Tehuis-inwoners lekker snoesig vir die winter danksy Kuilsriviertak
Om hoop en vreugde aan ander te bring is goed vir die siel, verstand en gesondheid. Studies het al bewys dat mense wat gemiddeld twee ure per week van hul tyd en aandag vrywillig aan hul medemens gee, hul funksionele vaardighede langer behou, oor die algemeen gelukkiger is en meer vervuld voel.
Die ATKV-tak Kuilsrivier se liefde in aksie kring wyd uit en lede en diegene wat baat by hul vele projekte ervaar die ware betekenis van omgee en uitreik. Die tak het onlangs klere ingesamel vir inwoners van Huis Sonop in Belville.
Huis Sonop is geleë op die Stikland-hospitaal se gronde en huisves 61 inwoners met langtermyn- psigiatriese probleme soos bipolêre versteuring, ADHD en grenstipe-persoonlikheidsteuring. Hulle het hulp nodig om die alledaagse lewe beter te kan hanteer. Volgens Celésti van Zyl, voorsitter van die tak, is die gemeente waarin sy en haar man is reeds jare lank by Huis Sonop betrokke en só het sy gehoor dat daar ’n behoefte aan klere is. Taklede het klere ingesamel met die fokus daarop dat dit goeie kwaliteit, bruikbare klere en skoene sou wees. Taklede het self klere geskenk en daar is ook skenkings van buite die tak gekry. “Daar was ’n spesifieke behoefte aan sweetpakke vir die koue wintermaande – lekker warm en gemaklik vir die inwoners,” sê Celésti.
Sy vertel van die eerste keer toe sy die tehuis besoek het. “My eerste besoek aan Huis Sonop was ’n emosionele ervaring. Ek het daar weggery met ’n dankbare hart en die besef dat ons hier besig is met iets groots en goeds.”
Die Kuilsriviertak is van plan om die projek verder uit te brei. “Ons wil in die toekoms nie net vir hulle klere skenk nie, maar hulle ook op ’n manier probeer besig hou – dalk konsert hou. Ons weet reeds van ’n laerskool wat ook graag betrokke wil raak. Ons het ook gedink aan fisiese oefening soos gesigoefeninge om hul gesigspiere te oefen, en dit kan terselfdertyd ook humor bring,” sê Celésti.
Volgens Celésti is dit ’n “goedvoel, warm-om-die-hart gevoel-projek”. “Dit is altyd lekker om ’n verskil in ander se lewens te maak; iets van waarde vir die samelewing te doen. Hierdie mense was uiters dankbaar en só opgewonde oor die klere. Hulle het dit dadelik aangetrek om te wys hoe mooi hulle daarin lyk. Dit is ook vir die taklede goed omdat hulle kan sien ons maak ’n verskil. Een van die versorgers het iets gesê wat my diep geraak het: hulle sal dalk jou naam vergeet, maar hulle sal nooit vergeet hoe jy hulle laat voel het nie.”
Die ATKV-takke is die hart van die ATKV en deur hul projekte en werksaamhede in hul gemeenskappe help hulle om ’n beter Suid-Afrika te bou. Klik hier as jy wil betrokke raak of by ’n ATKV-tak wil aansluit.