VVA-Ommietafelgesprek: Radio bou gemeenskappe
“Vandag is ons oor die 100 jaar, néé, amper 200 jaar op die verhoog,” het Frazer Barry skertsend opgemerk toe hy die ATKV en VVA se gewilde Ommietafelgesprek tydens die negende Pniël Erfenis- en Kultuurtrust (PEKT) Adam Small-fees open.
Op die verhoog het drie radiostemme gesit wat saam die evolusie van Suid-Afrikaanse radio verteenwoordig: Martelize Brink van RSG, Crystal Orderson, internasionale joernalis en vryskut, en Lynden Jafta van Paarl FM. Die veelkleurige musikant en mediapersoonlikheid Frazer Barry het die gesprek met vlymskerp vrae gelei onder die tema: “Hoe gaan dit by die Afrikaanse huis van radiostasies – plaaslik en internasionaal?”
Die gesprek het in die Pniël Congregational-kerk plaasgevind en temas soos die toekoms van radio, die invloed van sosiale media en kunsmatige intelligensie (KI), asook die verval van tradisionele joernalistiek, aangeraak.
“Dis heerlik en belangrik dat ons hierdie platforms het sodat die ATKV die taal en kultuur in ons land kan bevorder,” het Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die VVA, gesê.
Oor joernalistiek het Crystal dit reguit gestel: “Ek is steeds in joernalistiek. Dit is ’n bloedbad. Sosiale media het drukmedia gesmoor.”
Sy verwys na die druk waaronder tradisionele nuusmedia tans verkeer. Drukmedia krimp, redaksies word afgeskaal, en baie ervare joernaliste verloor hul werk.
Crystal, wat haar loopbaan by die SAUK begin het en oor drie dekades die Suid-Afrikaanse storie vertel het – van Mandela tot Mbeki en Zuma – werk vandag onder meer vir die Instituut vir Geregtigheid en Versoening en Al Jazeera se digitale platforms. Sy moes leer om stories vir Generasie Z en Generasie Alfa te vertel.
“Hulle konsentrasie is agt sekondes. Hoe maak jy sin van dertig jaar se demokrasie vir ’n gehoor wat kort, vinnige inhoud wil hê?” vra sy.
KI is reeds deel van die mediabedryf, en Lynden Jafta het daarop gewys dat dit deur mense gevoed word.
“Dit leer by ons,” het hy gesê. “Die vraag is: hoe gebruik jy dit?”
Vir hom lê die antwoord in strategie en deeglike beplanning. Paarl FM het ’n sterk aanlyn teenwoordigheid opgebou.
“Die laaste jaar het stroming met 40% toegeneem. Almal wil stroom, maar inhoud moet konsekwent interessant wees. Gee die kernboodskap binne agt sekondes vir die jonges, maar hê ook gespreksprogramme.”
Hy beklemtoon dat radio nie meer net ’n lineêre medium is nie. Dit leef aanlyn, op sosiale platforms, in kort snitte en langer gesprekke.
Martelize Brink het erken dat nuusvideo’s deesdae nie langer as 90 sekondes mag wees nie, tog waarsku sy teen oppervlakkigheid en verduidelik dat daar ’n balans tussen sterk inhoud en uitlokkende materiaal moet wees.
Terwyl joernalistiek onder druk is, bly radio verrassend stabiel.
“Meer as 70% van mense luister steeds radio. Die geheim is wel om aan te pas en by te bly. Daar is meer as 300 gemeenskapsradiostasies in Suid-Afrika. Ons gaan nie weg nie,” het Crystal uitgelig.
Radio het ook die voordeel van herhaling en onmiddellike bywerking. Dit kan stories ontwikkel en aanpas soos gebeure ontvou. ’n Groot vraag was hoe om die volgende generasie verlief te hou op Afrikaans.
“Jongmense raak groot in ’n wêreld waar meeste inhoud in Engels is. Ons moet meer Afrikaanse inhoud skep sodat hulle dit kan soek,” vertel Martelize en beklemtoon dat RSG vir enigiemand is wat Afrikaans verstaan.
“Ons gee nie om hoe jy Afrikaans praat nie. Ons soek die stories,” sê sy trots.
Hier sluit Lynden aan: “Ek worry nie watter Afrikaans jy praat nie. Jou Afrikaans en my Afrikaans maak ons Afrikaans.”
Paarl FM het bewys dat radio meer as net klank is. Lynden vertel hoe die stasie as platform gebruik is om meer as 15 000 pakkies sanitêre doekies by skole uit te deel. Daarna kon hulle ook baie higiëne sakkies vir seuns by skole aflaai. Hierdeur word radio ’n instrument vir gemeenskapsbou.
Die gesprek het ook die belangrikheid van verskillende stemme beklemtoon. Afrikaans moet inklusief wees, groei, nuwe woorde skep en aanpas.