Takke by ATKV-Kultuurkuier 2024 vereer
Teen dié tyd is dit geen geheim dat ATKV-takke nie net woeker in hulle taal nie, maar ook ’n wesenlike verskil in hulle gemeenskappe maak.
Van Prieska tot Fouriesburg en oral tussenin sal jy ’n ATKV-tak vind. Hulle is amper soos ’n vulstasie en ’n kerk – elke dorp het een en daar waar hulle gevestig is, maak die takke en hulle lede ’n onmisbare impak.
Met die ATKV se onlangse Kultuurkuier by ATKV-Buffelspoort is dié takke en hulle projekte vir hul harde werk en uitnemendheid vereer.
Die takke se projekte is in verskeie kategorieë benoem, insluitend taal, leesbevordering, die kunste, onderwys en opleiding, sosiaal-maatskaplik en omgewingsbewustheid.
Een van die takke wat vanjaar in die kunste-kategorie vereer is, is die ATKV-tak Arendsnes.
Dié tak het verlede jaar opslae gemaak met hulle hekelmarathon, met verskeie ander ATKV-takke landswyd wat ook aan die projek deelgeneem het.
“Die omvang van en die reaksie wat ons op hierdie projek ontvang het, het ons almal verstom. Dit wys net weer dat daar nog goed in die wêreld is,” sê Leandra van Wyk, ondervoorsitter van die tak.
Hekelaars het by 104 hekelstasies regoor die land byeengekom om aan die 30 uur lange hekelmarathon deel te neem.
Daar is uiteindelik meer as 2 000 blokkieskomberse vir behoeftiges gehekel.
Die ATKV-jeugtak Afriganza se kleuterboekprojek is in die leesbevordering-kategorie benoem.
Dié jeugtak het boeke ingesamel en aan die Esselenpark-dagsorgsentrum se biblioteek geskenk.
“Ons besoek aan die Esselenpark-dagsorgsentrum het my opnuut laat besef ons werk met kinders; met die toekoms van ons land. En al word elke kind ’n grootmens, is daar altyd innerlik ’n klein kindjie wat gekoester moet word,” sê takvoog Karla Vink.
Die ATKV-tak Dames van Hoop en die ATKV-tak Ennerdale Baanbrekers het kragte saamgespan en ’n groentetuinprojek in die gemeenskap begin. Hulle is in die omgewingsbewustheid-kategorie vir hulle werk vereer.
Die twee takke het opleiding aan die gemeenskap gegee en hulle van sade voorsien.
Donovan Koopman, voorsitter van die ATKV-tak Ennerdale Baanbrekers, sê die doel van die groentetuinprojek is selfbemagtiging en liefdadigheid.
“Almal wat opleiding ontvang het, sal sade kry, want hulle weet nou hoe die projek werk, hoe om groen te gaan en hoe om groentetuine te bou,” sê hy.
Die ATKV-tak Vorentoe woeker al ’n geruime tyd met hulle Afrikaans in Soweto-projek en het ’n klop op die skouer gekry vir hulle werk om onderwys en opleiding te bevorder.
Die projek het ten doel om Afrikaans in Soweto as ’n vriendelike taal te bemark deur die aanbied van Afrikaansklasse vir kinders van die omgewing op Saterdagoggende en sommige weeksmiddae.
Dié projek het oor die jare van krag tot krag gegroei en projekbestuurder Suzie Matlhola en haar span help deesdae tientalle kinders van verskillende skole in Protea Glen en Soweto om Afrikaans baas te raak.
Hetsy dit is om kinders aan die lees kry, die honger te verdryf of ’n hele gemeenskap met groentetuine te bemagtig, een ding is seker: ATKV-takke maak ’n reuseverskil in hulle dorpe.
Hier is die wentakke wat tydens die Kultuurkuier met die louere weggestap het.