Top 8 ATKV-DigiToneel finaliste gereed om die kollig te betree!
Na maande se harde werk – van nuut skryf en speel vir die kamera en die implementering van waardevolle mentorsessies tot deelname aan 'n naelbyt semi-finaal – is die top agt finaliste wat tydens die tweede seisoen van Gekies vir die Kollig op TV gaan skitter, aangewys!
ATKV-projekorganiseerder JJ van Niekerk sê dat hy dankbaar is dat hy nie in die mentorbeoordelaars se skoene was nie. Die top 16 semi-finaliste het vanaf hul inskrywings vir die eerste ronde strate verbeter, en die punte het dit weerspieël.
Hierdie agt finaliste het in hul laaste voorbereiding vir Gekies vir die Kollig, wat vanaf Dinsdag, 11 Oktober, om 19:30 op Via (DStv-kanaal 147) uitgesaai sal word, weer ’n lys terugvoer van die mentorbeoordelaars ontvang.
Hier is die ATKV-DigiToneel top agt finaliste vir 2022:
Carla Hugo van die Hoërskool Zwartkop in Centurion met Oogdruppels is nie gemaak om te drink nie
Danelle Jacobs van die Hoërskool Martin Oosthuizen in Kakamas met Dag 1 is beter as dag 2
Talia Roux van Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes met Spieeltjie Spieeltjie
Karli Marais van die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp met Raas
Lehan Kruger van Helpmekaar Kollege in Johannesburg met Rooi-lip stompies
Lucy Groenewald van Eunice High School in Bloemforntein met Wakker word
Lisa Kukard van die Hoërskool Durbanville in Kaapstad met Legio
Zoé Labuscagne van die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp met Skemer aan ’n toutjie
Die top agt finaliste kry nou die geleentheid om tydens verfilming van die reeks skouers met ons buitementor vir Seisoen 2, Solomon Cupido, te skuur, wat ’n kenner op die gebied van skryf, speel, regie en filmvervaardiging is.
Pietie Beyers is vanjaar se aanbieder van die reeks en hy gaan self inklim om vir oulaas ons finaliste saam met Solomon te help voorberei om die mentorbeoordelaars (Lea Vivier, Mari Molefe van Heerden, Wilhelm van der Walt en Schoemé Grobler) met hul werk te beïndruk.