Vrystaat-tak wil slaagsyfer omdraai

Die woord “thusano” beteken “ons werk saam” – en dit is presies wat in 1999 gebeur het. Baiekinders wat in die strate in Theunissen in die Vrystaat rondgeloop het, was duidelik verwaarloos en nie in die skool nie.
’n Komitee is gestig en die hele gemeenskap het saamgestaan om hul tyd en aandag aan die kinders te wy. Die munisipaliteit het ’n baksteengebou in Masilo, Theunissen, geskenk. Dit is in ’n huis omgeskep waar die kinders kon woon en ander leerders het gedurende die dag hier kom eet en leer. Omtrent 50 kinders het ’n maaltyd by die sentrum gekry en is gehelp om weer skool by te woon.
Op 5 Junie 2002 is Thusano as jeugsorgsentrum as deel van die Vrystaat-jeugsorgsentrums se desentraliseringsprojek geregistreer om 15 kinders te akkommodeer.
Die ATKV-tak Theunissen se sewe lede ‒ waarvan een lid, Rudolph Burger, onlangs oorlede is ‒het met Thusano hande gevat en betrokke geraak by leerderbystand.
Volgens Cobus Erasmus, afgetrede landdros en takvoorsitter van die ATKV-tak Theunissen, is die hoofdoel om die kinders te leer werk vir ’n spesifieke doel, en hulle te laat besef dat as hulle nie werk nie, hulle nêrens gaan kom nie.
“Deur dinge self te doen, sonder dat iemand anders vir jou sê wat om te doen, gaan jy vorentoe. Die onderwysers wat graag help, is Me Manini en Lolo Grobbelaar,” vertel hy.
“In 2023 het slegs drie uit die 15 leerders die eerste kwartaal deurgekom. Ons het toe wiskunde met hulle gedoen en hulle met begrip leer lees. Dit het toe baie beter gegaan, soveel so dat ons die slaagsyfer teen die einde van die jaar na 12 opgestoot het, met drie wat gedruip of ’n ‘free pass’ gekry het.
“In 2024 was dinge nie so suksesvol nie. Ek is besig om die leerplanne van graad 1 en 2 deur te werk. Ek wil hê hulle moet dit vanjaar by die skool deurwerk, dan gaan ons na-ure dieselfde leerplanne met hulle deur, om te kyk waar die probleme lê.
“Die kinders word nie in hul moedertaal onderrig nie. Hulle kan ook nie behoorlik Engels praat nie, wat nog te sê verstaan. Ons probeer nou ’n leeshoekie maak sodat hulle in hul eie taal lees en verstaan. Dan pak ons die Engelse, en daarna die Afrikaanse boeke. Uiteindelik moet hulleAfrikaans nie as ’n bedreiging sien nie.
“Ons motiveer hulle om te lees en sluit hulle by die gemeenskapsbiblioteek aan. Hulle kry dan aan die einde van die jaar ’n toekenning as hulle kan wys hoeveel en watter boeke hulle gelees het.
“Verder voel die kinders hulle kry liefde deur Kersgeskenke, speletjies, Scrabble en skaak wat vir hulle gegee word. Dit leer hulle sommer terselfdertyd dink en om hul breinvermoëns tegebruik. Ons het ook vir hulle skoolskoene, skoolsakke en skryfpenne gegee.
“Ons doen baie – ek hou nie eintlik boek nie, ek wil net hê daar moet ’n verbetering wees,” sê ’ngeesdriftige Cobus.
“Nou die dag was die pype van die jeugsorgsentrum stukkend en kon die kinders nie stort nie. Ons het die pype reggemaak.
“In November en Desember 2023 was daar vir 40 dae en nagte nie water op die dorp nie. Ons het daagliks sowat 1 000 liter water aangery.
“Ons het ook ou swart skryfborde teen die muur gesit wat Andriëtte Potgieter, ATKV-streeksbestuurder van die Vrystaat, vir ons by die Vryfees in Bloemfontein gekry het,” sê Cobus.
“Vroeër het ons ook tuingemaak, maar die tekort aan water kniehalter alles. So, die plan is om ’nboorgat te sink wat die waterprobleem sal oplos.
“Die laaste twee jaar het ons op 16 Junie, Jeugdag, pannekoek gebak. Ons het dit dan in die woonbuurt gaan uitdeel. Ek wil hulle leer hoe lekker dit is om te gee. Hierdie jaar het ons dit na die ouetehuis geneem. Daar het die kinders heerlik vir die oumense gesing en gedans. Hulle is so goed daarmee. Ons het gum boots, maar ek wil met hulp van buite djembe-dromme kry.
Jaco Spies (ATKV-streeksbestuurder in die Oos- en Noord-Kaap) werk saam met Andriëtte en het die kinders gewys hoe om passievol te dans op sy djembe-dromme se ritmes.
“Dis my droom dat die kinders moet optree en aan kompetisies deelneem, en ons werk om dit te bereik.
“Ons lede help heelhartig waar hulle kan: Andriëtte gee raad en help met materiaal waar sy kan. Sy het gehelp met ons pannekoekdae, met sertifikate en met Kersgeskenke. My vrou, Kleintjie, is die sekretaresse van die tak en dien ook op Thusano se bestuur. Ons is dus nou betrokke by die sentrum en kan gou help of optree as iets skeefloop.
“Onthou, ons kan nie almal ’n staatspresident wees nie, maar eendag maak ons dalk iemandgroot wat meer verrig as ek en jy. Hierdie kinders is baie ywerig, en hulle weet dat hulle nou ’nbeter lewe het as wat hulle gehad het en dat hulle die beste daarvan moet maak,” sê Cobus gemotiveerd oor sy pad saam met die ywerige Vrystaatse jongspan.
Om jou naaste ATKV-tak te vind en die verskil in jou gemeenskap te wees, klik hier.