VVA-Ommietafelgesprek: Afrikaanse musiek in die kollig
Die Vriende van Afrikaans, ’n afdeling van die ATKV, het op Donderdag 22 Augustus ’n Ommietafelgesprek in samewerking met Afrikaans Amptelik 100 aangebied waarin die vele aspekte rondom die bedryf van ’n musiekloopbaan in Afrikaans onder die vergrootglas gekom het. Die tema van die geleentheid was “Hoekom ’n musiekloopbaan in Afrikaans?”
Tydens hierdie gesprek, wat by die Middelvlei-wynlandgoed in Stellenbosch aangebied is, het die paneel, onder leiding van gespreksleier René Arendse, nasionale adjunkkoördineerder van Afrikaans Amptelik 100, plaasgevind. Die paneel was die bekroonde musikant en TV- en radio-aanbieder Frazer Barry, die sangeres, aktrise en ATKV-Crescendo-mentor Sarah Theron en die voormalige Crescendo-finalis en nou ook mentor, die uitvoerende kunstenaar Whaden Johannes.
Die gesprek is voorafgegaan deur Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur van die ATKV, wat agtergrond gegee het oor ATKV-Crescendo, die ATKV se musiekmentorskapprogram wat vanjaar sy 50ste bestaansjaar vier. Dié kompetisie dien vir opkomende Afrikaanse liedjieskrywers as ’n geleentheid om hul eie loopbane onder leiding van vaardige legendes in die bedryf te lanseer.
Shireen Crotz, programorganiseerder by die VVA, het die aand geopen deur te verduidelik hoe sulke geleenthede gesprekvoering en redenering stimuleer deur meningsvormers byeen te bring ten einde die omgewing en ons samelewing positief te beïnvloed.
Musiekwortels lê hiér
Elke lid van die gesprekspaneel kon ’n vinger lê op die oomblikke of gebeurtenisse wat aanleiding gegee het tot hul onderskeie musiekreise. Whaden Johannes het vertel hoe sy musiekpad tuis begin het en ook daartoe gelei het dat hy vandag musiek wil maak wat ’n mens “huis toe vat”, terwyl Sarah Theron die vol-sirkel-pad van student tot mentor beskryf het en Frazer Barry uitgwys het hoe emosie van altyd af inspeel op sy musikale aanslag. Toe hy deur Arendse oor rymklets se plek in die landskap van Afrikaanse musiek gepols is, het Barry, ook die aanbieder van die RSG-program Rymklets sonder grense, het die diskoers gerig deur die aandag te vestig op die Afrika-wortels van populêre musiek.
Hedendaagse popmusiek se oorsprong strek “oer-terug”, het Barry gesê, met blues, R&B, hip-hop, rymklets en baie ander populêre genres wat hul inslag gevind het in die klanke van die Afrika-kontinent. Hierdie genres is baie ouer as toe dit gewild en kommersieel geraak het en die voorstede bereik het. Wat vir hom opwindend is, het Barry gesê, is hoedat daar ter plaatse teruggekeer word na die wortels van hierdie musiek wanneer daar in inheemse tale en ook in Afrikaans daarmee gewoeker word. Hierdie tuiskoms verleen ’n eg Suid-Afrikaanse identiteit aan die musiek wat jong kunstenaars nou maak. Boonop lewer rymkletskunstenaars ’n enorme bydrae tot die Afrikaanse kreatiewe skryfkuns, het Barry gesê.
In Suid-Afrika onthou ons nog die grond, het Theron vertel. Musiek word nie deur een groepering besit nie en is tog eindelik almal s’n, maar terwyl appropriasie egter ’n brandpunt regoor die kunstewêreld is, is dit belangrik om nie sonder meer met ander se kallers te ploeg sonder om erkenning te gee aan diegene wat die genres gevestig het nie, het sy gesê. Gebalanseerde besoldiging vir alle Afrikaanse musikante bly tog ’n kwessie.
Johannes het uitgebrei oor die belangrikheid van inklusiewe ruimtes waarin die Afrikaanse liedkuns volledig gevier word en gewys op die belangrikheid van ’n platform soos ATKV-Crescendo, waar alle variëteite van Afrikaans en alle musiekgenres omarm en uitgenooi word om ’n bydrae te lewer tot die skatkis van Afrikaanse musiek.
Die prys van ’n suksesvolle musiekloopbaan
Johannes meen egter dat daar ten spyte van hierdie inklusiewe ruimtes nog verdeeldheid geskep word in die musiekbedryf as gevolg daarvan dat beleggers ontbreek en sekere kunstenaars voorrang geniet, waarop Arendse gewys het op die belangrike mag van verbruikers om kunstenaars te ondersteun en verskeidenheid aan te moedig.
Die winsgewendheid van ’n musiekloopbaan in Afrikaans het telkens tot openhartige gesprekke gelei waartydens die wanbalans van die bedryf met betrekking tot bruin Afrikaanse verteenwoordiging op die man af aangespreek is. Aldus Barry lê die sleutel daarin om die stories agter die musiek te ontgin en Afrikaanssprekendes wat nie noodwendig bekend is met die agtergrond en invloed van Afrika op die musiekgeskiedenis nie daaraan bekend te stel. Barry meen sy radioprogram het die opvoedingsdoel om kleur- en kultuurgrense te laat vervaag. Wanneer die taal die gemene deler is, kan bruin kunstenaars ook kommersieel voordeel trek en lugtyd kry wat vir hulle van groot waarde kan wees.
Die klank van Afrikaans
In die lig van die Afrikaans Amptelik 100-veldtog en die debat daarrondom wou Arendse by die lede van die paneel hoor hoe die veldtog ’n rol kan speel om Afrikaans in al sy vorme en variëteite, maar ook met betrekking tot musiek en die kunste te vier.
Johannes het gemeen die veldtog se sukses gaan afhang van gelyke stoele om die tafel vir Afrikaanses uit alle kringe en agtergronde, waaronder almal se Afrikaans ewe belangrik geag word.
Barry se beeld van Afrikaans as ’n tipe “potjiekos” bestaande uit die klei van die Khoi, die sout van die Atlantiese Oseaan en die speserye van die Ooste het by die gehoor byval gevind. Die taal is getemper deur die vuur van sy geskiedenis, het Barry gesê, maar dis hoe die “kos” “gekook” is.
Die omgang tussen verskillende wêrelde het as’t ware gelei tot die skepping van Afrikaans, maar uiteindelik moes die naelstring van dié jong taal geknip word en sy naam moes amptelik opgeskryf word – wat nie die aanvanklike hutspot-oorsprong van die taal ontken nie. Barry het daarop gewys dat die volgende 100 jaar van Afrikaans een is waarvan hy en sy 14-jarige kind deel is en waartydens sy stem beslis helder sal klink.
Om die silo’s waarbinne Afrikaanse kunstenaars dikwels werk, af te breek, is samewerking tussen kunstenaars van kardinale belang, omdat dit kunstenaars is wat met Jan Alleman praat.
Chareldine van der Merwe, projekhoof van die VVA, sê die organisasie se Ommietafelgesprekke het ’n paar jaar gelede ontstaan, toe die VVA gepoog het om vir hoërskoolleerders ’n platform te gee om oor Afrikaans en relevante onderwerpe te gesels.
’n Behoefte aan só ’n gespreksruimte, waar daar om ’n tafel gesels word oor aktuele kwessies, is identifiseer. Sedertdien word Ommietafelgesprekke – waarvan die VVA se Johan Combrink-gedenklesing ook deel vorm – in verskeie ruimtes en ook by feeste aangebied. Chareldine sê die VVA-Ommietafelgesprekke is vir die Vriende van Afrikaans belangrik.
“Die VVA probeer gewone mense en meningsvormers in die gemeenskap stimuleer om hulle omgewing te beïnvloed tot voordeel van ’n beter Suid-Afrika, omdat ons glo die burgerlike gemeenskap van die land moet sy deel doen. Elkeen van ons het ’n verantwoordelikheid teenoor die land, teenoor ons gemeenskappe en teenoor die ekonomie om van die land ’n sukses te help maak.”
Die aand is op luisterryke wyse afgesluit met optredes deur Whaden Johannes en Sarah Theron.