Storieverteller Magé dra Ruk en Rym-kroon
’n Jaar terug was Magé Troskie in die gehoor by Taalgenoot-Ruk en Rym se semifinaal. Daar waar sy in die gehoor gestaan het, sou sy nooit kon raai dat sy ’n jaar later ook op die verhoog sou optree nie, wat nog te sê as die wenner van Ruk en Rym 2025 wegstap!
“Ek het nooit eers daaraan gedink dat ek dalk kon wen nie. Eintlik het ek maar net gehoop ek eindig in die topdrie,” sê Magé wat tydens die kompetisie op die verhoog as Vir Nou Net Magé opgetree het.
Die finale ronde van dié kompetisie het op 12 Oktober as deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees by die Daisy Jones Bar in Stellenbosch plaasgevind.
Magé was een van tien finaliste. Sy is uiteindelik danksy haar unieke manier van stories en musiek verweef as die algehele wenner aangewys.
“Verlede jaar het ek Ruk en Rym bygewoon, want ek was eintlik net nuuskierig. Hierdie jaar het iemand my aangeraai om in te skryf en ek het nie twee keer gedink nie.
“Ek het by die finaal eerste opgetree en ek het so half gevoel of ek nie behoorlik die ys gebreek het nie. Toe ek hoor ek het gewen, was ek uit die veld geslaan.”
Sy sê alhoewel dit vir haar ’n groot prestasie is, is die hegte vriendskappe en kameraadskap wat sy gevorm het die groot prys.
“Almal was bly vir my gewees. Ek was omvou in liefde. Al wou van die ander deelnemers ook wen, was almal ondersteunend, en dit is waaroor dit gaan – die kameraderie.”
Magé sê sy het aanvanklik ingeskryf omdat sy gehoop het sy sal ander musikante ontmoet met wie sy in die toekoms kan saamwerk.
“Ek wou eintlik net deel wees van hierdie beweging. Ek het gehoop ek ontmoet mense wat dieselfde uitkyk op die lewe het. Dalk iemand wat my drome kan bestuur.”
Sy het dit en soveel meer gekry.
“Dit het vir my gevoel of ons almal om ’n lang tafel sit en vir jare vriende is. Ek weet ek gaan nog in die toekoms met baie van die kunstenaars ’n verhoog deel.”
Magé, ’n troebadoer in eie reg, sê stories vorm ’n kardinale deel van haar kunstenaarskap.
“Die lewe is ’n storie. Jy kan kies watter soort karakter jy wil wees. Jy skryf jou eie storie. Die lewe is een groot song.”
Wat is Magé se planne vir die toekoms?
“Ek wil in die pad val. Ek wil Suid-Afrika sien en my musiek regoor die land vat. Ek wil die klanke van ons land verken en aanhou om myself te vind.”