Vriende van Afrikaans se dertig jaar luisterryk gedenk
Die Vriende van Afrikaans, ’n afdeling van die ATKV, vier vanjaar nie minder nie as drie dekades van verskil maak regoor Suid-Afrika. Hierdie besondere mylpaal is op 8 Februarie luisterryk gevier by nog ’n uitgelese geleentheid, die 20ste Johan Combrink-gedenklesing, wat by die Protea-hotel, Tegnopark, Stellenbosch aangebied is. Combrink, wat in 1999 oorlede is, was destyds een van die stigterslede en later voorsitter van die VVA, en die eerste gedenklesing is op 7 Februarie 2004 gehou.
Die geleentheid is bygewoon deur verskeie hoogwaardigheidsbekleërs, onder wie prof. Johan Combrink se weduwee en self ’n voormalige voorsitter van die VVA, dr. Louise Combrink, getel het.
Die spreker by vanjaar se Johan Combrink-gedenklesing was Jean Meiring, ’n gerekende advokaat, akademikus, skrywer, kunskritikus en dramaturg, en ook die kleinseun van wyle Willem Dempsey. Dit was juis Dempsey, ook een van die VVA se stigterslede, se kommer oor die voortbestaan van Afrikaans op Stellenbosch wat uiteindelik gelei het tot die stigting van die Vriende van Afrikaans op 2 Februarie 1994.
Voormalige sprekers by die Johan Combrink-gedenklesing sluit in Russel Botman, Coenie de Villiers, Farid Esack, FW de Klerk en Flip Buys.
Meiring se meevoerende aanbieding, getiteld “Dertig jaar, watwo: drie millennia van stories”, het gehandel oor die antieke verhaal van Tisbie en Piramus, waarvan die oorsprong waarskynlik by ’n volksdigter uit die Eerste Babiloniese Ryk lê. Die vertelling was tekenend van die kragtige werking van stories en van hoe oorlewering, vertaling en die opskryf daarvan stories aan die lewe hou.
Ander sprekers op die aand was Chareldine van der Merwe, huidige projekbestuurder van die VVA, Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, Shireen Crotz, projekorganiseerder: VVA en Gerrie Lemmer, die uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV.
’n Spesiale temalied
Lemmer het tydens sy aanbieding die Vriende van Afrikaans se amptelike temalied bekendgestel, wat ontwikkel is deur twee deelnemers aan die ATKV-Crescendo-mentorskapprogram, Lucia Poggenpoel en Jason Baartman.
Die liedjie, “Afrikaans is ons Taal”, is die produk van ’n opdrag wat deelnemers ontvang het om ’n temalied vir die VVA te skryf. Daar is toe besluit dat Jason en Lucia se twee liedere uitstaan en hulle is aangemoedig om hul twee pogings te kombineer.
Dié twee kunstenaars het die liedjie vir die heel eerste keer tydens die Johan Combrink-gedenklesing uitgevoer.
Hulle vertel dit was ’n uitdaging om twee baie verskillende liedjies saam te weef, maar dat die boodskap in albei – dat lees ’n onontbeerlike vaardigheid is wat kinders moet bemeester, en dat stories die heel beste manier is om by kinders ’n liefde vir lees te kweek – uiteindelik die deurslag gegee het om “Afrikaans is ons Taal” klaar te skryf.
“Toe ek die opdrag kry om ’n temalied te skryf, toe dink ek, hier is my kans om ’n verskil te maak met ’n liedjie. Vir my was dit iets persoonlik, om ons onderwysers te help. Hulle doen alles wat hulle kan, hulle gaan uit hulle pad, so ons, wat nie in die onderwys is nie, kan ook handjie kan bysit om vir hulle te help,” sê Baartman, wie se vrou ’n Afrikaansonderwyser is. Hy vertel hy het baie inspirasie geput uit die kommerwekkende leesstatistieke waarvan sy hom vertel het.
Op haar beurt sê Poggenpoel dat sy met haar ma koppe bymekaargesit het om die lirieke van die liedjie te skryf en tydens dié dinkskrum besluit het om elemente van ikoniese Afrikaanse stories daarby in te werk.
Drie dekades en groot vooruitgang
Amanda de Stadler, voormalige hoof- uitvoerende beampte van die VVA, sê dat sy in haar skik is met hoe dié organisasie oor drie dekades ontwikkel en gegroei het.
“Wat my deesdae grief, is die verlieswoordeskat wat gebruik word oor Afrikaans en mense wat aanmekaar praat oor Afrikaans wat afgeskaal word en Afrikaans wat ten gronde gaan … Dis net verlies,” sê De Stadler.
“Ek dink nie dis die waarheid dat Afrikaans aan die doodgaan is nie. Kyk net hoeveel boeke word geskryf, luister na die musiek. Dit hoef nie jou smaak te wees nie – maar dit lewe. Kyk hoeveel jongmense is hier! Vroeër, in my tyd was dit almal bo 55. Die Vriende doen saakmakende werk. Daar’s by my geen twyfel nie – dis ewigheidswerk wat hulle doen.”
Japie Gouws, wat die besturende direkteur van die ATKV was toe die VVA in 2014 ’n afdeling van die ATKV geword het, is dit eens.
“Toe ek in 2013 eendag met Amanda de Stadler gesels oor die moontlikheid dat die VVA by die ATKV inskakel, was ek oortuig dat dit tot voordeel van die voortbestaan van die VVA sou wees, maar ook dat die ATKV ’n natuurlike tuiste vir die VVA is. Nou, ná 10 jaar as deel van die ATKV, is dit duidelik dat die rol van die VVA in die Afrikaanse skoolgemeenskap onontbeerlik is,” sê hy.
Die ATKV-MSW se huidige besturende direkteur, Sonél Brits, meen dat die werk wat die VVA doen sonder twyfel lewens verander en dat die samewerking tussen die Vriende van Afrikaans en die ATKV tot in die uithoeke van ons land ’n verskil maak.
“Ek dink die VVA/ATKV-samewerking en amalgamasie is absoluut ’n bewys van organisasies met ’n soortgelyke hartklop wat sáám ’n groter impak kan maak en regtig die sirkel wyer kan laat uitkring – want daardie een klippie wat in die water gegooi is uit een persoon se kreatiwiteit het honderde mense nou aangesteek.”
Die projekbestuurder van die VVA, Chareldine van der Merwe, sê sy is opgewonde oor die werk wat die VVA doen en dat dit ’n voorreg is om op hierdie manier in die toekoms van ons land te belê.
“Ons wil kinders op ’n reis neem, veral kinders vir wie boeke nie beskore is nie. Ek dink die VVA kry dit reg om die visie wat mense soos prof. Johan Combrink en oom Willem Dempsey gehad het, in te span om te verseker dat die taal bly voortleef.
“Met alles wat ons doen, is lees en leesontwikkeling ’n groot bydrae wat ons kan maak met ons wonderlike projekte soos die boektrommelprojek en natuurlik die leesondersteuning, waar ons mense kan oplei om kinders met leer- en leesuitdagings te help.
“Dit maak die werk vir ons alles die moeite werd as ons sien hoeveel suksesse daar behaal word met kinders en onderwysers met wie ons werk deur middel van opleiding, ons voorleeswerkswinkels, ons leeskonferensies, ons Koop-’n-Afrikaanse-boekdag, ons Ommietafelgesprekke, ensovoorts. Ons is bly dat ons op hierdie manier ’n verskil kan bly maak,” sê Van der Merwe.