Toneelfinaal 2025 ’n magnetiese fees van talent!

Danksy magnetiese tieners en tjokkers wat met hul passie die verhoog onweerstaanbaar gemaak het, moes ’n swaargewig-beoordelaarspaneel behoorlik kopkrap om die wenners van die gewilde ATKV-Tienertoneel- en ATKV-Tjokkertoneelkompetisies aan te wys.
Niemand anders nie as die Hoërskool Parel Vallei met Wegwêreld, slegwêreld het daarin geslaag om die beoordelaars met hul puik spel te oorrompel en is as die nasionale ATKV-Tienertoneelwenner aangewys.
Die Hoërskool Noordheuwel het die tweede plek behaal met die produksie Skande (en ’n snytjie brood).
Die Hoërskool Noordheuwel met Sonderling en Wisselkind is as die derdeplekwenner van ATKV-Tienertoneel 2025 aangewys.
Die derde amptelike ATKV-Tjokkertoneelfinaal was deel van die magnetiese ATKV-Toneelfinaal, en die Laerskool De Hoop met Sjuut! het met die louere weggestap as die nasionale ATKV-Tjokkertoneelwenner van 2025.
Die ATKV-Toneelfinaal het vanaf 7 tot 10 Oktober in die Pam Golding Baxter-teater in Rondebosch, Kaapstad plaasgevind. Die beste jong toneeltalent is tydens ’n spogprysuitdeling op 11 Oktober aangewys.
’n Magnetiese aanbieding van kleur, klank en choreografie, verweef met kwinkslae van die akteur en komediant Solomon Cupido as seremoniemeester, het gesorg vir ’n ervaring soos min.
Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV, het tydens die opening van die ATKV-Toneelfinaal beklemtoon dat teater ’n onontbeerlike rol in die samelewing speel.
“Teater is soos ’n magneet – dit trek ons nader, hou ons vas en laat ons nooit onaangeraak nie. Omdat dit konkreet en visueel ewige waarhede vergestalt, is die voortbestaan van teater uiters belangrik. Teater bou op ’n besondere wyse aan ’n jong generasie se kultuur en bied ’n ruimte waar kreatiwiteit en gemeenskapsgees saamvloei,” sê Gerrie.
Hy het ook die ATKV se rol in die bevordering van teaterkuns onder die jeug onderstreep.
“Deur die aanbied van Tienertoneel, Tjokkertoneel en Sêr wil die ATKV die verskillende voordele wat teater en musiek inhou, beklemtoon. Die kunste verbeter ongetwyfeld individuele welsyn, dit versterk akademiese prestasie en laat kreatiwiteit en vernuwing opvlam. Dit het ’n positiewe invloed op individuele keuses en aksies en vorm ons praktyke sodat dit in diens staan van ’n goeie en mooi wêreld.”
Die beoordelaars vanjaar – Jacques Bessenger, Mari Molefe van Heerden, Solomon Cupido, Marlo Minnaar, dr. Chris Vorster en prof. Marié-Heleen Coetzee – was dit eens dat die top-14-produksies tydens die ATKV-Toneelfinaal magnetiese baanbrekerswerk is, en dat die toekoms van teater met sulke talent en innovasie kerngesond is.
Meer as 3 200 magnetiese tieners van regoor Suid-Afrika het vanjaar aan die ATKV-Tienertoneelkompetisie deelgeneem en die topagtproduksies is na die nasionale finaal genooi.
Hier volg ’n volledige lys van wenners tydens ATKV-Tienertoneel 2025 se nasionale finaal:

Die beste verhoogbestuurder is Ánneh Mitrovich van die Hoërskool Parel Vallei in die produksie Wegwêreld, slegwêreld.

Die beste klankoperateur is Markus Knop in die produksie Skande (en ’n snytjie brood) van die Hoërskool Noordheuwel.

Die beste beligtingsoperateur is Connor Mackenzie en Daniel Kirsten in die produksie Skande (en ’n snytjie brood) van die Hoërskool Noordheuwel.

Die beste hantering van tegniese aspekte is Wegwêreld, slegwêreld van die Hoërskool Parel Vallei.

Die beste kameeverskyning is toegeken aan Alistair Jones en William le Roux in die produksie Grootvoet van die Hoërskool Parel Vallei.

Die mees belowende spel in ’n rol behoort aan Kayla Hogewind as Pa en verskeie ander in die produksie Vyf van die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje.

Die beste akteur in ’n ondersteunende rol is Francois Retief as Jakkals in die produksie Grootvoet van die Hoërskool Parel Vallei.

Die beste aktrise in ’n ondersteunende rol is Chenique Pieterse as Gogga in die produksie Skande (en ’n snytjie brood) van die Hoërskool Noordheuwel.

Die beste akteur in ’n hoofrol is Rico Immelman as Antler in die produksie Antler van die Hoërskool Noordheuwel.

Die beste aktrise in ’n hoofrol is Lenadri Groenewald as Milan in die produksie Antler van die Hoërskool Noordheuwel.

Die beste ensemblewerk is toegeken aan Wegwêreld, slegwêreld van die Hoërskool Parel Vallei.

Die beste regisseur is Robert Kruger, Suné Senekal en Amoré van Zyl vir die produksie Skande (en ’n snytjie brood) van die Hoërskool Noordheuwel.
Die ATKV word jaarliks deur produksiehuise genader om uit te reik na die nuutste en beste talent wat die jaar opgelewer het. Die ATKV het daarom vanaf 2024 tydens die nasionale finaal ook ’n ATKV-agentlys saamgestel en bied aan elke akteur wat bekroon word die belofte van ’n bemarkbare profiel wat hulle met selfvertroue in die industrie kan laat instap.

Die ATKV-Agent-akteursrol vir 2025, soos aangekondig deur Gerrie Lemmer, is:
- Rico Immelman
- Ronald Theron
- Lenadri Groenewald
- Carla Moses
- Caitlin Erasmus
Een van die mees magnetiese oomblikke van die aand was toe die ATKV-Tienertoneel-matrikulante van 2025 vereer is vir hul jarelange toewyding aan die teater. Die groep van 51 matrikulante het tydens ’n spesiale segment hul laaste buiging op die ATKV-verhoog gemaak – ’n oomblik van trots en emosie.
Mercia Eksteen, hoofbestuurder: kommunikasie van die ATKV, het die ode aan die matrikulante gelewer en beklemtoon dat hierdie jong kunstenaars die lewende bewys is van die ATKV se slagspreuk, “Belê in jouself, belê in jou toekoms, #weesdieverskil.”
“Hierdie matrikulante is nie net deelnemers nie – hulle is die krag, die voorbeeld en die magnetiese invloed wat wys hoe teater ’n lewe vorm en ’n toekoms rig,” sê sy.

Die beste produksie en wenner van R30 000, asook die ATKV-Tienertoneelwisseltrofee, is die Hoërskool Parel Vallei met Wegwêreld, slegwêreld.
Meer as 1 200 magnetiese tjokkers van regoor Suid-Afrika het vanjaar aan die ATKV-Tjokkertoneelkompetisie deelgeneem en die topsesproduksies is na die nasionale finaal genooi.
Hier volg ’n volledige lys van wenners tydens ATKV-Tjokkertoneel 2025 se nasionale finaal:

Die beste hantering van tegniese aspekte deur tjokkers is Die dag toe Willie Wepener skoolhoof geword het van die Laerskool Durbanville.

Die beste tjokkerakteur is Christoff Els as Willie Wepener in die produksie Die dag toe Willie Wepener skoolhoof geword het van die Laerskool Durbanville.

Die beste tjokkeraktrise is Berné Peters as die swemafrigter (coach)/sielkundige in die produksie Sjuut! van die Laerskool De Hoop.

Die beste tjokkerensemble is toegeken aan Sjuut! van die Laerskool De Hoop.

Die beste tjokkerregisseur is Veronica Geldenhuys en Tronéll Lessing in die produksie Die dag toe Willie Wepener skoolhoof geword het van die Laerskool Durbanville.

Die beste produksie en wenner van R10 000, asook die ATKV-Tjokkertoneeltrofee, is Sjuut! van die Laerskool De Hoop.
Kyk hier na die volledige magnetiese prysuitdelingseremonie op 11 Oktober 2025: https://www.youtube.com/live/cFdMG4jQ-hk.
Blaai hier deur ’n fotoalbum met hoogtepunte van die magnetiese ATKV-Toneelfinaal.
Alle foto’s is deur Nardus Engelbrecht geneem.