Tak vereer inwoner vir haar bydrae tydens waterkrisis

Die ATKV-tak Die Juweel, op Graaff-Reinet, het onlangs erkenning gegee aan inwoner Corene Conradie. Sy het ’n geweldige impak gemaak tydens die waterkrisis in dié dorp en die omliggende gemeenskap. Soveel só dat die hulpverleningsorganisasie Gift of the Givers vir haar ’n pos as Oos-Kaapse projekbestuurder vir dié organisasie aangebied het.
Die waterskaarste in dié deel van die land het in 2019 krisisafmetings aangeneem toe die dam wat die omgewing voorsien se vlak tot 1% gedaal het. Vir menige gesin in en om Graaff-Reinet het dit beteken dat hulle drinkwater moes koop. Water uit die krane was besmet en ondrinkbaar. Op ’n dag het ’n siek vrou voor Corene se kantoor inmekaargesak. Sy was te swak om weer op te staan. Corene is tot aksie geroep toe die vrou vertel hulle het nie geld om drinkwater te koop nie en dat haar hele gesin diarree het omdat hulle slegs die kraanwater het om te drink. Corene het ’n ambulans ontbied om die vrou hospitaal toe te neem, haar adres gekry en belowe om water na haar gesin te neem.
“Toe ek egter in die woonbuurt kom, het ek besef die krisis is veel groter as wat ek my kon indink. Daar was nie ’n druppel water vir enigiemand nie. Babas, ma’s, siekes. Kinders moes skool toe gaan. Wat van higiëne...” vertel sy.
Dit het haar gedryf om ’n projek te begin dat mense water skenk en dit dan voorsien word aan minderbevoorregtes wat dit nie kon bekostig nie. Corene het ’n Facebookblad geskep waardeur sy ’n bewustheid van die krisis geskep en mense vir waterdonasies gevra het. Onder andere ’n sakeman en ’n boer het gereageer en op dié manier het sy ’n tenker bekom en die boer het sy boorgat beskikbaar gestel. Toeriste wat van die krisis te hore gekom het, het bottels water by gastehuise gelos. Intussen het sy haar voltydse werk by ’n versekeringsmaatskappy opgegee, want “die behoefte (aan water) was geweldig groot” en sy kon nie alles behartig nie. Vir ’n ekstra inkomste om na haar drie dogtertjies om te sien en huur te betaal, het sy saans gebak en soggens bestellings afgelewer voordat sy weer by die waterprojek ingeval het. Die projek se impak was so groot dat Gift of the Givers daarvan te hore gekom en toe ook vragmotors vol water na Graaff-Reinet aangery het. Hulle het verder ook 13 boorgate gesink by onder meer ’n hospitaal en verskeie skole sodat die gemeenskap self water kon bekom.
Mense soos Corene maak ’n daadwerklike verskil in gemeenskappe. Die ATKV-tak Die Juweel is geweldig trots om te kan sê Corene is ’n Graaff-Reneiter en nie bang om haar hande vuil te maak nie.
Klik hier as jy betrokke wil raak of by ’n ATKV-tak wil aansluit.