VS Kunstefees: Jong leiers sê hul sê

Die ATKV se paneelbespreking, getiteld “Jong leiers, groot impak: Kulturele bewaring en globale leierskap”, wat aangebied word as deel van die eersdaagse Vrystaatse Kunstefees se literatuurfees, beloof om ’n uiters verrykende ervaring te wees.
“Dit is vir my ’n voorreg om ’n gesprek te fasiliteer wat nie net ’n weerspieëling van ons tyd is nie, maar hopelik ook die gesprekke vorm wat ons toekoms sal dra,” sê Magon Mouton, bestuurder: jong volwassene-ontwikkeling en innovasie by die ATKV.
Volgens Magon bring die gesprek vier uitmuntende jong leiers bymekaar – van mediese innovasie tot strategie, impak, volhoubaarheid en kundigheid in kultuur- en erfenisbestuur – om te verken hoe jong volwassenes hul kulturele erfenis as ’n dryfkrag vir betekenisvolle verandering benut.
“Hierdie is die beste van die beste – swaargewigte in hul onderskeie velde wat oor eerstehandse ervaring van globale inisiatiewe en jeuggedrewe verandering beskik,” sê Magon.
“Ons het doelbewus ’n paneel saamgestel wat die uiteenlopende sektore van jong leierskap verteenwoordig. Elkeen van hierdie individue leef hul werk met integriteit en impak uit.
“Dr. Goitseone Tanki Thebe is ’n mediese dokter en jeugontwikkelingspraktisyn wie se werk op gemeenskapsgegronde gesondheidsoplossings en geslagsgelykheid fokus. Sy bring ’n unieke perspektief oor hoe kulturele waardes en konteks ons gesondheidstelsels en toegang tot sorg beïnvloed.
“Courtney Gehle is ’n spesialis op die gebied van impak, volhoubaarheid en klimaatsreg, met ervaring wat vanaf internasionale beleidsontwikkeling tot plaaslike gemeenskapsinisiatiewe strek. Haar werk onderstreep die belangrikheid van jong mense se deelname aan omgewingsbeleid en die rol van stories en erfgoed in klimaatsoptrede.
“Shen Scott is ’n fotograaf en kreatiewe entrepreneur wie se werk om kuns, identiteit en sosiale impak wentel. Hy is bekend vir sy dokumentering van die #FeesMustFall-beweging, en van die mees herkenbare en mees gebruikte beelde is deur hom vasgevang. Sy werk lê in die dokumentering van mense, oomblikke en bewegings met ’n fyn waarneming van konteks en gemeenskapsverhale.”
Magon sal as gespreksleier dien.
“My werk as die bestuurder van jong volwassene-ontwikkeling en innovasie by die ATKV lê op die kruispunt van kultuurbeleid, erfenisbestuur en jeugleierskap en ek is daartoe verbind om ruimtes te skep waar jong volwassenes nie net hul stem gebruik nie, maar hul invloed plaaslik én internasionaal mobiliseer,” voeg sy by.
Magon sê die tema van die gesprek is ’n lewende weerspieëling van wat sy onder jong leiers in Suid-Afrika en die wêreld sien gebeur.
“Jongmense is nie meer passiewe ontvangers van kultuur nie; hulle herinterpreteer, herbedink en heraktiveer erfgoed in diens van transformasie.
“By die ATKV werk ek nou saam met duisende jong leiers, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook wêreldwyd – van globale jeugberade tot voetsoolvlak-inisiatiewe. Wat ek oor en oor sien is dat jong mense hul kulturele identiteit gebruik as analogie vir strukturele verandering – of dit nou is om sosiale geregtigheid aan te spreek, entrepreneurskap te dryf, of klimaatsreg in hul gemeenskappe te verseker.
“Die tema is dus ’n viering van hoe ons verlede en ons toekoms op kreatiewe en kritiese wyse verbind word – met jong volwassenes as die bouers van daardie brug.”
Magon sit die sleuteldoelwitte van die paneel uiteen.
“Ons wil jong leiers as aktiewe draers en vormers van kultuur posisioneer, eerder as net deelnemers aan ’n bestaande narratief,” sê sy.
“Ons wil leierskap herdefinieer – nie net as ’n posisie nie, maar as ’n praktyk wat binne gemeenskap, identiteit en verantwoordelikheid geanker is. Dan wil ons ook die verband tussen kulturele bewaring en die toekoms van volhoubare ontwikkeling, gesondheid, strategie en jeugbemagtiging ondersoek.
“Laastens wil ons uiteindelik gehoorlede van alle ouderdomme inspireer om meer aktief betrokke te raak by die vorming van ’n kultuur-ekosisteem wat inklusief, vooruitdenkend en betekenisvol is.”
Magon sê jongmense is beslis nie die enigste teikengehoor van die byeenkoms nie.
“Hoewel die paneel duidelik vanuit die perspektief van jong volwassenes geposisioneer is, is dit juis ook vir besluitnemers, ouers, beleidmakers, kultuurwerkers en mentors bedoel,” verduidelik sy.
Die paneelbespreking vind op Donderdag 17 Julie om 14:00 by die ATKV-Boeke-oase plaas. Toegang is gratis.