Suidoosterfees: ATKV by dié aktiwiteite betrokke

Die Covid-19-pandemie het ons gestroop van groot byeenkomste, familietyd en grootliks ons vryheid ook. Dit het ook feeste benadeel.
Die meeste van die groot feeste soos Aardklop, Vrystaat Kunstefees en die KKNK is verlede jaar summier uit ons kalenders geskrap, maar nou ’n jaar later blyk dit dat die lewe weer na normaal toe terugkeer en gaan van die feeste hopelik weer kan voortgaan.
Een so ’n fees wat vir baie feeskatte ’n groot hoogtepunt is, is die Suidoosterfees.
Die ATKV ondersteun al vir die afgelope 15 jaar dié immergewilde fees en as taal- en kultuurorganisasie gee die ATKV erkenning aan al die variëteite van die Afrikaanse taal. Vanjaar gaan die ATKV die ryke en diverse Suidoosterfees as borg ondersteun.
“Die ATKV erken dat Afrikaans oor ’n verskeidenheid erfenisse bestaan (taal en kultuur). Die Suidoosterfees bied die ATKV die perfekte geleentheid om dié visie na te jaag,” sê Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV.
Die ATKV ondersteun vanjaar die Jakes Gerwel-gesprekreeks, die Suidoosterfees-talentsoektog en Jodi Jantjies, ATKV-Crescendofinalis, sal tydens die Suidoosterfees Ekstravaganza optree.
Weens Covid-19 sal die ATKV nie vanjaar die ATKV/Rapport-plaaskoorkompetisie en ATKV-Boeke-oase by die fees kan aanbied nie.
“Kunstefeeste is ’n fantastiese geleentheid waar die ATKV en strategiese vennote trots deur gemeenskappe en kultuurgoedere Afrikaans en Suid-Afrikaans kan vier,” sê Gerrie.
“By feeste kry jonk en oud die geleentheid om kreatief om te gaan met Afrikaans en die kunste.
“Deur gesprekke, debatte en dialoog, opvoerings en konserte kry gemeenskappe, entrepreneurs en kunstenaars die geleentheid om brûe te bou en andersheid met egtheid en warmheid te omarm. Daarom is dit vir die ATKV belangrik om kunstefeeste te ondersteun.”
Die Suidoosterfees vind van 26 April tot 2 Mei 2021 in Kaapstad plaas.
Klik hier vir meer oor die Jakes Gerwel-gesprekreeks.










