VVA besoek Loxton, vuur Karoodorp aan
Die Vriende van Afrikaans bemoei hom volgende jaar reeds drie dekades met die broodnodige werk wat dié organisasie in en vir Afrikaans doen. ’n Onlangse besoek aan ’n klein Karoodorpie onderstreep hoekom die VVA onontbeerlik is in die bevordering van leesvaardighede. Die VVA, ’n afdeling van die ATKV, het die besoek saam met Doen en Leer, André Hendricks (die lewensafrigter agter die ATKV se grensverskuiwende Kopskuif-program), skrywer Anzil Kulsen en digter dr. Diana Ferrus onderneem as deel van Loxton se Taal- en Kultuurfees. Die program is ondersteun deur die Ek Leef-trust in Loxton en die ATKV.
Loxton, ’n klein dorpie net meer as 80 km van Victoria-Wes in die Noord-Kaap, is bekend om sy assosiasie met die wêreldberoemde skrywer Deon Meyer, maar nes elders in die land, skiet leesvaardighede onder leerders van die plaaslike skole ook hier tekort. Gesien in die lig van Loxton se afstand van die N1 en van ander dorpe, suig hierdie dorp, nes baie ander afgeleë plekke in ons land, aan die agterspeen sover dit ondersteunende uitreikprogramme betref.
Die Vriende van Afrikaans is egter gewoond daaraan om te reis na gemeenskappe waar toegang tot leerhulpmiddels beperk is, ten spyte van die groot behoefte daarvoor. Die organisasie het vanjaar al ongeveer 84 trommels met leesstof vir die jeug – daar is nagenoeg 100 boeke in elke trommel – as deel van die VVA se boektrommelprojek uitgedeel. Benewens dié vlagskipprojek van die VVA bied die organisasie ook landswyd voorleeswerkswinkels, leeskonferensies, storievoorlesings vir kinders en boekopvoeding vir ouers, onderwysers en kinders aan.
Chareldine van der Merwe, projekhoof by die VVA, sê dat die groot aantal boektrommels wat vanjaar geskenk is ’n direkte gevolg is van die vennote, befondsers en skenkers (sommige van so ver as Nederland) wat die VVA ondersteun, en dat hulle geweldig dankbaar is teenoor die mense wat handjie bysit en stukrag aan die VVA se projekte verleen.
In Loxton is boektrommels aan die Olifantjie-kleuterskool en die JJ Booysen Primêre Skool oorhandig.
Vaardighede wat onderwysers bemagtig
Doen en Leer, onder leiding van Dokka Swart, het plaaslike onderwysers bemagtig deur hulle touwys te maak met die Doen en Leer-intervensieleesprogram. Hierdie program, ontwikkel deur die onderwyseres Rose Botha, is ’n holistiese lees-, wiskunde- en leerondersteuningsprogram wat kinders help om op ’n fisiese, emosionele en kognitiewe vlak te leer deur prettige visuele, ouditiewe en kinestetiese metodes in te span.
Dokka, wat saam met Doen en Leer-kollegas Hannelize Upscher en Nicolette van den Heever verskeie demonstrasies en opleidingsessies in Loxton aangebied het, meen dit is kernbelangrik dat intervensies soos dié een toeganklik is vir alle leerders, ook dié op die platteland.
“Die kinders op die platteland het natuurlik soms beperkte toegang tot hulpbronne en opvoedkundige geleenthede. ’n Effektiewe leerprogram soos Doen en Leer, wat die kinders se leesvaardighede ontwikkel, speel uiteindelik ’n sleutelrol in hul akademiese sukses. Dit versterk hul selfvertroue en verbreed hul algemene kennis omdat hulle dan kan lees. Op die ou end voel ek dit sal positief impakteer op die loopbaankeuses wat hulle maak,” sê Dokka.
Die resultate van die Doen en Leer-demonstrasies by leerders in Loxton wat met lees sukkel, was verstommend en tekenend van dié program se effektiwiteit om leesvaardighede woema te gee en veral om leerders se selfvertroue te verbeter.
Nicolette, ’n oudonderwyseres wat al jare lank op Loxton woon, was verheug dat die Doen en Leer-program ook hier by die plaaslike skole kon inslag vind. Nicolette sê sy glo aan die waarde wat die program kan toevoeg.
“Die finansies skiet tekort, onderwysers het nie baie apparaat nie en dit is ongelooflik belangrik dat onderwysers die waarde daarvan besef om van binne af buitentoe te leer. ’n Kind se leer begin binne homself, binne-in sy lyfie, en Loxton se kinders het nie daardie natuurlike ontwikkeling en die voorreg van ouers wat in huise sit met al die hulpmiddels nie.
“As ’n kind by die skool kan kom en ’n onderwyser weet hoe om hierdie kind, wat reeds ’n ontwikkelingsagterstand het, te help in sy leesperiode deur die lees te ervaar – ouditief, visueel, met sy hele lyfie, met al die leermodaliteite – dan spreek die onderwyser iets aan wat al van kleins af, dalk in die voorskool, nie gebeur het nie. Wat dalk ook nie by die huis gebeur nie. Eintlik kan ’n kind nie leer lees as hy nog nie die regte toerusting en ontwikkelingsbreinpaadjies het nie.
“Die Doen en Leer-metodiek help ’n onderwyser om daardie dinge aan te spreek sonder dat hy of sy eers werklik weet hulle doen daardie ekstra werk van kinderontwikkeling. Dis van onskatbare waarde vir onderwysers. Dit bring hoop, dit wys vir onderwysers daardie praktiese ervaring. Dis maklik, dis nie ’n klomp admin nie, dis nie ’n klomp ekstra werk nie. Dit help onderwysers ook om minder oorweldig te voel.”
Nicolette prys die VVA se ingryping in klein dorpies en sê sulke besoeke wys vir plaaslike leerders dat hulle ook die vaardighede kan ontwikkel om eendag hul vlerke te kan sprei en hulself verder kan gaan toerus met tersiêre studies of ’n loopbaan buite die dorpsgrense.
Die onbetwisbare mag van woorde
Diana Ferrus en Anzil Kulsen, albei ook afkomstig uit klein gemeenskappe waar sosiomaatskaplike probleme en ’n gebrek aan toegang tot geleenthede uitdagings was, was ook deel van die span wat Loxton besoek het. Diana en Anzil is dit eens dat dit noodsaaklik is om jongmense met vaardighede toe te rus wat hulle in staat stel om hul eie weg te baan.
Diana was juis oorsee, aan’t studeer aan die Universiteit van Utrecht, toe sy haar bekende gedig, “Ek het gekom om jou huis toe te neem” geskryf het en só sentraal gestaan het in die repatriasie van Sarah Baartman se oorskot van Frankryk. Sy vertel dat die plaaslike skrywers wat deelgeneem het aan haar digkunswerkswinkel bewys lewer dat kreatiwiteit elke vierkante meter van ons land beslaan.
“Vir my was dit baie goed om te sien dat die mense op die platteland nie skroom om te skryf nie. Hulle wil graag hulle stem laat hoor. Hulle skryf oor dit rondom hulle en oor dit binne-in hulle – dit is wat ek waardeer het van my werkswinkel in Loxton,” sê Diana.
Anzil Kulsen gaan akkoord. Sy het ook ’n skryfwerkswinkel aangebied en het tydens ’n ander sessie waarvan sy deel was – ’n gespreksessie met Shireen Crotz, programorganiseerder by die VVA, wat aangebied is vir vroue en enkelmoeders van Loxton – besonder bewus geraak van gemeenskappe se seer, maar ook van hoe die geskrewe woord hier ’n bydrae kan lewer.
“Tydens die gesprek by die Olifantjie-kleuterskool het ek besef hoeveel stories in daardie gemeenskap opgesluit lê. Daar het natuurlik ’n groot deel van my hart in Loxton agtergebly met die skryfwerkswinkeldeelnemers wat hul leed en hul stories gedeel het.
“Die geskrewe woord en boeke het absoluut die vermoë om mense te help om deur hul eie seer te werk. Dit bied eerstens ontvlugting. Dit bied die geleentheid, die idee om met ’n karakter te kan identifiseer – jou te vereenselwig met die pyn en die leed wat ’n karakter deurmaak, die uitdagings wat karakters in boeke die hoof bied, en ’n gevoel van oorwinning as jy die boek toemaak en besef, al het alles nie so perfek uitgewerk vir die karakter soos sy graag sou wou hê dit moet nie, het sy gegroei in haar reis en sy het haarself as persoon sien groei en haarself sien ontwikkel tot ’n persoon wat vrede maak met die omstandighede en tog nie in ’n hoekie gaan sit en haarself bejammer nie. Boeke kan ’n mens in ’n groot mate versterk, ’n oorwinnaarsmentaliteit gee. Dit help ook om te ontsnap vanuit ’n mentaliteit van die slagoffer wees. Dan voel iemand eerder: My lewe is in my hande en ek is veronderstel om die uitkoms van my lewe te bewerkstellig,” sê Anzil.
’n Gemeenskap wat eienaarskap neem
Tydens die Taal- en Kultuurfees is daar benewens die boektrommeloorhandigings, kreatiewe skryfwerkswinkels en Doen en Leer-aanbiedings ook ’n VVA-leeskonferensie en -Ommietafelgesprek aangebied.
André Hendricks, aan die stuur van die ATKV se Kopskuif-program, het tydens ’n gemeenskapskuier die plaaslike mense met sy unieke aanslag vermaak en bemagtig om nie net in die onderwys ’n verskil te maak nie, maar ook eienaarskap te neem van die gemeenskap om dit te verbeter ter wille van almal wat daarin woon.
“Daar’s ’n Engelse uitdrukking wat lui, ‘It takes a village to raise a child’. Wat ons ook al doen as volwassenes, doen ons vir ons kinders se voortbestaan. Ek het gesien daar is soveel potensiaal in Loxton as elkeen net sy deel bydra tot die gemeenskap. As ons almal net wil saamwerk, hoe gelukkig sal ons wees,” sê André.
Hy was ook ’n paneellid tydens die Ommietafelgesprek wat op die laaste aand van die Taal- en Kultuurfees in Loxton aangebied is. Hierdie gesprek het gewentel om vroue se bydrae tot nasiebou, die seer wat boeke verstaan en die rol van vaderskap in ’n gemeenskap. Die ander lede van die paneel was Anzil en Diana en die gesprek is gelei deur Chareldine van der Merwe.
Om diamante te ontgin
Chareldine sê die besoek aan Loxton was nie net vir die gemeenskap voordelig nie, maar dat almal wat die besoek meegemaak het ook baat by sodanige uitreike.
“Dit wat ons na plekke en gemeenskappe neem, is behoeftegedrewe sodat dit iets is wat die gemeenskap, skole en ouers kan gebruik. As ons al weg is, moet hulle hierdie metodes en maniere van doen en tegnieke kan toepas met die kinders sodat ons die gemeenskappe kan agterlaat in ’n beter toestand en dat ons kan besef en voel dat ons wel ’n impak kom maak het in só ’n dorp. Behalwe vir Loxton was ons ook onlangs in Alexanderbaai, Port Nolloth en Steinkopf, almal klein dorpies in die Noord-Kaap. Wat hier vir my uitstaan, is dit is mense vir wie die Afrikaanse taal baie na aan die hart lê.
“Vir ons by die VVA en die ATKV is dit só belangrik om ook by hierdie mense uit te kom wat bitter min hulpbronne het, of nie toegang het tot materiaal wat geskik is om kinders te help met die uitdagings waarmee ons tans te doen het nie Die uitdagings is so groot en die behoeftes is enorm, maar die hulpbronne en die toegang tot materiaal is minimaal. Die manier waarop die mense ons ontvang, bevestig dit wat ons kom doen. Ons het saam met kollegas en vennote binne die ATKV gewerk, ons het verskillende projekte gaan aanbied.
“Groot leer- en leesuitdagings het uit uit die pandemie gespruit. Ons weet dat die onderwys die moeder is van alle beroepe. Dit is hoekom ons impak en die verskil wat ons gaan maak vir ons so belangrik is – ook om ons onderwysers te ondersteun en vir hulle die toerusting te gee wat hulle nodig het.”
Shireen is dit eens met Chareldine en sê dat die Loxton-besoek bevestig dat die werk wat gedoen word op vrugbare grond val.
“Baie van die afgeleë areas het nie altyd die nodige hulpbronne om die vaardighede en talente wat wel in só ’n gemeenskap is, te ontgin nie. Daar is ook nie altyd toegang tot lekker leesboeke of die nodige akademiese materiaal om kinders wat definitief baie ver in die lewe kan vorder, te help nie.
“Ek dink die Vriende van Afrikaans het regtig groot spore getrap in Loxton as ’n gemeenskap en spesifiek in die skool. Ons wil ’n lang verhouding bou met areas soos Loxton en ander Karoodorpies wat afgeleë is en wat hulp nodig het om die diamante in die gemeenskappe te ontgin,” sê Shireen.
Jaco Spies, ATKV-streeksbestuurder: Oos- en Noord-Kaap, was ook vir die week in Loxton en het net lof vir die inisiatiewe wat tydens die week aangepak is.
“My belewenis van die week en van Loxton is die aanhaling van Bouwer Bosch wat sê, “Liefde wen”. Loxton wen omdat liefde heers in daardie dorp en die mense wat omgee, is regtig geaktiveer om oor te gaan tot aksie. Dis ’n omgee vir mekaar,” sê Jaco.
Hy voeg by dat die ATKV trots is om in samewerking met die plaaslike kunsgalery ook ’n ATKV-tak in Loxton op die been te kon bring.
Die besoek laat ’n voetspoor
Nicolette sê in die drie of wat weke sedert die VVA se besoek, is die invloed daarvan reeds in die gemeenskap te sien.
“Ek kan nie begin om vir jou die dinge te verduidelik wat ná dit gekom het nie. Die invloed op mense se gevoel om te gesels, om te praat oor hulle seer, vir die eerste keer in ’n lang ruk. Die mense van Loxton het gevoel hier is iets vir húlle, iets wat met húlle harte praat, iets wat húlle storie aanraak. Hulle het gevoel, buiten dat hulle gekom het om na al die aanbieders te luister, is daar ook na húlle stories geluister. Dis ongelooflik spesiaal,” sê Nicolette.
Op die vooraand van die Vriende van Afrikaans se dertigste jaar is dit heuglik om te sien dat hierdie organisasie steeds ’n enorme verskil maak om by te dra tot dr. Johan Combrink, stigter van die VVA, se sentiment dat Afrikaanssprekendes self iets moet begin doen om die taal se behoud te verseker.
In ’n moderne samelewing waar gemeenskappe deurloop onder maatskaplike probleme en die onderwys lamgelê word deur uitdagings wat leer bemoeilik, is die VVA, Doen en Leer, Kopskuif en van ons taal se mees begaafde woordsmede trots om op hul manier die saadjie van vooruitgang in gemeenskappe te plant.
Om ’n bydrae te lewer tot die werksaamhede van die Vriende van Afrikaans, stuur gerus ’n e-pos na ChareldineV@vva.atkv.org.za of ShireenC@atkv.org.za.