Takuitdaging maak reuseverskil in oues se lewens

’n Sekere groepering binne die samelewing kry toenemend swaar. Bejaardes wat afhanklik is van SASSA-toelaes het nie eers meer geld vir net die broodnodige nie. Baie bejaardes word by versorgingsoorde afgelaai en daar vergeet. Met die toenemende hoeveelheid jonger mense wat die land verlaat op soek na groener weivelde, is daar baie bejaardes wat nie kind of kraai naby het nie.
Johan Jack Smith, redakteur van Taalgenoot, is werksaam in die ATKV se kommunikasieafdeling. Hy het ’n paar jaar gelede die Gerald Fitzpatrick-tehuis in Bertrams, Johannesburg besoek toe daar foto’s geneem is vir ’n storie in Taalgenoot. Johan sê hy het nog altyd ’n sagte plek vir ouer mense, veral dié in moeilike lewensomstandighede.
“Die verval in die area waar dié tehuis geleë is, is skokkend. Hierdie tehuis is ook net vir vroue, maar vroue van alle rasse. Terwyl ek so met die tannies gesit en gesels het, het hulle tragiese verhale my regtig diep geraak. Baie is sommer net daar afgegooi toe die kinders oorsee is. Die tehuis is dus grootliks van skenkings afhanklik om darem net ietsie meer as die basiese te kan gee.
“Vroeër vanjaar het die idee om uit te reik na hierdie spesifieke tehuis by my begin posvat. Ek het die Kunstejêm-tak van die ATKV genader en gehoor of hulle bereid sou wees om so ’n uitreikprojek na die Gerald Fitzpatrick-tehuis aan te pak. Hulle het dadelik ingestem. Ek het egter besef dat ’n mens veel meer kan doen as om bloot net ’n verskil te maak vir die 40 of so inwoners van die tehuis. Ons het besluit om ander ATKV-takke uit te daag om ook ’n uitreikprojek na ouetehuise of versorgingsoorde in hulle dorpe of gemeenskap aan te pak. Dan is die impak soveel groter. So is Projek Takdaag gebore,” verduidelik Johan.
Elda Kruger, bestuurder: ATKV-takke, sê verskillende takke landswyd is op ’n daaglikse basis betrokke in die gemeenskappe waar hulle woon en werk. Volgens Elda is daar al in die verlede verskeie kere gesels oor die moontlikheid om die takke landswyd dieselfde fokusprojekte te laat aanpak en so ’n daadwerklike verskil in mense se lewens te maak. Dit was dus verblydend toe die Takdaag-inisiatief van stapel gestuur is, juis omdat die ATKV op hierdie manier nog ’n groter impak kan maak.
’n Hele paar ATKV-takke het ingespring. Die ATKV-tak Comienzo het vier ouetehuise in Randfontein besoek en 180 bederfpakkies uitgedeel. In die bederfpakkies was daar seep, toiletpapier, lyfroom, sjokolade en pantoffels. Die ATKV-tak Rouxville het ook die uitdaging aanvaar en 24 pakkies gemaak en uitgedeel by ’n plaaslike ouetehuis. Die ATKV-tak Spandaukop op Graaff-Reinet het besluit om die bejaardes op ’n ander manier te bederf: hulle het ’n heerlike braai vir die ouetehuis se inwoners gereël. Die ander twee takke wat ook aan die Takdaag deelgeneem het, was die ATKV-damestak Cradock en die ATKV-jeugtak HSD Delf Diep op Douglas. Cradock se dames het 45 bederfpakkies opgemaak en gaan uitdeel en die jongmense op Douglas het 74 bederfpakkies uitgedeel.
“Ons is baie dankbaar vir dit wat die Takdaag-projek reggekry het. Almal wil graag ’n verskil in hulle gemeenskap maak, maar weet nie altyd wat om te doen nie. Met die inisiatief wat die ATKV-tak Kunstejêm aan die dag gelê het en die uitdaging wat hulle aan ander takke gerig het, het hulle eintlik die bal aan die rol gesit. Die lekker ding van hierdie projek is dat elke dorpie, hoe klein ook al, ’n ouetehuis of versorgingsoord het, en op daardie manier kan die kleiner takke ook ’n verskil maak. Dis beslis nie iets wat jy net in groot stede kan doen nie,” sê Johan.
Hy vertel dat hierdie uitreikaksie nie die enigste vir die jaar is nie. Teen die einde van die jaar gaan van die taklede daar in die Gerald Fitzpatrick-tehuis se tuin werk en daar gaan ook Kerspakkies uitgedeel word. Hopelik kan daar weer vroeg in die nuwe jaar ’n volgende besoek gedoen word om bederfpakkies uit te deel.
“Ek het groot waardering vir die feit dat hierdie Takdaag-projek gemik is daarop om ’n verskil aan bejaardes te maak,” sê Elda Kruger. “Die ouer generasie wat vir ons so baie wysheid bring en so baie beteken het oor die jare verdien dit om die beste moontlike behandeling te kry. Dit is nie altyd moontlik met die beperkte begrotings van die tehuise nie. Gelukkig poog die ATKV-takke landswyd om ’n verskil aan hierdie ouer generasie se lewens te maak. Dit is vir ons belangrik om vir die individue steeds die gevoel te skep dat hulle iewers hoort en dat daar vir hulle omgegee word. In baie gevalle het hierdie bejaardes nie familie naby wat verjaarsdae, Kersfees en ander spesiale dae met hulle kan deel nie. Dis vir die ATKV ’n voorreg om daardie familierol te mag vertolk.”