Vernuwend, vurig, vars: Ruk en Rym-finaliste bekend

Ná twee semifinale rondes waarin die varsste stemme in die Afrikaanse alternatiewemusieklandskap om ’n plek in die finaal van Taalgenoot-Ruk en Rym 2025 gewedywer het, is die tien finaliste van die kompetisie bekend.
Die finaal, wat deel vorm van die Toyota Stellenbosch Woordfees, vind op 12 Oktober by die Daisy Jones Bar in Stellenbosch plaas. Die kletsrymer Jack Parow is by vanjaar se finaal die gasbeoordelaar en sal ook na afloop van die tien finaliste se optredes ’n gasoptrede met sy volle band lewer.
Jaco van der Merwe, kreatiewe regisseur van Taalgenoot-Ruk en Rym, sê vanjaar se deelnemers het hom weer verstom.
“Dit los my elke jaar sover met ’n dieper indruk in terme van die kwantiteit én kwaliteit van die musiek wat tydens die keuringsproses inkom. Dit was in die semifinale rondes indrukwekkend om die verskeidenheid verskillende musiekgenres te beleef – mense wat regtig super-interessante, vars klanke skep. Net so lekker is die hoeveelheid sterk sanger-liedjieskrywers wat deurkom, en die fusion van genres. Die finaliste is regtig tien kwaliteit-kandidate – enigeen van hulle kan dit op die dag vat.”
Angie Gallagher, assistentregisseur, is dit met Jaco eens en sê dié kompetisie vir alternatiewe klankskeppers wat musiek met Afrikaanse lirieke maak, is ’n tentoonstelling van die talent wat in dié ruimte woel.
“Wat my altyd opval van Ruk en Rym is die gebrek aan die resepmatigheid waaraan popmusiek ons gewoond gemaak het. Hiér sien ons vurige eksperimentering, ons sien iets heeltemal anders. Alternatiewe kunstenaars is deurlopend besig om die grense te verskuif.”
Vorige Ruk en Rym-wenners Dierbaar (in 2024 deel van die wengroep) en Hendriek Bleik (2023-derdeplekwenner) het as gaskunstenaars by die eerste en tweede semifinale rondes opgetree. By die eerste semifinaal in Stellenbosch by die Daisy Jones Bar was Hunter Kennedy van Fokofpolisiekar en Die Heuwels Fantasties die gasbeoordelaar, en Johan Auriacombe, voorheen van die groep Kidofdoom, was die gasbeoordelaar by semifinaal 2 by Sognage in Randburg.
Danksy ’n ruim borgskap van kykNET sal elke finalis van Taalgenoot-Ruk en Rym 2025 die geleentheid kry om ’n musiekvideo te skep, wat dié kanaal dan later sal uitsaai.
Jaco meen hierdie borgskap ontsluit moontlikhede wat as ’n wegspringplek vir kunstenaars kan dien en die reikwydte van hul musiek aansienlik kan vergroot.
“Elke vennoot en borg is vir ons van groot waarde en elkeen is deur hul bydrae besig om in die toekoms van Afrikaanse musiek te belê. Ons is dankbaar om te kan saamspan met vennote en borge wat die toekoms van die kunste net so belangrik soos ons ag. Dit spreek van die waarde wat die kunste tot die samelewing toevoeg,” sê Angie.
Vanjaar se Ruk en Rym-wenner sal met ’n stewige pryspakket wegstap, wat die opnames van liedjies, kontantpryse, musiekvideo’s, ’n korporatiewe handelsmerkidentiteit en verskeie geskenkbewyse insluit.
Die tien finaliste wat vanjaar om die Ruk en Rym-kroon meeding, is:
- Emile Kepeal
- JASON B
- Karel Bester & Die Kraaines Band
- Likkewaan
- L!SA
- RFKI
- Ultra-Mal
- Vanja Oosthuizen
- Vir Nou Net Magé
- Yung Pierewiet
Om kaartjies vir Ruk en Rym se groot finaal te koop, klik hier: https://woordfees.co.za/en/program/taalgenoot-ruk-en-rym-final-with-jack-parow/
Taalgenoot-Ruk en Rym word aangebied met die ondersteuning van:
- Klyntji
- kykNET
- Locally Yellow
- Marshall Music
- Planet Awesome
- Sonder Ink
- Spotify
- Steyn IP
- The Paperclip
- Toyota Stellenbosch Woordfees
- Veldskoen
- Wêreld