Storieboks vier jongspan se stories op Jeugdag

Hoe sê jy vir ’n kind hul storie tel; en dat dit nie saak maak watter Afrikaans hulle praat nie?
Jy laat hulle self hul storie vertel en gee dan daardie storie vlerke met ATKV-Storieboks!
Met Jeugdag wat op Maandag 16 Junie gedenk word, vier die ATKV met dié projek die kleinspan se kreatiwiteit deur na hul stories te luister en só te onthou hoe belangrik en kosbaar elke kind in Suid-Afrika is.
“Of jy ’n storie opgetower het waarin jy ’n superheld is, of net iets vertel wat gister in jou alledaagse lewe gebeur het – jou storie tel. Ons wil jou stem hoor, ons wil saam met jou verbeel en jou storie vier,” sê Anél Wood, drama-ghoeroe, vryskutstorieverteller van Johannesburg en een van die vervaardigers van ATKV-Storieboks.
Vir die projek kon kinders tussen ses en 11 jaar oud van regoor die land ’n storietjie in tussen 60 en 90 minute vertel en dit in die vorm van ’n stemnota instuur.
“Die kinders moes ’n storie uit hul duim suig of die gebeure vertel soos hulle dit onthou – al is dit onsamehangend. Dit maak nie saak of hulle vashaak, ’n bietjie dink of dalk lag nie. Ons wou hoor hoe hulle in hul alledaagse Afrikaans praat – niks opgesmuk of geoefen nie.”
Ook belangrik was om te wys dat Afrikaans verskeie baadjies dra na gelang van die omgewing waar dit gepraat word.
“Nou kan ons hoor hoe klink Lorenzo van Kuruman se wêreld in Afrikaans. Daar waar hy perdry op die plaas – in sý woordeskat, in sý Afrikaans. Of Neelsie van Johannesburg wat hom verbeel hy is ’n held wat kan vlieg. Of Zoë uit Pacaltsdorp.”
Nadat 13 stories gekies is, was dit die grootmense se beurt om te speel en te verbeel.
Cindy Swanepoel van Kaapstad, wat veral om haar rol in Binnelanders bekend is en wat dol is oor poppeteater, sê om die kinders se stories lewe te gee, was uitdagend, maar ook groot pret.
“Ons het dit verskriklik geniet om ons verbeelding te gebruik om die stories te vertel, en hoop die kinders is tevrede wanneer hulle hul stories lewendig sien,” sê sy.
Anél verduidelik: “Om die stories visueel uit te beeld, het ons van verskillende vorme van illustrasiekuns gebruik gemaak, hetsy skaduteater in ’n boks, tafelpoppekas buite ’n boks of wat ook al by die storie gepas het.”
Dit was baie ure, dae en maande se harde werk waarin ’n konsep vir elke storie ontwikkel is.
“Elke storie is met illustrasies en klankontwerp uitgebrei. Ons het byvoorbeeld met karton-uitknipsels, verf en lap gewerk om karaktertjies lewendig te maak en byklanke bygesit, soos krieke wat in die agtergrond sing.”
In elke storie is daar boonop een of meer towerelemente – iets wat die kyker gaan verras.
Om te wys hoe toeganklik storievertelling is, is die illustrasies soortelyk aan kinderkuns.
“Ons wou wys dat dit maklik is – al wat jy nodig het, is ’n tafel of ’n boks en ’n storie.”
Toe het die repetisies begin. Elke storie moes ingeoefen word voordat die kameramanne kon naderstaan.
Anél sê kykers moenie verbaas wees om soms ’n mensehand of die stokkie waaraan ’n karaktertjie vasgemaak is, te sien nie.
“Dit is om te wys hoe doenbaar dit is. Ons wil mense inspireer – kyk hoe lekker, maklik en betowerend dit is, sodat hulle sal sê: ‘Kom ons speel en verbeel ook’.”
Vanaf Jeugdag word een storie in die ATKV-Storieboks-reeks per week op die ATKV se webblad geplaas.
Cindy sê die projek lê haar baie na aan die hart.
“Dit is ’n droom wat waar geword het, en ek hoop ons kan nog baie kinders se stories só vertel.”
Vervaardigers
- Illustrasiekuns: Anél Wood, Cindy Swanepoel en Imile Wepener
- Kamera: Alan Sayers en Coen Willemse
- Klankontwerp en redigering: Kyle Wood