VVA-Leeskonferensie bemagtig onderwysers
“Elke kind wil lees, want ’n kind wat lees, is ’n bevoorregte kind,” verkondig die digter Antjie Krog.
Dit was die boodskap by die onlangse VVA-Leeskonferensie wat by die P.C. Petersen Primêr in Kylemore vir onderwysers en opvoeders aangebied is.
Die leeskonferensie is ’n belangrike inisiatief wat deel vorm van die ATKV en Adam Small-fees se skoleprogram in samewerking met die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust (PEKT) om onderwysers te motiveer en te ondersteun te midde van die vinnige tegnologiese vooruitgang.
Die fees het ook die werke van die ontslape Adam Small wat vanjaar 90 sou word, gevier. Dit het saam met Internasionale Moedertaaldag geval wat vanjaar gefokus het op die bemagtiging van die jeug met opvoerings en gedenklesings deur Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) onder die vaandel van “Adam Small en die jeug”.
Dié leeskonferensie se fokus was op voorgraadse leerders wat toegerus moet word om te lees.
Sowat 50 graad R-onderwysers het die middag afgestaan om na vier kundige sprekers te luister wat elk tematiese praatjies gelewer het oor leesontwikkeling by voorgraadse lesers. Hulle het ook die emosionele welstand van opvoeders, die belangrikheid van voorlees en die waarde van die onderwyser in die klaskamer bespreek.
Shireen Crotz, projekorganiseerder van die VVA, was die programleier. Die VVA is betrokke met lees, leesontwikkeling en -bevordering vir grondslagfase, voorskoolfase, intersepfase, en om ’n leesliefde by kinders aan te wakker.
“Ons kon die opvoeders toerus met nuttige wenke wat hulle in hulle klasse kan toepas, soos hoe opvoeders na hulself kan omsien, hoekom voorlees belangrik is, die boublokke wat in plek moet wees om die kind leesgereed te kry, vroeëkinderontwikkeling en hoe om die lekker terug te sit in klasgee,” sê Chareldine van der Merwe, projekorganiseerder van die VVA.
Wilna van Rooyen, ’n spesialis in vroeëkinderontwikkeling: Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), sê lees is geweldig belangrik vir die AON. Hulle verskaf ook gratis plakkate en hulpmiddels wat onderwysers kan gebruik tydens hulle aanbiedinge.
“Lees, skryf en spel is nie vaardighede wat aangeleer word soos om tou te spring nie. Hierdie vaardighede kan nie ontwikkel as al die ander aspekte nie ook ontwikkel word nie. Lees is dus nie natuurlik nie, dis aangeleer,” sê Wilna.
Dokka Swart, een van die medestigters en ontwikkelaars van die Doen en Leer-projek, het verduidelik dat kinders se breine en liggame met eenvoudige oefeninge geaktiveer kan word voordat hulle leer.
Chareldine het gesels oor die belangrikheid van voorlees.
“Sowat 5 miljoen mense in Suid-Afrika is ongeletterd, maar dit kan omgedraai word. Jy kan jou kind help om lief te wees vir lees deur tegnologie in te span, hulle na stories te laat luister, prente uit tydskrifte te gebruik, papbokse te wys, kinderstories te vertel en prentjies uit ou storieboeke te krip. Die liefde vir lees begin by sterk boublokke.
“Leesgereedheid verskil van kind tot kind en moenie afgedwing word nie. Wanneer ’n kind belangstelling toon in letters en sy of haar naam, is dit ’n goeie tyd om speel-speel te begin lees. Moenie te veel verwag of jou kind met ander vergelyk nie. Met geduld, aanmoediging en ’n positiewe benadering kan jy ’n liefde vir lees kweek wat ’n leeftyd hou,” vertel Chareldine.
Onderwysers het meelewend saam geluister na dr. Gillian Arendse, eksperimentele kernfisikus en motiveerder, se motiverende gesprek genaamd “Putting the ‘cool’ back into school!”, oftewel “Sit die ‘kool’ terug in skool!”
“Ons moet dink wat ons met tegnologie gaan doen en hoe jy jou lewe daardeur gaan navigeer. Die wêreld het verander. Tegnologie, die kinders en hulle ouers is anders. Die opvoeder moet mooi dink hoe hy of sy hulle opvoedingspad anders gaan navigeer.”
Volgens Gillian is dit is makliker om sterk jongmense groot te maak as om gebroke grootmense te herstel.
Op die dag is 21 boektrommels aan skole in die Stellenbosch-area uitgegee. Die skenking is moontlik gemaak deur die Het Jan Marais Nationale Fonds. Hulpmiddels is ook aan graad R-onderwysers verskaf. Tydens die skoleprogram is worsrolle aan die leerders uitgedeel en die opvoeders het ook ’n kospakkie ontvang.