Toerismevaardighede skep geleenthede vir kinders
Die ATKV-tak Solitaire het hande gevat met Children’s Camp Namibia en die Noordwes-Universiteit (NWU) om leerders in hul distrik op te hef, met kennis toe te rus en hoop te gee vir ’n blink toekoms. Marco van den Berg, streeksbestuurder, sê die ATKV-tak Solitaire se fokus is om kinders vanuit Maltahöhe, Namibië, en die omliggende distrik ’n goeie kans in die lewe te gee. Hy sê, “Die kinders is meestal gestremde kinders, terwyl verskeie programme aangebied word vir skoolkinders en straatkinders.”
Die tak werk saam met Children’s Camp Namibia op die plaas Gamis, wat ongeveer 5 km suid van Nabaseb is op die Maltahöhe-pad na Solitaire. Die langtermynvisie is om gestremdes op te lei om sinvol te kan deelneem aan die lewe en die ekonomie, maar die kamp beoog ook om gestremdes permanent te huisves. Hulle sal dan op die plaas werk en daar ’n lewe kan maak. Namibië het van die hoogste syfers wanneer dit by kinders met gestremdhede kom. Verskeie redes, soos armoede, drankmisbruik en wanvoeding speel ’n rol. Die kinders word ook baie uitgebuit, mishandel en verwerp.
Tydens vakansies word daar vir skoolkinders breinknopers aangebied, saam met allerlei avontuuraktiwiteite wat hulle dwing om hul analitiese- en logiese vaardighede te gebruik. Spanwerk word ontwikkel en individue word blootgestel aan uitdagings en hoe om hulle te oorkom. Van die breinknoperspeletjies is aanlyn en een van die bekendste is die sogenaamde “beaver challenge”.
Straatkinders gaan ook in die toekoms gehelp word met basiese vaardighede wat hulle kan help om moontlik werk op plase te kan kry. Die NWU het spesiaal ’n kortkursus saamgestel wat die kinders kan help om basiese toerismekennis op te doen. Prof. Peet van der Merwe en prof. Elmarie Slabbert is steeds betrokke by die program en daar word beplan om eerste die aanbieders en personeel by Gamis op te lei. Boere in die omgewing het ook ingewillig om basiese plaaswerkvaardighede, soos draadwerk en vleiswerk, te kom help oordra.
Die leerders sal ook basiese vaardighede leer om in ’n spysenieringsomgewing te kan werk en die departement van verbruikerstudies in die Noord-Kaap het spesiaal ’n resepteboek saamgestel met basiese resepte vir leerders. Die ATKV-tak Rooiduin het die boek help opstel en daar is reeds kinders op Gamis wat die resepteboek gebruik.
Basiese rekenaarvaardighede is ook deel van die kursusse, tesame met finansiële beginsels, sodat hulle weet hoe om hul geld te bestuur.
Die NWU se kortkursus het ook ’n afdeling vir wildsplaasbestuur, jag en spoorsny en allerlei toerisme-georiënteerde vaardighede. Leerders kan dus met die kursus en deeglike assessering ’n sertifikaat ontvang wat die ATKV en Solitaire Lodge uitreik om aan te dui dat die leerder wel die basiese vaardighede kon bemeester.
Sluit aan by die ATKV en #weesdieverskil. Om jou naaste ATKV-tak te vind, besoek atkv.org.za/ons-storie/gemeenskap/. Indien jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig, stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za.