“Stap weg!” sê Johnny Davids

“Jy moet wegstap van iets wat jou seermaak. Jy moet dadelik omdraai en in die teenoorgestelde rigting loop, dan gaan jy ʼn verandering sien. As jy bly hardloop na wat jou seermaak, gaan die resultate altyd dieselfde wees. Kom net weg.”
Dit was Johnny Davids se boodskap aan sowat 100 leerlinge by P.C. Petersen Primêr-skoolsaal tydens die oorhandiging van sertifikate aan deelnemers van die ATKV-PEKT*-skryfwerkswinkel in die Dwarsriviervallei.
Johnny se boodskap is saamgevat in sy boek Boytjie – ʼn inspirerende outobiografie deur Johnny Davids, ʼn bekende televisie- en sportaanbieder.
In die aangrypende boek deel hy sy uitdagende lewensreis, vanaf sy moeilike grootwordjare in Kleinvlei, sy ma wat hom nie wou hê nie, en sy dowe ouma en haar bedorwe seun wat hom mishandel en verwaarloos het.
As tienjarige seun het Johnny besluit om van die mishandeling te ontsnap. Hy het ʼn veilige hawe by familie in Wellington gesoek, wat hom weer in aanraking gebring het met sy familie in Walvisbaai. Hier het hy as ʼn jong seun tot sy volle reg gekom toe hy en sy sangmaat, Vivian, die Zing-sangkompetisie in Suid-Afrika gewen het.
“Dit was ongelooflik om te sien hoe my besluit om weg te kom, alles in plek laat val het. Ek het met ʼn helder verstand geweet wat om te doen, want só kon dit nie aangaan nie,” sê Johnny van sy wegkomkans. “Toe is dit net genade.”
Kylemore bring genesing
In Kylemore was Johnny mishandel, het hy honger gaan slaap en wou sy ma hom amper doodmaak.
“Om hierheen terug te kom en eerder ‘Johnny Davids’ as ‘Boytjie’ te wees, soos wat hulle my genoem het, bring genesing.”
Hy noem wel flitse van “skoon lug, die helder voëlgeluide van die pragtige, skoon, bruin woonbuurt anderkant Stellenbosch, daar oor die Helshoogtepas.” Maar nou weet hy, dit kon ook ʼn manier wees om trauma te ontglip. “Ek glo die Here het my beskerm,” sê hy.
“Dit het my lank gevat om te vergewe, maar ek is los van die kettings van wat hier met my gebeur het. Ek is lankal nie meer ‘Boytjie’ nie, ek is ‘Johnny Davids’, ʼn geliefde man en vader van drie seuns.”
Op skool is Davids raakgesien omdat hy goed kon lees. Hy het enigiets gelees waarop hy sy hande kon lê. Hy het ook uit koerante gelees en sommer self opskrifte en onderskrifte geskryf. Hy sou lees van die WP wat vasgeval het teen die Bulle. Naas Botha was natuurlik sy gunsteling! Uiteindelik het hy as SuperSport-kommentator saam met sy mentor, Botha, gewerk!
Nóg ʼn rolmodel was die houtwerkonderwyser en later die skoolhoof van Melton Primêr, William Keet, wat die geleentheid bygewoon het. Volgens Davids het Keet ʼn verskil in sy lewe gemaak en sal hy hom altyd dankbaar wees.
“Ek het nie eers geweet ek het so ʼn groot invloed in sy lewe gehad nie. Ek het net my bes probeer,” sê Keet.
Die gespreksleier, Shireen Crotz, het voor Davids se praatjie vir die kinders gesê dat Johnny dinge in die lewe gesien, gehoor en beleef het wat kinders nie veronderstel is om te ervaar nie, maar dit is juis daarom dat hy die boodskap aan hulle bring. “Die wêreld skuld jou niks. Maak nie saak waardeur jy gaan nie, jy moet na jouself kyk. Dit hang van jou af wat jy daarmee doen,” sê Shireen.
Janine Myburgh, voorsitter van PEKT, en haar span het ná afloop van Davids se praatjie worsrolle aan die leerders uitgedeel. Twee leerders het ook elk ʼn eksemplaar van die boek Boytjie gewen.
Volgens Darryl David, programleier, was Davids die beste spreker wat hy in byna 20 jaar gehoor het.
“Dit sal nóg 20 jaar wees voor ek weer so iets hoor,” sê ʼn begeesterde David wat die boek vir sy Afrikaanse studente by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) voorgeskryf het.
“Wat dit so spesiaal gemaak het, is dat ʼn persoon wat jy so baie op televisie sien, van so ʼn nederige afkoms gekom het. Hy het bo die brutale sisteem uitgestyg, waar hy as kind gely en ʼn erge sukkelbestaan in dié einste vallei gevoer het. Hierdie was vir my die moderne manlike weergawe van ʼn Aspoestertjie. Die mense wat die praatjie bygewoon het, het besef daar is sulke kinders in die omgewing en samelewing wat onder verskriklike wrede omstandighede grootgemaak word. Ons móét ʼn verskil in daardie kinders se lewe maak, soos meneer Keet in Johnny se lewe gemaak het.
“Niemand hou van mense wat preek nie, maar dit is die beste preek wat ek in 55 jaar gehoor het. Elkeen in Suid-Afrika moet die boek lees, want dit is ʼn juweel in die skatkis van Afrikaanse letterkunde,” meen David.
“Die gehoor was amper heeltyd na aan trane, omdat hulle al te goed stories van verwaarlosing, geweld en al die euwels van die samelewing ken. Dis ʼn storie van inspirasie en wys jou wat gedoen kan word. Dan hoop ʼn mens maar jy doen die regte dinge, soos om die ‘regte saadjies’ by die kinders tydens die skoleskryfwerkswinkel te plant, sodat hulle kan groei en uit hulle omstandighede kan kom,” sê Myburgh. “Want óns kinders in die Wes-Kaap trek baie swaar.”
*Pniël Erfenis- en Kultuurtrust