk, is verkwikkend teen die agtergrond van die korter formaat van hedendaagse digitale inhoud.
“Vanuit ’n evolusionêre perspektief beskou, is interessant dat mense dinge wat hulle gehoor het beter onthou as wanneer hulle dit gelees of gesien het. Dis hoekom ons in die meeste kulture baie sterk mondelingse tradisies het waar stories generasie ná generasie vertel is voor mense nog eers geskryf het. Mense het die stories onthou omdat hulle dit gehoor het.
“In ’n wêreld vol kort inhoud, volgepomp met advertensies, is die langer formaat van die podsending verfrissend.”
Angie, wat verantwoordelik is vir die taalversorging van die tydskrif, sê sy geniet tot dusver die nuwe insig wat sy deur die podsending oor stories kry.
“Taalgenoot se wonderlike span medewerkers stel ons deur hul artikels aan die inhoud bekend en hulle is vaardige woordsmede wat die stories op só ’n manier vertel dat ’n mens ’n goeie begrip van die onderwerpe wat hulle ondersoek, kry. Met Klankbaan word hierdie fantastiese werk verruim en op ’n ander manier verpak wat hopelik ’n hele nuwe gehoor sal lus maak om Taalgenoot te lese te kry,” sê sy.
Jaco is dit met haar eens en meen die gesels met die interessante mense wat in Taalgenoot-Klankbaan verskyn, is vir hom ’n hoogtepunt.
“Sover geniet ek natuurlik die gesprekke die meeste – die feit dat ons met mense wat al klaar vir my interessant is gesprekke kan voer en meer leer oor hul wêreld. Daar is ruimte vir ’n bietjie gesprekke om raakpunte en gedagtes en vrae – en onverwagse antwoorde wat dan weer in ’n ander rigting gaan.”
Nuwe episodes van Taalgenoot-Klankbaan word elke maand vrygestel.
Die eerste episode, ’n diepte-gesprek met die pianis Charl du Plessis na aanleiding van die profielartikel oor hom wat in die lente 2024-uitgawe van Taalgenoot verskyn het, is reeds op stromingsdienste beskikbaar.
Luister na Taalgenoot-Klankbaan op al die groot stromingdienste of klik hier om op die ATKV-webwerf te luister.