Taaltoktokkies wil leesprobleme klop
Altesaam 82% van Suid-Afrikaanse gr.4-leerders kan nie met begrip lees nie – en dit is ’n probleem wat sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie vererger het. Dít is van die bevindings wat die Leespaneel 2030 onlangs in ’n verslag bekendgemaak het. Dié paneel bestaan uit 18 gesiene Suid-Afrikaners wat jaarliks byeenkom om die vordering te hersien wat gemaak is om te verseker dat alle Suid-Afrikaanse kinders lees met begrip teen die ouderdom van 10 jaar oud kan bemeester.
Met dié skoksyfers in gedagte, het die ATKV-jeugtak Taaltoktokkies van die Hoërskool Oos-Moot in Pretoria in April ter viering van Wêreldboekedag ’n boekinsameling gehou. Altesaam 1 300 boeke is ingesamel en aan die Reiger Park Primary School in Boksburg geskenk om dié laerskoolkinders weer opgewonde oor lees te maak.
Talita Nabal, takvoog, sê hulle wou deur die viering van Wêreldboekedag weer elke leerder bewus maak van die wonderwêreld wat opgesluit is in boeke. Hulle wil ook deur hulle boekskenking ’n leeskultuur onder kinders bevorder.
Justus Abrams, bestuurslid van die ATKV-tak Pot Pap in Boksburg, wat die boeke in ontvangs geneem het, sê hulle is ontsettend dankbaar vir die skenking, en dat dit hopelik weer elke leerder van die Reiger Park Primary School nuuskierig sal maak oor stories en só aan die lees sal kry.
“Ons wil graag hê die kinders moet voel, lees is lekker, dit is pret,” sê hy. “Ons sit met ’n reuseprobleem dat kinders wat hoërskool toe gaan nie met begrip kan lees nie. Sommige kan glad nie lees nie. As jy kan lees, kan jy die lewe aanpak! Lees bevorder nie slegs geletterdheid nie, maar leer jou ook ander vaardighede, soos deursettingsvermoë en geduld. Lees is meer as net die ontsyfering van woorde op ’n bladsy – dit is ’n poort na kritiese denke, kreatiwiteit en probleemoplossingsvaardighede, wat kernbelangrik is in die 21ste eeu.”
Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.