VVA en Doen en Leer besoek Lae Lande
’n Afvaardiging van die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n afdeling van die ATKV, en die Doen en Leer taal-, lees- en wiskundeprogram, het onlangs ’n besoek aan Nederland en België gebring om onder meer bewusmaking te skep van die uitdagings van ongeletterdheid in Suid-Afrika en ondersteuning te werf vir projekte wat leer- en leesprobleme hanteer.
Die ATKV en die VVA beywer hulle om lees en leer te bevorder. Chareldine van der Merwe, projekbestuurder by die VVA, sê die ongeletterdheidsyfers in Suid-Afrika is skokkend. Volgens die navorsingsgroep Resep, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, is daar sowat 4,4 miljoen Suid-Afrikaners wat nie kan lees nie, 58% het geen toegang tot leesmateriaal nie en 50% van ouers het nog nooit ’n storie aan hul kinders voorgelees nie. Volgens die groep het meer as ’n derde van leerders wat met graad R begin, nie die nodige taal-, syfer- en motoriese vaardighede om hulle skoolgereed te maak nie. Chareldine sê die syfers illustreer die dringende behoefte aan die verbetering van geletterdheid en bevordering van lees in Suid-Afrikaanse gemeenskappe.
Chareldine sê die oogmerk van die besoek aan die Lae Lande was vierledig: (i) om individue en organisasies te ontmoet om geleenthede vir toekomstige samewerking ter ondersteuning van die bevordering van lees en Afrikaans as ’n taal in Suid-Afrika, te identifiseer en te bespreek, (ii) om die moontlikhede vir finansiële ondersteuning te identifiseer vir die verdere uitbreiding van die VVA se leesprojekte in Suid-Afrika, meer spesifiek die boektrommelprojek, (iii) om moontlike studie en navorsingsgeleenthede te ondersoek in die dissiplines van taal, kultuur en onderwys, (iv) en te kyk na opleiding ten opsigte van onderwysstelsels.
Die afvaardiging se propvol program het ’n besoek aan die Rijksuniversiteit en Hanzehogeschool in Groningen ingesluit om met dosente, onderwysstudente en vennote te gesels oor hul projekte en om netwerke uit te brei. In Utrecht het hulle die biblioteek besoek, asook die universiteit. Chareldine en Dokka Swart van die Doen en Leer-program het ook die Nationale Biblioteek en Kinderletterkundemuseum in Den Haag besoek en met die mense van Beter Afrikaans gesprek gevoer. In Amsterdam was die hoogtepunt die inligtingsessie by Stichting Lezen, wat Ingrid Glorie vir hulle gereël het. Hulle het ook die Zuid-Afrikahuis besoek, waar hulle met ope arms ontvang is. Hiér het die VVA, Doen en Leer en die Prince Albert Community Trust aanbiedings gedoen oor hoe lees in Suid-Afrika bevorder word. Hierná is die groep na die Antwerpen Universiteit in België waar Dokka met dosente en studente die wonders van die Doen en Leer-program gedeel het.
Die boektrommelprojek
Om ’n boek oop te slaan en te verstaan wat die woorde vir jou sê, is vir baie kinders maar ’n droom. Volgens die PIRLS-verslag (Progress in International Literacy Study) van 2021 kan 81% van Suid-Afrikaanse graad 4-leerders nie met begrip lees nie. ’n Derde van alle ouers vertel nooit vir hul kinders stories nie en nog 50% het nog nooit vir hul kinders voorgelees nie. As jy dink dat lees die boustene vir alle leer is, dui dié syfers op ’n leeskrisis. Die Vriende van Afrikaans se boektrommelprojek is ’n lig in die donker vir baie wat nie toegang tot boeke het nie. Die idee van die boektrommel het gekom van die VVA se vorige bestuurder, Amanda de Stadler, wat die eerste boektrommel in samewerking met die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in 2004 in die Paarl aan ’n paar skole oorhandig het. Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die VVA, sê lees is nie ’n luukse nie, maar ’n noodsaaklikheid. Volgens haar kan baie skole en mense nie boeke bekostig nie. Deur die boektrommelprojek bied die VVA die geleentheid dat kinders so vroeg as moontlik aan die wonder van woorde en lees blootgestel word. Sowat 60 boektrommels word aan verdienstelike skole en kleuterskole gestuur waar leerders geleer word hoe om met boeke om te gaan. Hulle kry ook die geleentheid om na voorlesings van stories te luister sodat hulle die waarde van boeke kan besef en ’n liefde vir lees kan ontwikkel. Die boektrommelprojek bied ook voorleeswerksessies vir ouers, opvoeders en ander belangstellendes aan.
Doen en Leer
Die Doen en Leer-program is ontwikkel deur wyle Rose Botha. Opvolgprogramme soos die begrips-, spoedlees- en leesgereedheidsprogramme is onderskeidelik deur Dokka Swart en Nicolette van den Heever – ook van Doen en Leer – ontwikkel. Die stories van die begripsleesprogram is geskryf deur Magdel Vorster. Die program is hoofsaaklik gemik op 10- tot 18-jariges en bestaan al 23 jaar. Dit het reeds 250 000 leerders bereik en word deur die departement van onderwys onderskryf, wat dit ook aanbeveel as ’n doeltreffende intervensieprogram vir jongmense. Die betrokke fasiliteerders ontvang formele opleiding en monitering om optimale ondersteuning aan leerders te bied. Dokka sê wanneer ’n kind sukkel om te lees, moet boeke ingespan word en nie tegnologie nie.
Die Doen en Leer-projek fokus op ondersteuning van vroeëkinderontwikkeling, skoolgereedheid, algemene ontwikkelingsvaardighede, geletterdheid en wiskundevaardighede. Dit is in drie tale beskikbaar – Afrikaans, Engels en isiXhosa – en leer kinders op ’n praktiese, aktiewe manier lees deur hul lywe in te span deur middel van sensoriese spel.
Thana de Clerk, projekbestuurder van die Prins Albert-gemeenskapstrust (PACT), sê die Doen en Leer-projek het al goeie vrugte in Prins Albert afgewerp. PACT wil graag ’n gesonder en veiliger omgewing skep deur die gemeenskappe van Prins Albert, Klaarstroom en Leeu-Gamka te ontwikkel en te bemagtig. Hulle doen dit onder andere aan die hand van die Doen en Leer-program en word deur die VVA met leeskonferensies, werksessies vir opvoeders, en finansies ondersteun.
Die bevordering van lees en geletterdheid is die sleutel tot Suid-Afrika se ontwikkeling. Danksy inisiatiewe soos dié van die VVA en Doen en Leer word daar reeds ’n positiewe impak op talle kinders in verskeie gemeenskappe se lewens gemaak. Chareldine sê dit bly egter noodsaaklik om volhoubare finansiële ondersteuning vir sulke projekte te verseker.