Verskilmakers aangevuur, verkwik by ATKV-Kultuurkuier
Vanjaar se ATKV-Kultuurkuier-tema, “Gemeenskap, Omgewing en Verbintenis – die ankers om te floreer”, was ’n kragtige metafoor vir die uitdagings waardeur Suid-Afrikaners in die gesig gestaar word, maar ook ’n aanduiding van hoe om dit aan te pak en te gedy.
Onder leiding van baanbrekers, die land se voorste vakkundiges en gemeenskapsleiers, is verskeie werkswinkels rondom die tema aangebied, wat ATKV-taklede verdere inspirasie en vaardighede gegee het om hul gemeenskapsprojekte na nuwe hoogtes te neem.
Vanjaar se ATKV-Kultuurkuier is vanaf 9 tot 11 Julie by ATKV-Buffelspoort tussen die Magaliesberge in die Noordwes gehou. Toonaangewende stemme het oor noodsaaklike onderwerpe soos neurodiversiteit, voedselsekerheid, hoe om nie die slagoffer van swak dienslewering te wees nie, en hoe gemeenskappe self hul lot kan bepaal, gesels. Hierdie sprekers het ingesluit:
- Die mediapersoonlikheid Success Lekabe
- Doc Mabila van Youthzones
- Die spraakterapeut Christien Neser
- Reinette Lombard, skrywer van die Tippie-leesboekies
- Die boere Marius Pienaar en Mthunzi Ntutela
- André van Pletzen van Ignite & Revive Kroonstad
- Die tuinboukundige Shaun Cairns van Seed 2 Harvest
- Bemarkingsghoeroe G.P. van Rheede van Oudtshoorn
- Opvoedkundige sielkundige Quinton Adams
Nasiebou was nog altyd deel van die ATKV se bestaansrede, het Sonél Brits, die ATKV-MSW se besturende direkteur, tydens die Kultuurkuier gesê. Sedert sy ontstaan, is daar sterk klem gelê op hoe lede ’n positiewe verskil binne hul gemeenskappe kan maak.
“Dis die bydrae wat die ATKV se diverse Afrikaanssprekende gemeenskappe lewer om ’n beter Suid-Afrika vir almal te skep,” sê Sonél.
Die hoofgasspreker by die byeenkoms, Peet Botma (39), het Woensdag vertel hoe hy aan die begin van die jaar een van die wêreld se taaiste wedvaarte voltooi het – ’n 4 800 km lange roei van die Kanariese eilande in Spanje na Antigua in die Karibiese see.
“Wanneer dit net jy is en jy moet 4 800 km oor die Atlantiese Oseaan roei, leer jy baie van jouself,” het hy gesê. Tydens sy praatjie het hy vertel hoe mense dikwels uitgelewer is aan die omstandighede en die uitdagings wat die lewe na hul kant toe gooi. Mense kan wel hul reaksie, hul ingesteldheid en die besluite wat hulle maak, beheer. Peet noem dit een van die belangrikste lesse wat hy tydens die 45 dae, 22 uur en 57 minute op die Atlantiese Oseaan geleer het.
Tydens die wedvaart moes hy ’n onstuimige see met woeste golwe en die toorn van storms en gure weer trotseer. Sommige dae het Botma gevoel “soos ’n kurkprop in ’n top-loader wasmasjien.”
“Jy besef terselfdertyd hoe nietig jy is, maar ook hoe jou ingesteldheid jou lewenspad bepaal. Ek het nie enige invloed gehad oor die weertoestande nie, maar ek kon besluit hoe om dit te trotseer en om die Here te vertrou om my veilig te hou. Wanneer jy eers daardie kopskuif gemaak het, is dit ongelooflik bevrydend.”
Wanneer hy in die oggende opgestaan het – olik, uitgeput en grasgroen om die kiewe nadat die see hom heelnag rondgeskommel het – en hy uitgekyk het oor ’n grysblou, onstuimige see wat nog etlike duisende kilometers voor hom uitstrek, het hy sy hoë-energie-kospakkie afgewurg en begin roei.
Maar selfs toe hy manalleen die Atlantiese Oseaan trotseer het, het hy nie werklik eensaam gevoel nie. Hy skryf dit toe aan die onwrikbare ondersteuning van sy gemeenskap. “Sonder hul steun, veral dié van my geliefdes, sou ek nooit die prestasie kon behaal nie.”
Botma het tydens die wedvaart geld ingesamel vir ’n stigting wat deur branderplankry-opleiding maatskaplike probleme van straatkinders in Kaapstad aanspreek. The Local Surf Lounge Academy in Muizenberg bied ’n veilige plek vir kinders om uit te span, leer hulle om branderplank te ry, en sorg dat hulle daagliks ’n heilsame maaltyd ontvang.
“Dit was ook ’n kragtige dryfveer wat my gemotiveer het om my allerbeste te gee en die wedvaart te voltooi.”
Die vermoë om beheer te neem van jou eie ingesteldheid, wat die Holocaust-oorlewende Viktor Frankl in sy boek, Man’s Search for Meaning, verken, was een van die sleuteltemas wat soos ’n goue draad deur die Kultuurkuier gevloei het, veral tydens die werkwinkels, waar idees oor gemeenskapsverbetering en bemagtiging uitgeruil is. Selfs al lyk dinge hoe sleg en voel mense soos Botma se spreekwoordelike kurkproppie wat rondtol in ’n wasmasjien, kan hulle steeds hul ingesteldheid bepaal.
“Elke jaar bring ons kenners en sprekers na die Kultuurkuier wat lede toerus met praktiese gereedskap om positiewe verandering in hul gemeenskappe teweeg te bring,” het Brits verduidelik.
“Dis ongelooflik inspirerend om tydens die jaarlikse geleenthede ons lede se ingesteldheid te sien, veral wanneer hulle koppe bymekaar sit, idees uitruil en bou op die voorstelle van die sprekers. Die ATKV se mense sit nie terug en wag dat iemand anders namens hulle ingryp en ’n probleem oplos nie.
“‘Verandering begin by my’ is ’n sterk boodskap wat ons in die organisasie onderskryf. Ek moet die eerste tree neem, al is dit hoe klein. Met die Kultuurkuiers gee ons ons lede idees en energie en tree op as die wind onder hul vlerke. Wanneer ATKV-lede daardie eerste tree neem om Suid-Afrika ’n beter plek te maak, wil ons hulle bystaan om dit ’n bietjie groter te maak,” sê Brits.