Taalgenoot-RUK EN RYM gerat om geraas te maak
Is jy ’n opkomende alternatiewe kunstenaar of musiekgroep? Dan is Taalgenoot, die kwartaallikse kultuurtydskrif van die ATKV, se nuwe RUK EN RYM-kompetisie die ideale platform om jou musiek met gerekende musikante en ’n wye gehoor te deel. Boonop sal jy of jou groep ook meeding om musiekvideo’s en opnames van jou/jul liedjies te wen.
RUK EN RYM was die geesteskind van Johan Jack Smith, Taalgenoot se redakteur. Sy skielike heengaan is vir die RUK EN RYM-span ’n reuseverlies, maar daar is besluit om met die kompetisie voort te gaan ter nagedagtenis aan hom.
Jaco van der Merwe, Bittereinder-rymer en die hooforganiseerder van die RUK EN RYM-projek, sê, “Taalgenoot-RUK EN RYM is ’n belangrike nuwe platform in die bedryf wat alternatiewe musikante in Suid-Afrika ondersteun. Ek kan nie wag om te sien hoe hierdie kompetisie nuwe vure van kreatiwiteit en inspirasie laat versprei nie. Alle respek en eer aan die nalatenskap van Johan Jack Smith (Taalgenoot-redakteur en Volkspeler-voorvegter) wie se droom hierdie projek was – elke vlam is vir jou.”
WAT IS RUK EN RYM?
Taalgenoot-RUK EN RYM is ’n musiekkompetisie, gegrond op die destydse Rockspaaider-kompetisie wat deur MK en JIP aangebied is. Nog voor dit, tussen 1995 en 2010, was daar ’n verskeidenheid battle of the bands-kompetisies waaraan jong en opkomende Suid-Afrikaanse musikante kon deelneem, maar deesdae is daar ’n tekort aan sulke kompetisies.
RUK EN RYM is oop vir enige klankskeppende kunstenaars wat alternatiewe musiek met Afrikaanse lirieke maak. Wat beteken “alternatief”? Dit beteken enigiets wat afwyk van die hoofstroom – kunstenaars wat innoveer en wat die strewe na vars klanke en ritmes hoër ag as om neigings te volg. Sanger-liedjieskrywers, bands, groepe, kletsrymers, elektroniese musikante en enigiemand wat oorspronklike musiek maak en Afrikaans in die lirieke gebruik, mag inskryf. As jy dink jy het ’n talent, ’n liedjie of ’n oorspronklike idee wat gehoor moet word, skryf in!
VERDERE INLIGTING
Jy moet beskikbaar wees om op 16, 23 of 30 September in Gauteng op te tree as jy deur die keurpaneel gekies word. Kunstenaars sal 15 tot 25 minute van oorspronklike musiek tydens die uitdunrondes speel. Die keurpaneel bestaan uit Hunter Kennedy (Fokofpolisiekar/Die Heuwels Fantasties), Peach van Pletzen (Van Pletzen/Bittereinder), Jerome Rex (organiseerder van Expression Session en ATKV-Crescendo-vennoot) en Jaco van der Merwe (Bittereinder/Walkie Talkie).
Inskrywings sluit om middernag (24:00) op 2 September 2023. Die semifinaliste sal 7 September aangekondig word en sal dan in die semifinaal-uitdunrondes meeding op 16 September (Railways Café, Centurion), of 23 September (Jarr Bar, Pretoria).
Die finale ronde sal op 30 September by Sognage in Johannesburg plaasvind.
Die beoordelingspaneel bestaan uit Paul Riekert (Battery 9), Jolyn Phillips (Die Wasgoedlyn) en Jaco van der Merwe (Bittereinder/Walkie Talkie).
Die algehele wenner van die kompetisie kry die geleentheid om twee snitte saam met Peach van Pletzen by Planet Awesome in Johannesburg op te neem en een musiekvideo te vervaardig saam met André Badenhorst. Die naaswenner wen een snit by Planet Awesome.
BEPALINGS EN VOORWAARDES:
- Die fokus van die kompetisie is op opkomende (“up-and-coming”) kunstenaars.
- Deelnemende kunstenaars mag nie reeds ’n kontrak met ’n platemaatskappy hê nie.
- Deelnemende kunstenaars mag nie reeds by groot musiekfeeste opgetree het nie.
- Daar is nie ’n inskrywingsfooi nie – RUK EN RYM-inskrywings is gratis!
As jy ’n alternatiewe kunstenaar is of deel is van ’n alternatiewe musiekgroep, is dit nou jou kans. Kom maak saam met Taalgenoot-RUK EN RYM geraas. Skryf in by www.rukenrym.co.za.