Trap vir kinders bring hoop na De Aar

ATKV-takke het talle opwindende projekte, en in die 95ste bestaansjaar van dié organisasie is dit asof almal nóg meer moeite doen om met vindingrykheid na vore te kom. Baie projekte word aangepak om lede by hul gemeenskappe te betrek, maar heelwat bring ingrypende verligting of troos aan weerlose mense.
Een van die takke wat al vir 94 jaar deel van dié organisasie se uitreikwerk is, is die ATKV-tak Kro’bossie op De Aar – die tweede oudste tak in die land – wat tans onder voorsitterskap van Toni Ward staan.
’n Besonderse projek wat dié tak aangepak het, is Trap vir kinders wat op Saterdag 20 September in Excelsiorpark in De Aar plaasgevind het. Die prettige fietstrap was van 08:00 tot 14:00 aan die gang.
Fietsryers kon individueel inskryf, of as spanne wat teen mekaar wou kompeteer. Deelnemers is aangemoedig om kleurvol aan te trek en kon so lank trap as wat hulle wou. Daar was ook pryse op die spel vir ’n paar gelukkige trappers.
Die potjiekoskompetisie het gesorg vir groot opwinding. Vier lede in ’n span het meegeding om die titel as kampioen van die dag. Die eerste prys was ’n R250-slaghuiskoopbewys vir elke spanlid en die tweede- en derdepryswenners het met geskenkpakkies weggestap.
Die fondse wat op die dag ingesamel is, is aan die Ethanbeni-tehuis vir gesinsgeweldslagoffers geskenk, en ’n gedeelte gaan ook aan die Hebron-kinderhuis vir getraumatiseerde kinders.
Toni vertel: “Dit is ons tweede Trap vir kinders. Die eerste een is verlede jaar in Oktober gehou en daar is bykans R20 000 ingesamel.
“Die projek het ontstaan nadat ek Poppie se storie gehoor het.”
Kobus Koekemoer en sy vrou, Louisa, is skuldig bevind aan mishandeling en moord op die driejarige Poppie van der Merwe, Louisa se dogtertjie. Kobus was haar stiefpa. Sy is so erg mishandel dat sy uiteindelik op 25 Oktober 2016 dood is.
Toni sê die seer “wat haar pa haar en haar sussie aangedoen het, het my diep geraak. Ons besef nie aldag wat kinders in moeilike omstandighede, oorloë en so meer moet deurmaak nie. Kinders moet weet daar is ook nog goed in hierdie wrede wêreld. As ons hulle nie oppas nie, wie gaan?
“My doel is om een kinderhartjie bly te maak en al wat dit van die publiek vra, is ses ure se genot waarby weerlose mense baat.
“Ons wil sommer baie geld insamel, want ons wil Ethanbeni, waar die mammas en kinders bly, mooimaak, dat dit vir hierdie mishandelde en getraumatiseerde vroue en kinders waarlik soos ’n tuiste kan voel. Ons wil vir Hebron ook ’n mooi Kersboom koop.”
Daar was heerlike kosstalletjies met gunstelinge soos pannekoek, potjiekos, sosaties, springmielies, samoesas, braaiborde en tafels met speelgoed en speletjies. Ouers kon ook by ’n teetuin ontspan terwyl die kleinspan baljaar het.
Toni sê ’n projek soos hierdie sou nie moontlik gewees het as dit nie vir spanwerk en ’n omgee-gemeenskap was nie.
“Ons ander projekte deur die jaar is alles op boeke gefokus. Ons doen uurlange programme met laerskoolleerders en klere-, kos- en speelgoedskenkings wat ons in samewerking met die Heaths Bike Club doen. Al vier skole op die dorp se matrieks kry ook ’n boekpakkie voor die eindeksamen – ons is dus altyd op soek na boeke.”
Indien jy meer wil weet oor die wonderlike werk wat ATKV-takke in ons gemeenskappe doen, of dalk by jou naaste tak betrokke wil raak, klik gerus hier.