Struisies neem kinderhuis onder hul vlerk

Die ATKV-jeugtak Struisies van die Hoërskool Oudtshoorn se harte loop oor van omgee vir hul medemens. Hulle wil graag ’n impak in die gemeenskap maak en woeker daarom met verskeie omgeeprojekte. Een daarvan is hul jaarlikse besoek aan Huis Triomf, ’n kinderhuis vir seuns van 6 tot 18 jaar. Huis Triomf is voorheen deur die departement van maatskaplike ontwikkeling bestuur, maar is sedert verlede jaar in privaat eienaarskap. Die tehuis huisves 26 seuns.
Die Struisies gaan kuier elke jaar by dié tehuis en vanjaar gaan hulle in die winter daarheen en hulle gaan heerlike tuisgemaakte sop en broodjies saamneem, raak-rugby en ander speletjies speel, en Petra le Roux van die ATKV-gesinstak gaan ’n motiveringspraatjie lewer.
Desireé McCallum, voogopvoeder van die Struisies-tak, sê die seuns van Huis Triomf sien elke jaar geweldig uit na die besoek. “Die dankbaarheid word telkens gesien in die glimlagte en dankie sê agterna. Die aandag wat hulle kry en die interaksie met ons leerders beteken vir hulle baie. Vir ons leerders is dit ook ’n verrykende ervaring om saam met hulle te kuier. Dit moedige empatie en simpatie aan, en laat hulle weer hul bevoorregte posisies waardeer,” sê sy.
Desireé sê die idee vir die jaarlikse kuiers by Huis Triomf het ontstaan uit die behoefte om uit te reik na mense in minderbevoorregte situasies. “Die doel is om ons leerders blootstelling en geleentheid te gee om ander se behoeftes raak te sien en iets daaromtrent te doen. Dit bevorder nasiebou en vestig verantwoordelikheid en respek onder ons leerders. Hulle het groot harte, en dit is wat ons tak en taklede so besonders maak,” sê sy. Die Struisies beplan ook om vanjaar gebreide handskoene, skoolsokkies en komberse bymekaar te maak vir die kinderhuis. “Ons taklede se harte is oop en ons sukkel nooit om benodigdhede bymekaar te maak nie. Skenkings van watter aard ook al uit die gemeenskap is egter áltyd welkom en word opreg waardeer,” sê Desireé.