‘Twyfelbos’: Ryk, deurweef van menslikheid

François Loots se Twyfelbos is ’n historiese roman wat nie net die geografiese landskap van die Overberg in 1829 verken nie, maar ook die innerlike landskappe van sy karakters, veral dié van vroue en gemarginaliseerde gemeenskappe binne ’n koloniale bestel. Deur middel van ’n sensitiewe verbeelding, noukeurige navorsing en genuanseerde karakterontwikkeling, herskep Loots ’n spesifieke tyd en plek in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, maar doen dit op ’n wyse wat die universele temas van verlies, identiteit, mag, en transformasie betrek.
Twyfelbos is in heerlike ouwêreldse taal geskryf. Die verhaal volg Sophia Truter, vervreemde vrou van regter Truter, wat ná die dood van haar jongste seun ’n nuwe begin as boervrou op ’n klein stuk grond aan die ander kant van die Kleinrivier maak. Sy werk sonder slawe of ’n voorman.
Sophia wou wegkom van die pretensieuse lewe as vrou van die vername regter Johannes Truter, wat John geword het. Sy wou wegkom van verlies, verwagtinge en die benoude raamwerk van ’n samelewing waarin ’n vrou soos sy min opsies gehad het.
Sy ontwikkel egter nie net ’n plaas nie, maar ook ’n nuwe identiteit: dié van ’n vrou wat self besluit, self werk en self oorleef. Sy dra broek, ry wydsbeen perd en sny haar hare kort. Ongehoord!
Haar toevallige ontmoeting met die vryloper Mandel, ander loswerkers en mense uit die omgewing, bied ’n blik op die lewe in die vroeë 1800’s in die Overberg.
Mandel is vernoem na die wildeamandelboom en gedoop onder die boom van kennis, goed en kwaad. Hy glo in die krag van |Kaggen, maar stel homself voor as Gris, gedoop deur missionaris Kichener, wanneer dit hom pas. In ’n tradisionele Christelike wêreld, bring |Kaggen se teenwoordigheid vanuit Mandel se perspektief vrae oor wie se storie tel en wie reg op plek en betekenis het.
Die toon verander wanneer ’n moord op die bokpad langs Akkedisberg plaasvind en veldkornet Jan Tesselaar moet inspring om die raaisel te ontrafel.
Hierdie vraagstuk word deeglik uitgebeeld deur die karakter van Jan Tesselaar. Hy is oënskynlik ’n tipiese verteenwoordiger van wet en orde, maar agter sy uniform en amptelikheid skuil ’n mens met sy eie vrae, twyfel en oë wat verder kyk as net die oppervlak. Sy rol gaan verder as bloot ondersoekbeampte of gesagsfiguur. Hy beweeg tussen koloniale strukture en die grondvlak-realiteit van mense wat probeer oorleef. Hy kyk nie net na feite nie – hy lees mense en sien hulle diepste menswees raak. Hy neem waar sonder vooroordeel, luister eerder as praat en erken dat die waarheid nie altyd aan die kant van die gereg staan nie.
Ongelukkig is magsmisbruik aan die orde van die dag en onskuldige mense word opgeoffer ter wille van die goeie naam van hoë amptenare.
Esmeralda is ’n jonger vrou met haar eie geskiedenis, haar eie vrae en haar eie soeke na veiligheid en sin. Sy bly vaag oor haar eie emosies, swaarkry en verlies.
Die skrywer sê in ’n onderhoud met Murray la Vita: “Ons het hierdie persepsie dat ons voorouers almal godvresend, wetsgehoorsaam en heteroseksueel was met groot gesinne, maar dit was nie so nie.”
Uit ander historiese romans het ons al geleer dat hulle nie noodwendig godvresend en wetsgehoorsaam is nie. Die eerste keer wat ek die woord “mannetjiesvrou” teëgekom het, was die stories oor Ella Gordon van Karwyderskraal. In Twyfelbos staan ’n mannetjiesvrou sentraal in die verhaal, waarskynlik ’n eerste in Afrikaanse historiese fiksie.
Die vraag is al dikwels gevra of ’n man oortuigend oor seks kan skryf, en hoeveel te meer oor seks tussen vroue. Die seksualiteit tussen twee vroue word in eksplisiete liefdestonele, gekenmerk deur teerheid en begrip, in die allermooiste poëtiese taal beskryf. François Loots slaag uitmuntend daarin om hierdie siniese leser te oortuig.
Die been van die aardwolf wat Sophia optel, grond haar ook as wolwevrou, wat ’n mitiese atmosfeer skep.
Die tydsgees word knap uitgebeeld, deur byvoorbeeld huise se gaandery as fokuspunt in die huis te gebruik, asook sakbrode wat gebak en vir mekaar gegee word as jy onverwags by mekaar opdaag.
Die diepgang in die karakterontwikkeling, veral Sophia se innerlike stryd en groei deur beide haar daadwerklike boerdery en haar verhoudings, verdien vermelding. Verder bied die moordintrige ’n element van spanning. Die kombinasie van ’n historiese agtergrond met ’n moordondersoek gee die verhaal ’n blitsblaaier-kwaliteit. Tog wil die leser stadig lees, die woorde proe, herlees en terugblaai.
“Weemoed is ’n herfswind, troosteloos nooi hy jou na donker aande en koue nagte wanneer net ’n beker brandewyn jou vermoedens help verwoord. Vol geskink of half geskink maak nie saak nie. Daarby help geselskap, die teenwoordigheid van nog ’n siel om van die Ruggens se struikelblokke en strewes te getuig.” (bl. 194)
Die natuur voel amper soos ’n karakter in die boek. Sophia se magteloosheid voel so swaar soos dik suurvylote. Vir Jan skuil daar ’n teenwoordigheid agter elke boom en bos. Daar woon ’n bruinweduweespinnekop in Sophia se gaandery se hoek wat haar telkens geselskap hou.
Die titel Twyfelbos sluit hierby aan. Dit verwys nie net na ’n fisieke plek nie, maar ook na ’n sielkundige en morele landskap waardeur karakters beweeg.
Veral Sophia hou haarself besig met filosofiese vraagstukke. “Dit voel vir Sophia asof alles op een slag gebeur het. Alles: oppak op Kleinrivier, Magdalena, Klein Johannes se dood, hierdie plaas. Alles oorvleuel en sy weet nie meer wat voor wat, en wat ná wat gebeur het nie.
Waar lê ’n begin eintlik?” (p.26)
Dieselfde vraag is onlangs deur Sandra Skinner in Die skuld wat bloed betaal gevra.
Daar is ook ’n element van die mistieke, wat herinner aan Deborah Steinmair, Anoeschka von Meck en Jeanette Ferreira se werk.
Vir lesers wat hou van historiese fiksie, sowel as literêre romans met ’n tikkie spanning, bied Twyfelbos ’n uiters bevredigende leeservaring. Dit bied lesers nie net ’n storie nie, maar ’n stemming, stadig, ryk en deurweef van menslikheid. Elke karakter dra lig én skadu en dis juis dié gelaagdheid wat die roman so boeiend maak.
Die boek word uitgegee deur Human & Rousseau.
Resensent: Trisa Hugo