Taalgenoot TOP 5: Vyf hatige Afrikaanse televisierolle

Hier is vyf rolle wat deur Afrikaanse akteurs in Afrikaanse televisieprogramme vertolk is, wat jou ma of ouma nie sou kon weerstaan nie. Hulle was ongeskik, kwaadwillig en sommer pleinweg boos. Hulle het telkemale die tantes aan hul tee laat stik en laat gil: “Ai, nee, jou swernoot!”. Eerbare benoemings is Knersus, die Gifappeltjies en Chantelle Stander as Kimberley in Egoli. Dit blyk wel of ouer Afrikaanse reekse se kwaadklitsers meestal manlik was. Wie is julle mees gehate akteurs in plaaslike reekse?
- Scot Scott as Jack Steyn in Agter elke man
Jack Steyn was net bloot onguur van die begin af. Lank voor Jack (Scot Scott) in ’n helikopter rondgevlieg het, op soek na skatte, het hy sy arme moeder, Tant Stienie (Dulsie van den Berg), teen die mure uitgedryf – nie eers te praat van die arme Suzie (Sulette Thompson) nie. Bruce Beyers (Steve Hofmeyr) het ook seker ’n effense bose streep gehad, maar hy was ’n engeltjie teen Jack. Suzie het gelukkig sy draadjie met ’n mes in die pens kortgenip. Regte “rubbish”, soos sy eie ma sou sê.
- Hannes van Wyk as Krynauw du Boisson in Egoli
Krynauw was aanvanklik nogal populêr onder kykers, toe ondergaan hy ’n diaboliese gedaanteverwisseling en almal het dit ontgeld – van Nenna (Sharleen Surtie-Richards) tot Nora (Marietjie Barnhoorn) – niemand was veilig van sy giftong nie (nie eers te praat van Braam, sy vorige lewensmaat in die sepie nie). Dit was só erg dat twee Engelse tantes hom in 2007 met warm koffie by ’n vulstasie in Johannesburg bygedam het. Ons is seker daar is nou nog tantes en omies wat as gevolg van wat Krynauw alles gedoen het, steeds weier om Pasella te kyk.
- Cobus Rossouw as Dirk du Plessis in Sonkring
“Hy speel altyd die vark!” was my ma se woorde. En Sonkring was my eerste ervaring met die “vark”, Cobus Rossouw, as Meneer du Plessis. Die deel waar hy die jong lat pakslae gee vir Chantel Stander se karakter sou nie so erg gewees het as dit nie REGTIG in klaskamers gedurende daardie tyd gebeur het nie (sien die insetsel hier, en gaan na 29:05). Om dinge erger te maak, moes Maryna (Anna-Mart van der Merwe) se jonger broer (vertolk deur Chris Chameleon), wat 'n verstandelike gestremdheid het, ook houe van Meneer du Plessis af vat. “Ryna, help my!” Genade, wat ’n swernoot was hy darem nie.
- Emgee Pretorius as Priester in Vyfster
George Ballot se rol as Skollie is in ons verbeeldings ingeprent – die vermaaklike mannetjie met die sterretjie-tatoeëermerk op sy oor wat sy blikbord behendig met sy lepel bekrap. Maar in daai tronkgange het ’n booswig van formaat geskuil –Priester. Ver verwyder van Koöperasiestories (as Veldsman), het Emgee Pretorius kykers vrees op die lyf gejaag met sy “priesterlike” houding van boosheid (klik hier en gaan na 6:45). Hy was Pappa (gespeel deur Patrick Mynhardt) se boodskapper, want Pappa het nooit gepraat nie. Dis erg genoeg dat jy in die tronk beland, soveel erger as Priester in jou nek blaas.
En die wenner van boosheid is:
- Schalk Jacobsz as Meneer Erlank in Het van Verlangekraal
My eerste kennismaking met ’n booswig, toe ek nog ʼn tjokkertjie was. Arme Het, die vrygeestige kind, het gereeld onder Meneer Erlank se rottang deurgeloop. Veertig jaar later onthou ek steeds die insident waar hy haar met ’n rottang op die sitvlak bydam... Ek kon die insetsel waar hy haar op haar hande pak gee (gaan na 21:12 sekondes) op die internet vind – ’n inleiding tot wat die militaristiese monster later in die reeks gaan doen. ʼn Mens wonder wel of daar nie behoorlike byklanke tydens die reeks was nie, want die houe klink maar futiel.
Wie is jou gunsteling booswig vanuit televisiereekse?
deur Johan Jack Smith
Bronne: Youtube en www.4rfv.com