VS Kunstefees: ‘Kô laat ons dans’ beloof makietie

Feesgangers van die Vrystaat Kunstefees kan hulle dansskoene nader trek om saam met Frazer Barry, Brandon October en Selby Williams in die Adam Small-geïnspireerde produksie, Kô laat ons dans, op 18 Julie om 20:00 by die Creative Kilowatt Kopanong-ouditorium te dans tot die stof letterlik so staan.
Of riel, kwêla, sokkie, hiphop, wals, kotiljons of toi-toi jou ding is – hierdie produksie, een van die gewildstes tydens die Adam Small-fees vroeër vanjaar, sal iets hê waarvan jy hou.
“Musiek en dans is universele tale wat almal verstaan,” verduidelik uitvoerende vervaardiger Morné van Staden. “Die idee agter die samestelling van die produksie was om liedjies te kies wat alle Suid-Afrikaners herken en na sekere tye in hulle lewe terugneem. Feesgangers kan onder andere uitsien na treffers soos ‘Ek kan rock in my taal’, ‘Jabulani’, ‘Liefling’, ‘Pata-Pata’, ‘Doemanie’ en ‘The Click Song’.
Soos die naam van die produksie, ’n speling op Adam Small se bekende gedig “Kô, lat ons sing”, aandui, is dit ook ’n huldeblyk aan Adam Small. Barry meen dat Small ’n simbool is van hoe ’n kunstenaar sy gereedskap kan gebruik om ’n spieël aan die samelewing voor te hou.
“Hy het deur al die mediums waarin hy geskryf het, of dit nou deur dramas of gedigte is, sy stem laat geld. Hy het nie geskroom om kritiek uit te spreek teen godsdiens, skynheiligheid, die regering van sy tyd, die onreg teen die taal of die verskillende maniere van Afrikaans praat nie.”
Brandon vertel dat hy veral daarna uitsien om “Jabulani” van PJ Powers te sing.
“As ’n kind van die tagtigs kan ek nie help om uit my stoel te spring en te begin dans as ek dit hoor nie. Een van my gunstelingoomblikke van my loopbaan was die keer toe ek dit saam met PJ Powers opgevoer het. ‘Jabulani’ neem my altyd terug na my kinderdae.”
Kô laat ons dans is ’n produksie van Crescendo Produksies. Die kunstenaars word begelei deur die gewilde Crescendo-orkes. Die vertoning vind op 18 Julie om 20:00 by die Creative Kilowatt Kopanong-ouditorium plaas. Kaartjies kos R150 as dit deur die Vrystaat Kunstefees se webwerf gekoop word. Feesgangers kan ook kaartjies by die deur teen R180 koop.
Besoek www.crescendo.org.za vir meer inligting oor ATKV-Crescendo se mentorskapprogram en produksiehuis. Vir navrae of onderhoude, kontak Marlize Leyden by marlize.leyden@outlook.com. Alternatiewelik kan ’n WhatsApp-boodskap na 067 883 0077 gestuur word.