‘Taalgenoot’-redakteur ontvang Jaap Steyn-beurs
Indien jy die Taalgenoot al onder oë gehad het, sal jy weet dat dié tydskrif elke kwartaal insiggewende en boeiende stories bevat en met sy aweregse, kleurvolle voorblaaie ’n plek op jou koffietafel verdien.
Johan Jack Smith, redakteur van Taalgenoot, is nie net ’n bekwame kaptein vir hierdie bekroonde tydskrif nie, maar ook ’n talentvolle skrywer wat vir sy nuutste manuskrip die Jaap Steyn-beurs ontvang het.
Die kontantbeurs word deur die Hiemstra-trust, in samewerking met die Universiteit van die Vrystaat, aan die mees belowende M-student in die tweede jaar van ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan dié universteit toegeken.
Elke student moet aan die einde van hul tweede jaar ’n manuskrip voltooi wat vir publikasie oorweeg word. Johan het reeds in 2019 met sy roman, Zola, gedebuteer.
“Die gedagte is dat ons dit gee aan iemand wie se manuskrip in hierdie vroeë stadium van ontwikkeling die meeste potensiaal vir publikasie toon,” sê Francois Smith, dosent in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat.
Volgens Francois toon Johan se manuskrip potensiaal om, soos Zola, gepubliseer te word.
Zola is ’n misdaadroman waarin twee speurders ’n reeksmoordenaar in Johannesburg, wat jong vroue in ’n taxi oplaai, moet vastrek. Johan het vir sy debuutroman die Eugène Marais-prys gewen.
“Sy nuwe manuskrip is ’n aksiebelaaide misdaadroman wat in Johannesburg afspeel, maar hierdie keer is die sentrale gebeure ’n transitorooftog wat deur drie karakters met Down se sindroom en ’n skisofreen uitgevoer word.
“Die boek bied ’n hoogs vermaaklike, maar ook snydende blik op die absurditeite van die huidige Suid-Afrika. Reeds in hierdie vroeë stadium van ontwikkeling toon die manuskrip die potensiaal en ambisie wat die ondersteuning daarvan regverdig,” sê Francois.
Die Hiemstra-trust, in samewerking met die Universiteit van die Vrystaat (UV) se departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, het die beurs aan die begin van 2022 ingestel, ter nagedagtenis aan prof. Jaap Steyn, die geliefde Vrystaatse skrywer, dosent en navorser, wat in September 2021 in Bloemfontein oorlede is. Hy was 83 jaar oud.
Die digter Lynthia Julius het die beurs verlede jaar ontvang.
Johan sê hy is baie dankbaar vir die beurs.
“Ek wil spesifiek dankie sê vir die Hiemstra-trust wat belê in Afrikaans, ons taal en ons kreatiewe skrywers. Dit dien as motivering om nog meer en nog beter te skryf. Ek wil ook dankie sê vir die departement Afrikaans en Nederlands en ook my studieleiers, Francois Smith en Henning Pieterse, vir hulle geloof in my skryfwerk en manuskrip.”