‘Troep’: Oorlog is nie ’n verhaal nie
Bun Booyens se Troep is ’n welkome toevoeging tot die boeke oor grensstories wat die afgelope jare verskyn het.
Anelia Heese se Hoekom stotter ons pa’s so? is ’n hervertelling van die rou en soms skokkende stories van Suid-Afrikaanse mans wat in die 1970’s en 1980’s verplig was om weermagdiens te doen. Dit is baie goed ontvang deur lesers en resensente.
Seun van Dana Snyman is die skrywer se eie verhaal oor sy kortstondige tydperk as dienspligtige.
Troep se waarde lê daarin dat dit die ervarings van ’n groot verskeidenheid mans uit alle vlakke van die samelewing is, in hulle eie woorde, knap byeengebring deur Bun Booyens.
Die leser loop saam met die seuns wat op skool al voorberei word met skoolkadette. Daarna lees ons van hulle gevoelens en vrese met militêre registrasie, oproepinstruksies en die inklaarproses. Daarna volg die grenservarings, oorlogmaak, naweekpasse en uiteindelik die uitklaar en heraanpassing.
Bun Booyens het staaltjies van meer as 100 veterane byeengebring. Dit vertel van die harde lewensomstandighede, soos onmenslike oefeninge en ontberings, stof, rat packs, Buffels, landmyne en die verlies van vriende wat nie teruggekom het nie.
Die leser kry die groter prentjie van wat gewone seuns deurgemaak het, wat veterane sal laat terugdink aan hul eie ervarings. Dit sal ook eggenote, kinders en familie van veterane ’n beter begrip gee van die emosionele bagasie wat hulle vandag steeds dra.
Die soldate is nie destyds toegelaat om besonderhede van hul ervarings te gee nie. Gebrekkige ondersteuning en berading, opgekropte emosie, woede, ontkenning en onderdrukking maak boeke soos hierdie nodig.
Volgens die skrywer neig army-stories óf na slapstick óf na tragedie, maar hy slaag netjies daarin om die grys areas tussenin ook te verhelder deur sy keuse van wat om in te sluit.
Interessant is die uitbeelding van die tydsgees, soos die brullende Big Six-karre en Volkswagen Kewers. Ook terminologie wat deurgesyfer het na “civviestraat”, soos: “Vra my, ek’s Moses”, “Hét julle my?”, “Hoor my lied” en meer.
Ten spyte van die swaarkry, is hierdie staaltjies vry van ’n slagoffermentaliteit. Wat uitstaan, is hoe moeilik dit was om naweekpas te kry, en die mense tuis gaan met hul lewens aan, oënskynlik onbewus van wat die seuns deurmaak. Ook die heraanpassing, waarvoor daar geen ondersteuning van owerhede se kant was nie.
Die chronologiese orde van gebeure sorg vir ’n maklike leeservaring – van die eerste stappe van die amptelike bruin koevert met oproepinstruksies in die posbus, tot die uitklaring.
Dis ’n emosionele lees wat frustrerend kan wees, omdat ’n mens besef hoe weerloos en uitgelewer die seuns was. ’n Magtelose woede het my soms beetgepak vir die onreg wat ook plaasgevind het. Dit het gevoel of dit wreed, immoreel, onregverdig en onmenslik was. Alles was waarskynlik nie net sleg nie. Dit het ook ’n gevoel van trots en eenheid geskep, en ’n gedissiplineerde, lojale en verantwoordelike geslag mans opgelewer.
“Oorlog is nie ’n verhaal nie. Dis ’n gevoel, een wat jou op die krop van jou maag tref. En die waarheid daarvan lê in die emosie.” (bl. 300)
Troep word uitgegee deur Penguin Random House South Africa. Koop dit hier.
Resensent: Trisa Hugo