Twee vaar beter as een
Die vennootskap tussen die ATKV-tak Wellington en die ATKV-tak Zoar in die Wes-Kaap is besig om momentum op te bou nadat The Shack Builder, ʼn liefdadigheid wat verbeterde informele behuising bou, betrek is.
Volgens Tharina Schweidler, voorsitter van die ATKV-gesinstak in Wellington, is die verhouding met Zoar steeds aan die ontwikkel, maar daar is tot dusver uitstekende vordering gemaak.
“Ons bestuurspan het onlangs in Zoar besoek gaan aflê met die doel om die plaaslike ATKV-tak se sterkpunte en behoeftes te identifiseer,” sê Tharina.
“Fondsinsameling is ʼn prioriteit vir die meeste takke en dit is een aspek waarmee ons Zoar kan bystaan. Daar is baie geleenthede daarvoor, onder meer deur Zoar se groot, ontwikkelde sportgronde te benut. Dit is ons ondervinding dat heelwat fondse uit sport vir die kleiner takke gegenereer kan word met byvoorbeeld sportdae.
“Ek het in ons kapasiteit om Zoar voortaan van raad en advies te bedien ook met The Shack Builder geskakel, wat eerstehandse kennis het van humanitêre verligting. Humanitêre verligting is nie iets waarmee die ATKV vertroud is nie, dus het ek by Quinton (Adams, stigter van The Shack Builder) kers opgesteek oor hoe ons in daardie verband kan help. Ek en hy het al talle projekte saam gedoen en sy vakkundigheid is goud werd.
“Ons het almal met die Zoar-bestuur vergader om die feite te kry en te besluit hoe ons verder moet beplan.”
Quinton is reeds jare lank betrokke by informele behuising in die Kaap. Hy het dit sy missie gemaak om die waardigheid van mense, veral kinders wat in informele nedersettings woon, te herstel deur vir hulle behoorlike huise te bou.
“Deur iets behoorliks vir mense te bou herstel nie net hul waardigheid nie, maar gee hulle ook ’n kans om hul lewens te herbou,” sê Quinton op The Shack Builder se webblad.
“Ek was as ʼn opvoedkundige sielkundige geskok toe ek die slegte toestande sien waarin kinders in informele nedersettings leef. Die kinders en jeug leef in uiterste armoede en toestande waar geweld gereeld voorkom. Dit belemmer hulle ontwikkeling en hulle bereik nie hulle volle potensiaal nie. Hulle kan nie studeer as daar geen kos en elektrisiteit is nie. In die winter is die weerstoestande erger omdat hul huise oorstroom, en dit lei tot siektes soos tuberkulose.”
The Shack Builder neem werklose jong mans en vroue wat in informele nedersettings woon, in diens.
Wonings word – afhangend van die grootte van die gesin – in verskillende groottes gebou (drie, vier, of ses kamers) en elke kamer is nege vierkante meter groot.
Splinternuwe gevormde yster- en houtpale van drie meter lank word in die bouproses gebruik. Elke dak het ʼn afloop om met die vloei van reënwater te help en Durafoil word onder die dakke aangebring om met die regulering van die temperatuur te help.
Elke kamer het twee of drie goeie tweedehandse houtvensters, wat ook die vloei van lug verbeter. Laastens word ʼn sementvloer in elke woning gelê.
Jonathan Jantjies, voorsitter van die ATKV-tak Zoar, sê die Wellingtonners se besoek het op die regte tyd gebeur.
“Dit was juis op daardie stadium toe ons sopkombuis ʼn moeilike tyd ervaar het,” sê Jonathan.
“Die Wellingtonse tak het op die regte tyd sy verskyning hier in Zoar gemaak en ons het baie waardering vir Tharina en haar span. Ons as bestuur het ná ons ontmoeting besluit ons wil beslis ʼn goeie, gesonde verhouding met Wellington bou. Hulle het ons oë veral laat oopgaan wat betref die wyse waarop hulle fondsinsamelings doen.
“Ons was ook baie opgewonde om Quinton te ontmoet en het aandagtig na hom geluister. Ons het ʼn gesprek met hom gehad oor ʼn projek hier in Zoar, want baie van ons mense is haweloos.”
Jonathan sê sy tak werk aan talle projekte binne die gemeenskap.
“Ons kyk na die behoeftes in ons gemeenskap, en help veral ons inwoners om op ʼn volhoubare manier selfonderhoudend te wees. Ons gee nie net vir hulle kos nie, maar ons leer hulle ook hoe om vir hulself kos te kweek.”
Jonathan sê hy glo en vertrou dit was nie die laaste keer dat die Wellington-tak en Quinton Zoar besoek het nie en spreek ook sy dank uit teenoor Almero Oosthuizen, ATKV-streeksbestuurder vir die Boland en Karoo.
“Ons kan enige tyd op Almero se knoppie druk, dan is hy daar vir ons” sê Jonathan. “Hy gaan uit sy pad om ons te help.”
Jonathan sê Zoar se doelwit vir die jaar is om tien nuwe lede per maand vir die ATKV te werf.
“Ander sake op ons agenda is onder meer om een van ons inwoners wat 104 jaar oud is se huisie oor te doen en haar ʼn klop op die skouer te gee vir die lewensjare wat die Here haar geskenk het. Dan is ons ook besig om mense te vereer wat diep spore in ons gemeenskap getrap het.
“Ons ander projekte sluit in die bou van groentetuine, ʼn leerleesprogram wat uiters gewild is, entrepreneurs in naaldwerk, en ʼn projek waar ons mense in die gemeenskap se skoene regmaak.”