‘Sprokie in ’n streepbaadjie’: Kuns as storievertelling
Wanneer Christien Neser, skrywer en spraakterapeut, oor haar jongste jeugroman praat, is dit nie net ’n boek nie – dit is ’n samevloeiing van kuns, identiteit en Middeleeuse magie. Sprokie in ’n streepbaadjie bring twee tieners, Héloïse en AB, in ’n skoolomgewing saam waar die verlede en die hede mekaar onverwags raak.
“Dit is altyd lekker om ’n karakter wat ‘anders’ is vir ’n storie te gebruik,” vertel Christien.
“Héloïse en AB is alles behalwe doodgewone tieners. Héloïse moes haar skool verlaat weens haar pa se mislukte saketransaksies, en AB is geskors uit ’n spogskool. En dan is daar hul name – Héloïse en Abelard – die tragiese minnaars wie se verhaal in die middel van die 12de eeu afgespeel het, net om later as die eerste liefdesverhaal in Frans gepubliseer te word. Dit was ’n lekker storielyn terug na die Middeleeue.”
Sprokie in ’n streepbaadjie is egter nie net ’n liefdesverhaal nie. Dit is ook ’n verhaal oor kuns as storievertelling, en die kunshoek het natuurlik nie toevallig ontstaan nie. Heloïse se opdrag om ’n Middeleeuse ikoon te ontwerp, lei haar na die Spookhuis, die mal kunstenares en na AB – die donker karakter wat haar storie begin vorm.
“Ek glo, soos die digter Muriel Rukeyser, dat die heelal uit stories bestaan, nie atome nie,” sê Christien. “Elke mens het ’n storie. Elke skildery vertel ook een. En dit is wat Heike, die mentorfiguur in die verhaal, vir Heloïse wil leer: Moenie net mooi prentjies maak nie – vertel jou eie storie.”
Christien se werk as spraakterapeut het haar diep bewus gemaak van die waarde van stories. Sy vertel van kinders wie se lewensverhale haar perspektief gevorm het – van die stom Sesotho-dogtertjie wat later ATKV-redenaars wen, tot die kleuter met downsindroom wat rylesse neem by Héloïse in die boek.
Wanneer sy oor haar werk met onderwysers en kinders praat, kom haar passie duidelik na vore.
“Die belangrikste mikpunt van ’n jeugroman is om ’n lekker storie te skryf, want die brein werk op die genotsbeginsel – hoe lekkerder die storie, hoe groter die kans dat ’n tiener ’n lewenslange leser word.”
Christien vertel dat stories ook substansie moet hê.
“Elke tiener staan voor die vraag: ‘Wie is ek?’ Elke verhaal wat ek skryf, het iets met identiteit te make. Of dit nou ’n meisie is wat ballet los vir bergfietsry (Pienk is nie vir sissies nie), of ’n seun met ’n outistiese boetie (Amper Einstein) – ek wil hê hulle moet hulself daarin herken.”
Christien se skrywersloopbaan het begin ná ’n ATKV-skryfskool, waar haar eerste verhaal, Kondensmelk, gepubliseer is.
“Dit was lewensveranderend, en dit het gelei tot ’n 12-boekreeks vir LAPA-uitgewers. Skryf en terapie het toe parallel begin loop.”
Oor haar skryfproses sê Christien wanneer sy ’n storie kies, is dit nie ’n doelbewuste soektog nie.
“’n Mens vind dit sommer tussen die alledaagse, en as jy daardie garedraadjie raakvat, begin jy torring – en voor jy jou kom kry, het die storie homself kom aanmeld.”
Haar persoonlike belangstellings – van bergfietsry tot meertaligheid – vind ook hul pad na haar boeke.
“Ek is ’n frankofiel en praat Frans vlot. In Sprokie in ’n streepbaadjie het ek Heike Hiebig, die mentorfiguur in die verhaal, se Duitse karakter op die voorgrond geplaas. Ek glo ’n mens moet die lesers van Afrikaans ook nuuskierig maak oor ander tale.”
Christien sluit af en vertel hoe die mooiste oomblikke soms onverwags is.
“Onlangs het ’n matriekmeisie vir my geskryf dat sy die leuse van die fiktiewe skool Gravitas uit die Elle-reeks as haar eie geneem het: Noblesse oblige. Dit beteken jou edelheid lê nie in ’n titel nie, maar in jou dade. ’n Prinses buig haar knie om die minste te wees – omdat sy weet wie sy is.”
Hierdie jeugroman word deur Tafelberg-uitgewers (een van Jonathan Ball-uitgewers se drukname) uitgegee en is teen R220 by alle boekwinkels beskikbaar, asook aanlyn op Takealot en Amazon SA.