Steyn se mandala vergestalt waardes

Van die tien mandalas wat die kunstenaar, konsultant en strateeg Colin Steyn in die loop van sy lewe geskep het, lê die een wat deur die bekroonde Suid-Afrikaanse kunstenaar en kulturele ikoon Esther Mahlangu geïnspireer is hom die naaste aan die hart. Hierdie spesifieke mandala, sê Steyn, het ontwikkel tot ’n huldeblyk aan die innerlike skoonheid en krag van Mahlangu, die vroue van Afrika en die vroue van die ATKV.
Die storie agter die Mahlangu-geïnspireerde mandala begin meer as vier dekades gelede – en tien jaar voor die skepping daarvan. Steyn vertel hy het die kunstenaar een aand by ’n funksie ontmoet toe sy nog besig was met die finalisering van die kunsmuseum by die Botshabelo-kuns- en kultuursentrum, en is dadelik getref deur haar magnetisme – ’n kombinasie van karaktertrekke en leierskapseienskappe wat hy nooit voorheen of sedertdien ervaar het nie.
Kultuurmoeder, brugbouer, dienende leier
“Esther se ingesteldheid, moed en vasberadenheid het ’n diep indruk op my gemaak. ’n Mens moet onthou sy was ’n moeder en leier van haar gemeenskap met ’n missie om haar geliefde Ndebele-kultuur te help bewaar lank voordat die fondament van die sentrum gelê is,” vertel hy. “En in ’n tyd van groot rasseverskille was sy ’n rolmodel van inisiatief en versoening – sy het brûe tussen kulture en Afrikane gebou en deelname aan verandering in die breër Suid-Afrika asook internasionale gemeenskappe aangemoedig. Esther was eietyds en dinamies en alles wat sy aangepak het, was geanker in die etiese waardes van verantwoordelikheid, aanspreekliheid, inklusiwiteit, billikheid en deursigtigheid.”
Teen hierdie agtergrond, sê Steyn, is een van Mahlangu se waardevolste bydraes haar status as ’n rolmodel – ’n eienskap wat bekendstaan as dienende leierskap (servant leadership). Dienende leierskap in aksie is iets wat hy ook pertinent by die ATKV waargeneem het in sy hoedanigheid as strategiese adviseur, en oor tyd het die parallelle tussen die kunsikoon en die kultuurtuiste toenemend duidelik geword.
“Terwyl Esther as dienende leier van die gemeenskap tot die kunsfront uitgestaan het, gaan die relevansie van die konsep vir die ATKV om die breër perspektief van hul werklikhede en hul vroeëre, huidige, en toekomstige landskap,” verduidelik hy. “Ek het drie definisies vir dienende leierskap wat op ’n paar sleutelriglyne neerkom: Ek is hier om te dien. Ek is hier om die waardes en struktuur van my organisasie te vergestalt deur die maniere waarop ons ons kliënte en mekaar behandel.”
Twee ATKV-vroue wat volgens Steyn die daad by die woord van dienende leierskap voeg, is besturende direkteur van die ATKV-MSW, Sonél Brits en die direksievoorsitter, dr. Marlene le Roux.
“Met haar uitnemende leierskapstyl en verfrissend kreatiewe denke is Sonél ’n uitmuntende rolmodel wat die ATKV se waardes op elke vlak uitleef,” verduidelik hy. “Sy vergestalt die organisasie se verbintenis tot transformasie en waardes deur met nederigheid en op unieke maniere te lei wat haar rol én die ATKV voortdurend ophef.”
Steyn het eweneens hoë agting vir Le Roux, wat te midde van die Covid-19-pandemie die volgende onvergeetlike woorde in ’n verslag verewig het: “Ons sit getrou by die bidwiel terwyl ons die taal en kultuur naby ons hou.”
“Hierdie stelling is so roerend. Dit simboliseer ten diepste die rol van die vrou – en van die dienende leier – in ’n tyd van krisis,” sê hy.
Betekenisreis deur ’n mandala
Met Mahlangu as primêre inspirasie was Steyn se doel met die mandala om die kernrol van die vrou deur die eeue te versmelt met die rol van vroue in Afrika en, uiteindelik, die ATKV.
Die mandala was die ideale medium vir sy missie. “Elke deeltjie van die patroon het ’n afsonderlike betekenis wat daarop gerig is om wysheid en morele en geestelike onderrig te bevorder,” verduidelik hy. “Om intrige te skep en insig te bewerkstellig, word die kyker op ’n ontdekkingstog gestuur, want uiteindelik moet die mandala as ’n geheel geïnterpreteer word om die versteekte boodskappe op te spoor en te verstaan.”
Een van die maniere waarop hierdie geheime boodskappe ontsluit kan word, is op grond van die vier windrigtings, geïntegreer met die sleutelboodskap in die middel bekend as die
camera obscura. Die term camera obscura hou verband met die verborge sleutelboodskap van ’n kunswerk. Die enigmatiese middelpunt van Steyn se mandala is ’n jong vrou wat besig is met pottebakkery, wat dui op haar rol as waterdraer en, by implikasie, lewensgewer en -onderhouer.
Die noorde verteenwoordig tradisioneel geloof in die skepper en die tuiste van ’n hoër skeppergees, asook dimensies van leierskap.
In die noorde van Steyn se mandala verskyn die vrou as die fondament van haar gemeenskap – ’n kragtige uitbeelding wat aangevul word deur juwele wat kennis, wysheid, vertroue en standvastigheid simboliseer.
Die suide simboliseer die maniere waarop onderskeie kulture se geloof in hul gemeenskappe vergestalt word.
Steyn se visuele narratief wentel om die Afrika-mite van die jong Ndebele-meisie wat onder ’n kremetartboom sit en bid vir die veilige terugkeer van haar verloofde. Een aand, net ná sononder, het die sagte ritseling van kremetartboomblare vir haar ’n boodskap gefluister: “Gaan haal môre teen dagbreek ’n koppie water uit die put, gooi dit by my wortels uit en dan sal jou wens vervul word.”
Met sonsopkoms het die jong vrou die water gaan haal, dit by die bas van die kremetartboom uitgegooi en tot haar verbasing gesien hoe die grond rondom die boom begin glinster en ’n klein goue blommetjie begin blom. Hierdie motiewe word deur Ndebele-kralewerk gesimboliseer.
Die bogenoemde boodskap word verder versterk deur uitbeeldings van Ndebele-vroue wat met landbou-aktiwiteite en handwerk besig is.
Die ooste verteenwoordig gemeenskapsbevordering, onder meer deur speletjies en stories waarin diere ’n sentrale rol speel om vir kinders in sosiale interaksie te onderrig.
In Steyn se meesterstuk sien ons Swahili-vroue wat vir ’n teateruitvoering voorberei. Die beeld suggereer hul intuïtiewe vermoë om diere op ’n skeppende manier te gebruik om kulturele wysheid oor te dra – wolwe wat die gemeenskap beskerm, leeuwyfies se trots op hul kleintjies en olifante se intelligensie en geheue.
Die weste dui op die belangrikheid van taal en kultuur, weereens deur speletjies en stories met diep kulturele verbintenisse en waardevolle lesse en tradisies.
In Steyn se mandala sien ons vroue wat belangrike geestelike, seremoniële en selfs leierskapsrolle vervul en aan rituele deelneem.
As Colin Steyn vandag na sy mandala kyk, kom een vraag onwillekeurig by hom op: “Wat beteken dit om in ons nuwe wêreld ’n mens se waardes te vergestalt?”
As jy jouself tot hierdie “reis” verbind, maan hy, durf jy nie ’n leuen leef nie – jy moet jou waarheid uitleef. Jy moet jou waardes as individu, asook die waardes van die organisasie waarvoor jy werk, ten volle uitleef.
Steyn gee toe dit is makliker gesê as gedaan, maar hy glo die toekoms hou hoop in.
“Om hierdie missie te vermag, moet individue en organisasies relevant bly. Wat die ATKV betref: as hulle volhou op die kenmerkende geankerde, dog innoverende trajek wat hulle onder meer danksy die vroue gevestig het, glo ek relevansie sal vir die organisasie ’n bemagtigende en winsgewende wagwoord bly,” is sy slotsom.