Taalgenoot-RUK EN RYM: ’n Tuiste vir alternatiewe kunstenaars
Die wenners van die heel eerste Taalgenoot-RUK EN RYM-kompetisie is op Saterdag 30 September aangewys.
’n Tuiskomplek vir die andersdenkendes, die alternatiewes en die aweregses. Dít is wat Taalgenoot-RUK EN RYM se finaal die afgelope naweek gebied het toe die finaliste van die kompetisie by Sognage in Randburg byeengekom het.
Onder die 10 finaliste – die finaliste is gekies uit 18 semifinaliste wat die voorafgaande twee naweke hul staal gewys het – was daar kletsrymers, rockers en troebadoere wat dit uitgespook het om gekroon te word as die eerste wenners van Taalgenoot-RUK EN RYM.
Dié projek was die geesteskind van die ontslape Taalgenoot-redakteur, Johan Jack Smith.
“Die gedagte was om ’n platform te skep vir alternatiewe kunstenaars wat nie noodwendig die aandag en geleenthede kry wat hoofstroommusikante ontvang nie,” sê Angie Gallagher, medeorganiseerder van die projek.
Paul-Samuel Rheeder, beter bekend as SAMPAULE, is na afloop van die finaliste se optredes aangewys as die wenner van Taalgenoot-RUK EN RYM 2023. Die beoordelaars vir die finale ronde was Paul Riekert (Battery 9), Jolyn Phillips (Die Wasgoedlyn), Augusta Zietsman, Jaco van der Merwe (Bittereinder/Walkie Talkie) en Henk van der Schyf (Droomland/Easy Agency/Lentedag/Mieliepop/Park Acoustics).
Sam sê hy is verheug om as die eerste wenner van dié kompetisie aangewys te word.
“Hierdie kompetisie was vir my so goed gewees, want dit het my herinner aan die doel waarheen ek werk. Dit het my ook herinner dat daar ’n spasie is vir mense soos ek in hierdie industrie. Ek voel soveel minder alleen as gevolg van hierdie kunstenaars. Ek’s net so bly om ’n gemeenskap te hê,” sê Sam.
Sam beskou Taalgenoot-RUK EN RYM as meer as ’n kompetisie – dit is ook ’n geleentheid om met ander alternatiewe kunstenaars te skakel en saam te werk. Hy is opgewonde oor die toekoms, sê Sam. “Ek is so opgewonde oor die kuns wat hieruit gaan kom en ek is opgewonde oor die potensiaal dat dit dalk iemand kan aanraak.”
Die naaswenner, Hendriekx (Drianco Fourie), gaan met Sam akkoord.
“As iemand wat van ’n klein dorpie af kom het ek nooit gevoel asof ek ’n stem gehad het nie. Ek was anders, onderdruk en ek was alleen. Ek het nooit gedink iemand het my as individu herken of eens raakgesien nie, maar ek was verkeerd. Al hierdie wonderlike mense het ’n nuwe vlam in Afrikaans aangesteek wat in baie mense se harte gaan brand,” sê Drianco.
Die derde plek is deur die groepe De Pozi en PARKIEGRA$ gedeel.
SAMPAULE kry nou die geleentheid om twee snitte saam met Peach van Pletzen by Planet Awesome in Johannesburg op te neem en een musiekvideo te vervaardig saam met André Badenhorst en Alan Sayers. Hendriekx wen een snit by Planet Awesome.
Taalgenoot het by die finaal aangekondig dat die wenner, naaswenner en derdeplekwenners ook kontantpryse ontvang.
Die kletsrymer en hooforganiseerder van Taalgenoot-RUK EN RYM, Jaco van der Merwe, sê hy en die res van die beoordelaars was verstom deur die talent.
“Daar was geen beperkings op die genre of watter soort musiek die deelnemers kon bied nie. Ek is self blootgestel aan fantastiese en talentvolle kunstenaars waarvan ek in my sowat 25 jaar in die musiekbedryf nog nooit gehoor het nie.”
Hy meen ’n projek soos Taalgenoot-RUK EN RYM vul ’n leemte.
“In die verlede was daar ’n infrastruktuur. Daar was MK en feeste soos Oppikoppi waar dié soort kunstenaars kon optree. Dit is alles intussen weg en Taalgenoot-RUK EN RYM vul hierdie leemte en bied ’n platform vir alternatiewe kunstenaars.”
Volgens Angie was die projek hoogs suksesvol. “Die meer as 70 inskrywings wat vir die kompetisie ontvang is, spreek daarvan dat Johan se gedagte dat daar ’n sterk teenwoordigheid van alternatiewe musiek in Afrikaans is, inderdaad so is,” sê Angie.
Volgens haar het die kompetisie reeds sinergie tussen die deelnemers veroorsaak.
“Twee van die finaliste, Richii en De Pozi, het reeds ’n liedjie saam opgeneem. Dit wys dat die kunstenaars ’n gemeenskap gevind het waar hulle tuis voel.”
Jaco stem saam met Angie.
“Daar het ’n gemeenskap gevorm. Die deelnemers was van regoor Suid-Afrika. Van Bloemfontein en die Kaap tot Lichtenburg, Kathu en Okiep. Baie het gedink hulle is alleen daar in hulle hoekie of dorpie, maar met Taalgenoot-RUK EN RYM het hulle besef daar is ander wat soos hulle dink en voel.”
Jaco meen Taalgenoot-RUK EN RYM gaan van krag tot krag gaan.
“Johan Jack Smith het hier ’n groot nalatenskap gelos. Ons gaan voortbou op hierdie sterk fondasie en hopelik volgende jaar twee bene van die kompetisie hou. Taalgenoot-RUK EN RYM gaan nog ’n lang asem hê.”