Verlies, hoop en natuur in Prinsloo se roman verweef
Solank as die aarde het verskyn kort nadat die skryfster Lucia Prinsloo oorlede is, amper dieselfde tyd as Betsie van Niekerk, skrywer van So ook op die aarde. Dit is ’n interessante sinchronisiteit van titels, amper soos die ooreenkomste tussen die temas en milieu waarin die verhale van Jan van Tonder (Grootgeluk), Cas Wepener (Roman) en Chanette Paul (Murasie) afgespeel het, wat amper gelyktydig by drie verskillende uitgewers verskyn het.
Solank as die aarde skop in 1998 af met die intense en emosioneel belaaide begrafnis van ’n vyftienjarige seun, De Viljee, wat tragies in ’n skietongeluk sterf. Hierdie openingsbeeld skep ’n toon van hartseer en verlies dwarsdeur die roman.
Net soos in Damon Galgut se The Promise, is daar ’n paar begrafnisse, wat elke keer ’n groot omwenteling in die Du Preez-gesin se lewe veroorsaak.
Die eerste gedeelte van die verhaal word oorwegend uit Ragel, die dogter op die plaas, se perspektief vertel, en die kern van die verhaal word direk uitgelig. Haar tweelingbroer Cornel kry ook ’n beurt as fokaliseerder.
Kwessies rondom erfgrond wat heilig is, verwagtinge, respek vir wild en natuur, die etiek rondom jag en natuurbewaring is ononderhandelbaar in hierdie familie.
Die titel word ontleen aan Genesis 8:22, en dit word die woorde wat Ragel se lewe rigting gee, wanneer sy deur verskillende faktore genoodsaak word om die boerdery te hanteer. Ragel sien haarself as ’n koordloper op ’n dun kabel wat oor die Opkomsplase span.
Prinsloo se beskrywing van die Soetkloof-omgewing is treffend, lewend en visueel. Sy skilder die plaaslandskap en die poele in die kloof in die allerlieflikste taal. Hierdie gedetailleerde beskrywings is een van die roman se sterkste aspekte, wat die omgewing ’n karakter in eie reg maak. Prinsloo trek treffende vergelykings tussen die mens en die natuur. ’n Voorbeeld hiervan is die witels wat omgeval het, wat Ragel vergelyk met haar ma wat sonder woorde in ’n ouetehuis lê: “Die lewenshabitat het vir haar te klein geword. Nêrens kon sy meer voeding kry nie. Soos hierdie boom het sy maar net omgeval en bly lê.”
Die verhaal van Ragel en haar gesin is baie meer as net ’n plaasroman. Dit vertel van omgewingsbewaring, droogte, boerdery, navorsing oor luiperds en konflik oor water. Daar is onderduimsheid en lojaliteit, siekte en dood, en ’n blik op Namibië en die Skedelkus. Die etiek van jag, natuurbewaring en respek vir die natuur kom sterk na vore.
Die karakters is fyn geteken: die tweeling Ragel en Cornel wat hardloop wanneer dinge vir hulle te veel raak, die kleinboet De Viljee wat sy ma se oogappel was, die pa wat oënskynlik onder sy vrou se duim leef, die navorser en die plaaswerkers. Hierdie karakters is nie net lewendig nie, maar ook genuanseerd, elk met hul eie unieke stryd.
Simboliek resoneer deur die hele roman, wat die karakters se innerlike lewens en die uiterlike wêreld waarin hulle leef, verweef.
Die roman se sterk verhaallyn en die hoë spanningslyn hou die leser deurgaans betrokke. Uit De Viljee se dood vloei verskillende verhaallyne soos wat die verskillende karakters elk op die gebeurtenis reageer. Die verhaal speel verder af in ’n tyd van droogte op die plase, tesame met ’n groot natuurbewaringsinisiatief wat die sukkelende boerderye wil opkoop om die grond by ’n groot bewaringsgebied in te lyf. Hierdie elemente bring nog meer drama en konflik in die verhaal, maar bly bekend en tipies van die Suid-Afrikaanse landskap en omstandighede.
Wat hierdie roman verder onderskei, is die onderliggende tematiese patroon. Dit is duidelik dat Prinsloo deeglike navorsing gedoen het oor die gebied waar die verhaal afspeel, oor boerdery in hierdie gebied en oor ekologiese vraagstukke.
Solank as die aarde is ’n boek wat die leser intrek met sy lewendige karakters en lieflike taalgebruik, maar ook uitdaag om oor dieper vraagstukke te dink. Dit is ’n ryk en veelkantige roman wat temas van ekologiese bewaring, familie, verlies en hoop verweef in ’n verhaal wat uniek Suid-Afrikaans is, maar ook universele betekenis het.
Prinsloo se tweede en laaste boek is ’n kragtige werk, wat getuig van haar vermoë om komplekse verhale met emosionele diepte te skep. Sy laat ’n groot leemte in Afrikaans se literêre landskap.
Resensent: Trisa Hugo
Uitgewer: LAPA Uitgewers