Standbeeld-projek vertel Swellendam se storie

Moira Odendaal, voorsitter van die ATKV-tak Drostdy, is uiters passievol oor haar tuisdorp, Swellendam, in die Wes-Kaap.
Haar liefde vir dié dorp het die Lewendestandbeeld-projek geïnspireer, wat die inwoners van die derde oudste dorpie in Suid-Afrika op ʼn mooi en interessante manier van sy ryk geskiedenis bewus maak.
“Ek het onlangs die ATKV-tak Drostdy op ons dorp, Swellendam, gestig en die verwagting is dat ʼn mens dadelik skouer aan die wiel moet sit,” verduidelik sy.
“Daar is onder die sambreel van die ATKV soveel wonderlike projekte om te doen – wat die kunste en geskiedenis insluit – en die lewende standbeelde, oftewel die ‘living statues’ soos wat hulle in Europa bekendstaan, het my nog altyd gefassineer.
“Daar is ʼn besonders mooi deel van ons hoofstraat in Swellendam wat ons die ‘Golden Mile’ noem, waar baie van die geskiedkundige geboue en wonings en lieflike winkeltjies gevind kan word. Ek het toe hierdie visioen gehad dat dit ʼn wonderlike ATKV-projek kan wees om die geskiedenis van ons dorp op ʼn interessante manier met lewende standbeelde in dié straat te vertel.”
Moira het toe gaan sit en haar karakters, oftewel geskiedkundige figure, noukeurig uitgesoek en op agt vroue vir die Lewendestandbeeld-projek besluit.
“Die vroue was meer entoesiasties om in die uitrustings in die openbaar te verskyn! Maar ek sal beslis in die toekoms harder probeer om gewillige mans te kry om ʼn projek met manlike figure uit die dorp se geskiedenis aan te pak,” sê sy.
Moira erken dit het baie tyd en inspanning geverg om die inligting oor die vroue vir die projek te versamel.
“Daar is maar weinig oor sommige van hulle geskryf, dus was inligting soms moeilik om te verkry.
“Dan moes die kostuums gemaak word. Jy weet, hier is nie eens ʼn volwaardige materiaalwinkel op die dorp nie, so dit was ook nogal ʼn uitdaging.
“Maar die projek was ʼn intense hartsbegeerte van my en ek het al in die verlede instansies gevra of hulle nie met my wil hande vat dat ons hierdie lewende beelde kan staan maak nie. Daar was nooit juis belangstelling nie. Dit is daarom wonderlik dat die ATKV ingestem het dat dit ʼn briljante plan is.”
Een van die vroue wat in die projek verteenwoordig word, is Maria Elizabeth Rothmann – ʼn Afrikaanse skrywer en medestigter van die Voortrekker-jeugbeweging. Haar unieke bydrae tot Afrikaanse letterkunde was ʼn eties-didaktiese, kultuurhistoriese oorsig van ʼn vervloë Afrikaanse samelewing. Sy is op 28 Augustus 1875 in Swellendam gebore en is ʼn honderd jaar later op 7 September 1975 daar oorlede.
Helena ten Damme, die vrou van die eertydse Kaapse goewerneur Hendrik Swellengrebel, die eerste goewerneur wat in die Kaap gebore is, is ook te siene. Swellendam is na hulle vernoem.
Die projek verteenwoordig ook vir Sophie Treu, wat bekendgestaan het as Melktertkoningin van Swellendam en na wie ʼn straat op die dorp vernoem is.
ʼn Masbiekervrou is ook te siene. Die Masbiekers was slawe en daar is ʼn straat, gebou en kloof in Swellendam na hulle vernoem. Hulle het ʼn werklike teenwoordigheid op die dorp gehad.
Twee watermeisies, mitiese figure of meerminne wat in die Overberg en Karoo se riviere woon, word ook deur die projek verteenwoordig. Talle plaaslike mense glo tot vandag toe nog in hierdie magiese figure.
Sofietjie Williams, ʼn vroedvrou na wie ʼn straat op Swellendam vernoem is, maak ook haar verskyning in die projek.
Lang Elsie, ʼn Khoi-kaptein, word ook verteenwoordig. Dit was uiters seldsaam dat ʼn vrou daardie rol in die Khoi-gemeenskap beklee het.
“Ek wil graag met ʼn klein produksie al die skole in Swellendam besoek om die stories agter hierdie wonderlike mense te vertel,” sê Moira.
“My hartsbegeerte is dat die projek langer voortlewe, want dit is mooi stories en geskiedenis wat almal moet hoor. Stories is vir my absoluut wonderlik, want dit bring mense bymekaar. Die doelwit van die lewende standbeelde is om ons geskiedenis – wat nie dikwels genoeg vertel en herdenk word nie – na die oppervlak te bring en te laat herlewe.”
Moira sê belangstellendes is welkom om haar te kontak vir meer inligting oor die geskiedenis van die vroue in haar projek. Stuur ʼn e-pos na moiraan@gmail.com of skakel haar by 082 448 8166.