Vierde Afrikiti-Fees ’n bobaas makietie

Die Somerson het neergebak op die feesterrein en die biere was yskoud. Die heerlikste geure van eg Suid-Afrikaanse disse het in die lug gehang terwyl van Suid-Afrika se topkunstenaars die voete laat jeuk het.
Enige feeskat sal vir jou kan sê dit is ’n resep vir ’n bobaas makietie, en dit is juis wat die Afrikiti-Fees was – ’n taal- en kultuurfees wat enige tyd kon kersvashou by van ons grootste feeste met vermaak, kuns en kos uit die boonste rakke.
Dié fees – die grootste in sy soort in die Noordwes – was vanjaar vir die vierde keer by ATKV-Buffelspoort aangebied en was die grootste nóg met oor die 3 000 feesgangers.
Die oord self, wat 2 400 mense kan akkommodeer, was ook vir die naweek vol bespreek. As die oordgangers nie lafenis by die swembaddens gevind het nie, het jy hulle by die biertent of langs die verhoog aangetref.
“Afrikiti is soveel meer as net jou doodgewone fees waar kunstenaars optree. Dit is ’n volwaardige kultuurfees waar ons kultuur in sy geheel vier,” sê Reyno Wepener, feesorganiseerder en bemarkingsbestuurder van ATKV-Buffelspoort.
Hy sê die fees is vir die gemeenskap en deur die gemeenskap.
“Ons probeer die gemeenskap soveel as moontlik betrek by die fees. Die fees se doel is ook om die gemeenskap te bevorder.”
Een van die fees se inisiatiewe vanjaar was om feesgangers te vra om hondekos te skenk vir die plaaslike dierebeskermingsvereniging.
“Ja, dit moet ’n dag wees waar mense hulle kultuur kan vier en waar mense hulself kan geniet, maar ons moet ook ons deel kan doen om die gemeenskap te help.”
Die Vrydag is afgeskop met ’n voorleeswerkswinkel deur die Vriende van Afrikaans (VVA) vir kleuter- en laerskoolopvoeders. Dié werkswinkel het gefokus op hoekom dit vir kinders uitdagend is om te lees, hoe opvoeders gemotiveerd kan bly en kreatiewe maniere om kinders se leesbegrip te verbeter.
Die Saterdag was egter die hoogtepunt waar die swepe reeds van vroegoggend af op die feesterrein geklap het. Dit het gevolg met brullende enjins van Harley-Davidson-motorfietse en klassieke motors waaroor die petrolkoppe gaande was.
In die Buffelsaal was daar verskeie dansgroepe, kore en orkeste soos Buffelspoort en die Hoër Tegniese Skool Tuine se orkeste. Die ATKV-jeugtak Rustenburg se taklede is ook betrek om as seremoniemeesters op te tree.
Op die feesterrein self was daar van die heerlikste kos te koop soos kerrie en rys, pannekoek en sosaties.
“Ons wou juis hê mense moet kan smul aan eg tradisionele kosse eie aan ons kultuur. Kos vorm immers ook deel van ons identiteit en kultuur,” sê Reyno.
Op die verhoog was kunstenaars reeds van vroegdag af besig om die feesgangers te vermaak en daar was iets vir oud en jonk.
Die kulkunstenaar Regardt Laubscher het die kleingoed laat snak na hulle asem terwyl Oom Karoolus en Lente hulle laat skaterlag het.
Die Ventertjies het op die groot verhoog die mense aan die dans gekry terwyl die jong klomp uit volle bors saam gesing het op die Piesangskille se treffer “Inge 2.”
Teen die tyd wat die son gegroet het, was die feesterrein ’n geroesemoes van mense en het almal hul plek voor die verhoog ingeneem om niemand anders nie as Bobby van Jaarsveld te sien.
Die aand is afgesluit met die bulderende tromme van Hans Drommedaris en sy Drommedaris duo.
Die Sondagoggend is die feestelikheid afgesluit met Afrikiti se heel eerste Christusfees met optredes deur Oom Karoolus en Lente, Dewald Gouws en Francois Botha.
Volgens Reyno vorm godsdiens deel van die boustene van kultuur en was dit vir hulle belangrik om dit ook by die fees in te sluit.
“Ons wou vanjaar volwaardig erkenning gee aan godsdiens, aangesien dit ’n belangrike komponent van kultuur is. Ons beplan reeds om dit volgende jaar breër uit te brei en die plaaslike skole en kerkgemeentes te betrek.”
Reyno sê dié naweek was kultuur en Afrikaans in al sy aspekte gevier.
“Elkeen het ’n ander antwoord as jy hulle vra wat kultuur vir hulle is. Uiteindelik is dit alles wat jy doen om by jou omgewing aan te pas. Ons het alles van sport, godsdiens, musiek, kos en opvoeding vanjaar gevier. Volgende jaar gaan nóg groter en nóg beter wees.”