Steenbokkies-jeugtak stel kunstalent ten toon
Die ATKV-jeugtak Steenbokkies van die Hoërskool Despatch het onlangs geskiedenis gemaak deur hul eerste kunsuitstalling te hou. Enigiemand wat ’n verbintenis met die skool het kon werke uitstal. Van die deelnemende kunstenaars het die aand met die geleentheid geskilder. Die Steenbokkies het gaste bedien in regte New York-styl.
Die idee vir ’n kunsuitstalling het by die takvoog, Adamina Smit, wat ook ’n onderwyseres by die hoërskool is, posgevat en taklede was vuur en vlam om die projek te ondersteun. “Ons het gevoel daar is so min geleentheid waar ons met die kunsvaardighede van die skool kan spog. Daar net soveel meer geleenthede vir die sportmanne en -vroue om hul talente ten toon te stel. Ons het besef daar is hope talent in die skool en min mense is daarvan bewus, want ons bied nie kuns as vak aan nie,” sê sy.
Onder die uitstallers was ses oudleerders, twee personeellede wat ook oudleerders is en 11 leerders. Elke kunstenaar moes sy eie uitstalruimte mooimaak. Die skoolhoof, Kosie Smit, is ook Adamina se man. Sy vertel, “Hy skilder al vir ’n klompie jare. Hy neem lesse by een van sy skeinat-oudskoliere, Rentia Ferns, wat ook daardie aand uitgestal het. Dit was natuurlik baie interessant vir die leerders en ouers om hul kwaai skoolhoof met palet agter ’n esel te sien. Hy, Rentia en Elmarie Ferns het daar gesit en skilder asof hulle in ’n ateljee is.”
Adamina sê, “Ons doel was dus nie om wins te maak nie, ons wou net mense daar hê wat regtig daar wou wees. Taklede het netjies uitgevat in swart en wit en met deftige voorskote in pure New York-styl canapés op silwer skinkborde bedien, alles terwyl die mooiste, strelende musiek in die agtergrond speel. Alhoewel ek Afrikaans gee, is kuns en kunstefeeste in my bloed. Daarom is dit dan ook vir my lekker om sulke aande aan te bied.”
Sluit aan by die ATKV en #weesdieverskil. Om jou naaste ATKV-tak te vind, besoek atkv.org.za/ons-storie/gemeenskap/. Indien jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig, stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za.