Taalgenoot nou vir ’n ieder en ’n elk

Vir die eerste keer in 90 jaar sal die ATKV se bekroonde tydskrif, Taalgenoot, vir Afrikaanse lesers oor die wêreld heen beskikbaar wees.
Die elektroniese weergawe van dié tydskrif sal op die ATKV se webwerf beskikbaar wees. Lede van die ATKV kan steeds die gedrukte weergawe as deel van ’n lidvoordeel ontvang.
Taalgenoot bied soveel meer as die tradisionele nistydskrif: boeiende, interessante stories en artikels oor die Afrikaanse taal, kultuur en leefstyl, asook ’n in-diepte kyk na die werk van die ATKV.
“Ons is baie opgewonde oor die nuwe wending”, sê Johan Jack Smith, redakteur van Taalgenoot.
“Hoe meer mense die tydskrif kan lees hoe beter. Dan kan almal daar buite ook sien met watse wonderlike werk die ATKV besig is.
“Daar is reeds ’n tekort aan Afrikaanse tydskrifte met murg in hul pype en weinig fokus nog op Afrikaanse literatuur, kuns en kultuur. Ons sien uit om meer lesers te by die Taalgenoot-familie te verwelkom.”
Die SA Publication Forum bekroon jaarliks korporatiewe publikasies en Taalgenoot is in 2020 vir die derde jaar agtereenvolgens aangewys as die beste interne tydskrif. Taalgenoot het ook met die pryse vir beste skryfwerk, beste opskrifte en die Loretta Steyn-toekenning vir beste publikasievoorblad weggestap.
Die beoordelaars is dit eens dat Taalgenoot reeds vir die afgelope paar jaar die gehalte bepaal waaraan interne tydskrifte gemeet kan word en dat Taalgenoot jaar ná jaar meesterlike skryfwerk, ontwerp en inhoud aanbied. “In ’n tyd waarin dit uitdagend is om relevant te wees binne die taal- en kultuur-genre, slaag Taalgenoot daarin om eerlike, inklusiewe leesstof van ’n hoë standaard vir lesers te bied.”
In die jongste uitgawe pronk Tarryn Wyngaard, ’n jong Kaapse aktrise, op die voorblad en gesels oor die uitdagende rolle wat sy al moes vertolk.
Wyle Christien Barkhuizen le Roux het kort voor haar dood ’n aangrypende artikel vir Taalgenoot oor die droogte in die Klein-Karoo geskryf.
Johan het ’n draai by die Bull Run gemaak en nou kan jy ook ’n geleentheid kry om die ATKV-Tienertoneelwenners se monoloë eerstehands te beleef.
Taalgenoot is vir jonk en oud; vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk. Besoek http://bit.ly/Taalgenoot2021 of https://atkv.org.za/taalgenoot en lees die tydskrif nou aanlyn of laai die PDF-weergawe af.
* Indien jy nie ’n ATKV-lid is nie, maar die gedrukte weergawe van die tydskrif wil ontvang, kan jy Lillian Meyer by 011 919 9112 skakel om in te teken.