Van Coke rock Kaapstad-marathon vir AbbAsorg

Die rockster Francois van Coke se besluit om die uitdagende Kaapstad-marathon vir ATKV-AbbAsorg te hardloop is nie net ’n sportiewe uitdaging nie, maar vorm deel van ’n groter visioenêre projek wat die toekoms van jong Suid-Afrikaners kan transformeer.
AbbAsorg is die ATKV se sosiaal-maatskaplike verantwoordelikheidsprogram en Jerome Steenkamp, nasionale bestuurder, verduidelik hoe hul samewerking met Francois tot stand gekom het.
“Ons het in 2023 ’n wonderlike skenking van R1,5 miljoen van Breadline Africa ontvang – nie as direkte kontantbydrae nie, maar as ’n strategiese belegging in die toekoms van benadeelde kinders.”
Francois voeg by: “Ek het nie ’n persoonlike verhouding met AbbAsorg nie, maar ek het in die verlede al saam met Breadline Africa gewerk. Ons het fondse ingesamel vir skole en ek wou dit graag weer met my volgende marathon doen. Dit motiveer my ook om die marathon the hardloop en dwing my om te oefen. So, dit is ’n wen-wen.”
Jerome gaan voort: “Die bedrag wat ons van Breadline Africa ontvang het, word gebruik om vir ons ’n eie kleuterskool by die Laerskool Cloetesville te vestig, wat as ’n pyplyn vir graad R-leerders sal dien.”
Die konsep is eenvoudig: deur gehalte- voorskoolse onderwys te verskaf, word ’n stewige fondament gelê vir kinders se toekomstige akademiese sukses.
“Die konstruksie van die kleuterskool is reeds aan die gang, met die amptelike oorhandiging wat op 6 November 2025 beplan word,” voeg Jerome by.
Die samewerking tussen AbbAsorg en Breadline Africa is geen toevallige gebeurtenis nie.
Prof. Jonathan Jansen, ’n gerespekteerde naam in die Suid-Afrikaanse onderwyslandskap, het die katalisator geword wat hierdie belangrike vennootskap moontlik gemaak het.
Die Kaapstad-marathon is een van Suid-Afrika se mees gevierde sportbyeenkomste en trek nasionale en internasionale aandag – en dit is nie die eerste keer dat Francois só ’n uitdaging aandurf nie.
“Dit is my derde volle marathon en ek het ook al een ultramarathon voltooi,” sê hy.
“Hierdie jaar was ’n bietjie meer van ’n uitdaging, want ek het in Februarie ’n operasie aan my voet ondergaan en kon vir ’n tyd lank nie hardloop nie. Die beste manier om voor te berei is om te hardloop en tyd op jou voete deur te bring.
“Ek dink die tyd alleen – want ek hardloop meestal op my eie – is vir my baie belangrik en ek het geleer ek hou van daardie stilte. Dit is byna soos ’n soort meditasie.”
Francois sê dit is vir hom as ’n bekende musikant belangrik om sy platform te gebruik om goeie sake soos AbbAsorg te ondersteun.
“Mense vra my gereeld om shows te speel om fondse vir instansies in te samel. Ek dink nie dit is die beste manier om dit te doen nie. Om ’n show te gooi, kos baie geld en dit is nie maklik om geld uit ’n show te maak nie. Met die hardloop is daar min onkostes, en ek dink dit is ’n beter manier om te werk te gaan.
“Ja, dit is vir my belangrik om sulke sake te ondersteun sover ek kan. Die boodskap aan my fans is eenvoudig: Help my om die kinders te help. Ek sal my liggaan hard druk om te kan help.”
Francois brei uit oor sy doelwitte vir die marathon.
“My doelwit is vanjaar om die marathon in minder as vier ure te voltooi. My beste tyd is 3 uur 45 minute, maar ná my besering en operasie is ek nie seker of ek so vinnig gaan kan hol nie.”
Waaroor is hy die senuweeagtigste of mees opgewonde?
“Ek is nie op die oomblik senuweeagtig nie, my oefening gaan goed aan,” sê hy.
“Ek is baie opgewonde om weer deel te wees van die marathon en uiteraard is die fondse wat ons insamel die belangrikste deel.”
Op die vraag oor watter liedjies Francois beplan om op sy marathon-speellys in te sluit, antwoord hy: “’n Mens mag eintlik nie musiek luister terwyl jy aan ’n marathon deelneem nie, maar ek luister baie as ek vir oefening hardloop.
“Ek het my Best of 2025 playlist wat die meeste van die tyd speel. Goed soos Viagra Boys se ‘Bog Body’, Sam Fender se ‘Arm’s Length’, Ghost se ‘Lachryma’, ‘Loser’ van Tame Impala en ‘Waiting for Maria’ deur Hunter Kennedy.”
Belangstellendes kan Francois en AbbAsorg op hierdie marathon-reis ondersteun deur die rockster se GivenGain-blad te besoek en ’n bydrae te maak.
“Ek hoop ’n paar kinders se lewens word positief deur my probeerslag geraak,” voeg hy by.
Jerome sluit af met ’n boodskap vir ander kunstenaars wat dalk wil help: “Deur hande te vat, kan ons almal ’n bydrae lewer om hoop te gee aan kleuters wat die toekoms van ons land is. Hul bydrae maak ’n regstreekse verskil om toe te sien dat hierdie kleuters ’n gelyke kans tot ’n beter toekoms kry.”
Die Kaapstad-marathon vind op 18 en 19 Oktober plaas.