Vandag se jeugleiers, môre se verskilmakers!
Die ATKV-Jeugleiersimposium wat die afgelope twee weke by ATKV-Buffelspoort en by ATKV-Goudini Spa gehou is, is ’n dinamiese leierskapontwikkelingsprogram wat ten doel het om die pasverkose graad 11-leerders toe te rus met die kennis, vaardighede en selfvertroue om betekenisvolle leiers binne hul skole, gemeenskappe en uiteindelik in die samelewing te wees.
Ewaldt Scholtz, ATKV-projekorganiseerder wat die simposium fasiliteer, was self een van daardie leerders wat by ’n jeugleiersimposium gebaat het. Die impak op sy lewe was fenomenaal, vertel hy.
“Die simposiums is baie belangrik, want dit is ’n netwerkgeleentheid waar nuwe leiers by ander in die groepsessies kan leer oor wat in hul skole werk.”
Met die tema, “Vandag se jeugleiers, môre se verskilmakers”, het meer as 300 leerders dié vierdag-simposium bygewoon.
Op die eerste voldag het Manie Botha oor persoonlikheidstipes gepraat, Marius Botha het die regte van ’n leier ondersoek en Rian Truter het oor jeugleiers en verskilmakers gepraat.
Manie het die jong leiers op ’n energieke reis geneem deur die wêreld van BrainTribe – ’n unieke, prettige manier om jou brein, jou emosies en jou invloed as leier beter te verstaan.
“As ons verstaan hoe ons brein reageer wanneer ons stres, opgewonde of onseker voel, kan ons ons leierskap elke dag versterk – op die sportveld, in die klaskamer en tussen vriende,” het Manie verduidelik.
Marius het sy praatjie in twee dele verdeel: Die eerste handel oor die vereistes in artikel 11 en 23 van die Suid-Afrikaanse Skolewet en die tweede kyk na die integrering van die graad 12-leiers in die skool, die verteenwoordigde leerdersraad (VLR)-bestuurstelsel en die rol van die hoofleiers van ’n skool. Daar was ook ’n geleentheid om uitdagings in skole te bespreek en moontlike oplossings te vind.
In Rian se praatjie het hy gesê dat leierskap nie ’n lapelwapentjie is nie, maar baie meer. Hy het leierskap aan die leerders geïllustreer deur vir hulle werklike jeugleiers soos Malala Yousafzai, Greta Thunberg en Lars Westra voor te hou.
Op die tweede voldag het Deon du Plessis oor konflikhantering gesels en Lindie Strydom oor leierskap sonder ’n titel.
Deon meen goeie leiers pas hul konflikstyl by die situasie aan.
“Elke keer as jy konflik oplos, bou jy vrede én kultuur. Soek oplossings en nie beskuldigings nie. Wees die verskil in alles wat jy doen met passie en moenie moed opgee nie, al word die situasie hoe vlambaar.”
Deon sluit met ’n aanhaling van John C. Maxwell af: “The true test of leadership is how you function in the face of conflict.”
Die laaste spreker van die dag was die aktrise Lindie Strydom.
“Leierskap begin nie wanneer jy die baadjie aantrek nie, en dit eindig nie wanneer jy dit moet teruggee nie. Meeste kere in jou lewe sal jy móét lei sonder enige titel. Dit is waarom julle vandag hier sit – want iemand het iets in jou raakgesien,” vertel sy.
“Julle het ’n jaar voor julle – gebruik dit anders. Vra hoekom reëls bestaan. Moenie bang wees om ’n beginner te wees nie – die feit dat jy probeer, is reeds ’n oorwinning.”
Dit was gelukkig nie net harde werk en persoonlike groei op die agenda nie – daar was geleentheid om die oord se fasiliteite soos die glybaan, warmbron en speletjies te geniet. Die laaste aand het die hele groep saam op djembedromme gespeel. In waardetyd kon hulle saam stilword en hul geloof versterk.
Van die leerders se kommentaar na afloop van die simposium was dat hulle baie by mekaar geleer het, en dat leiers nie altyd die sterkste of ooglopende keuse is nie, maar sodra jy iemand beter leer ken, ervaar jy hul leierskapseienskappe.
Die sessie oor konflikhantering was van groot waarde vir baie leerders en Lindie se aanbieding oor hoe om menslikheid in ’n verouderde skoolstelsel te behou en eerder leiers as prefekte te wees, het groot indruk gemaak. Sommige leerders het ook gesê dat hulle besef het die kwessies waarmee hulle sukkel nie uniek tot hul skool is nie.
Na afloop van die simposium vertel Ewaldt: “Ek is só opgewonde. Die wêreld is in goeie hande as ek kyk na watter kaliber leiers ons hier bymekaar gehad het. Hulle is puik. Die jeugleiersimposium is ’n wenresep wat werklik werk.”
Kontak gerus vir Ewaldt Scholtz per e-pos by EwaldtS@atkv.org.za of telefonies by 011 919 9023 vir meer inligting.