Vrolikheid op note by ATKV-tak Arendsnes se musiek-pretaand
Die lede van die ATKV-tak Arendsnes hou behoorlik makietie wanneer dit kom by geleenthede om fondse te in en nuwe lede te werf. Dit was dan ook niks anders as ’n vrolike affêre nie toe die tak onlangs ’n musiek-pretaand gehou het met die tema, “Soos ons dit onthou”. Monique Brink, takvoorsitter, sê, “Dit was een ongelooflike lekker geesvangaand met die fokus op bemarking om nuwe, jonger lede te werf – ’n aand waar ons van ons jongste tot ons oudste lede bymekaar gehad het om saam te sing, te lag en sommer hulself in die pret te verloor.”
Die tak het vir dié geleentheid gebruik gemaak van Musiekpret, ’n klein onderneming wat fokus op musiek-pretaande. “As jy nog dink jy is ’n introvert en wil nie voor ander sing nie, of ken nie die ou langs jou nie, sing jy die volgende oomblik uit volle bors ‘Siembamba’ of ‘Agter elke man’!” sê Monique. Nóg ’n doelwit van die aand was om fondse in te samel vir die tak se projekte. “Onthou, ons tak gaan nie slegs oor gemeenskapsdiens nie. Ons wil graag ook aan die jonger geslag en kinders die geleentheid gee om hulself te geniet en uit te leef, terwyl hulle leer van ons taal en kultuur,” sê sy.
Volgens Monique het die Arendsnes-tak oor die afgelope jaar “ongelooflik” gegroei nadat hulle ’n paar projekte en geleenthede aangebied het. “Ons glo elke geleentheid is ’n geleentheid waar ons groei ervaar. Wanneer ons werk aan bemarking en groei, sien ons nie net die groei as groei in lede nie, maar ons sien die groei in entoesiasme onder ons lede.”
Monique sê daar bestaan ’n wanindruk onder jonger mense dat die ATKV en ATKV-vergaderings slegs vir “ouer” mense en pensioenarisse bedoel is. “Ons missie is om die jonger geslag – mense van tussen 20 en 40 jaar oud – betrokke te kry, sodat hulle kinders op ’n lekker informele wyse betrokke sal raak by Afrikaans en gemeenskapsdiens,” sê sy.
Besoek atkv.org.za/ons-storie/gemeenskap/ om jou naaste ATKV-tak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.